Kan tekorte my vet maak?

237
voedingstowwe

Voedingstowwe speel ’n belangrike rol in ons metaboliese prosesse – van hormoonregulering tot energieverbranding en die herstel van jou selle.

Sonder die noodsaaklike vitamiene en minerale kan jou liggaam nie effektief funksioneer nie. ’n Tekort aan veral yster, vitamien D en magnesium kan, ten spyte van ’n streng oefen- en eetplan, jou gewigsverlies lelik in die wiele ry.

’n Gebrek aan yster, oftewel bloedarmoede, kan jou nie net moeg, emosioneel en depressief laat voel nie, maar dit dra ook by tot cravings. ’n Ystertekort word moeilik herstel sonder medikasie. Navorsing het getoon dat ysteraanvullings in anemiese vroue help met gewigsverlies.

Jy kan ook die probleem hanteer deur reg te eet. Maer vleis en lewer is van die beste natuurlike bronne van yster.

Vitamien D is belangrik vir gesonde bene en jou gesondheid. Dit beïnvloed ook metaboliese prosesse. Vroue wat gesond eet en oefen en vitamien D-aanvullings gebruik, verloor makliker gewig.

Alhoewel sommige voedselsoorte vitamien D bevat, is dit nie genoeg om die tekort te herstel nie. Sonblootstelling is ’n beter opsie, terwyl ’n aanvulling vinniger resultate sal lewer.

Magnesium is nodig vir meer as 600 prosesse in jou liggaam. ’n Tekort kan veral jou gemoed en slaapgehalte affekteer. Dit speel ook ’n rol in die proses wat insulien aan die sel bind en glukose inneem vir energie.

As jy insulienweerstandig is, is magnesium ’n belangrike nutriënt om te neem. Natuurlike bronne van magnesium sluit in pampoensaad, groen blaargroente, neute en vrugte, soos piesangs.

Laat jou yster-, vitamien D- en magnesiumvlak toets om te bepaal of jy wel ’n tekort het voordat jy aanvullings begin gebruik. 

Carina Fourie Carina Fourie, dieetkundige
Kliek hier vir meer videos en artikels deur Carina.