Kanker kom terug vir ’n tweede besoek – Tiana van Blerk (deel 3)

Hierdie blog wou ek nooit skryf nie en die ongelooflike realiteit van wat kanker werklik is, het my op hierdie bladsye absoluut vasgevang en emosioneel uitgeput…nee uitgemergel en meer as een keer in trane gehad.

Daar is geen manier wat ek ooit kan verstaan waardeur klein Tia van Blerk se ouers die afgelope jaar is nie en vandag salueer ek hulle vir hul uithouvermoë, dryfkrag, geloof en bo alles, hul liefde vir hul kind, hul baie siek kind.

Die verhaal van klein Tia het ‘n jaar terug begin en my blog genaamd Deel nommer 1 (Wanneer kanker aan jou voordeur klop) oor hierdie merkwaardige kind, dagboek die eerste inskrywing as September tot Oktober 2018. Die gedeelte wat hier volg is die derde segment in die verhaal en is grootliks gebaseer op die 2019 komponent van haar lewe. Soos voorheen beplan, sou hierdie aanvanklik die laaste blog oor Tia gewees het, maar kanker het ‘n ander plan gehad en ons sal bly terugvoer gee en rapporteer solank as wat André en Cerina my toelaat om dit namens hul te doen. Daar is so baie mense wat hierdie lees en vir klein Tia in gebed dra, moet asb. nie ophou nie en moet asb. nooit moed verloor in ‘n stryd wat soms te groot lyk vir ons mense. God is en sal altyd in beheer bly en mag nie een van ons dit ooit vergeet nie. Soos in al die blogs sal die leser in die gedeelte wat volg Cerina se oorspronklike gedagtes sien in die bladsye wat volg, soos vertolk deur myself.

Euforie van 2019 – 21 Februarie 2019

Ek en Tia kan bietjie Upington toe gaan, huistoe na ons mense toe, na ons beddens en speelgoed en die bekende gesigte van die wonderlike Kalahari mense.  Na 3 maande voel Upington soos die hemel en is dit die allerbeste gevoel op aarde, dis ‘n euforiese en hemelse gevoel. Net mense wat al baie lank van hul huis af weg was, sal weet en besef hoe voel dit werklik.  Die oomblik is vir my so oorweldigend dat ek in trane uitbars en die personeel van die gastehuis kom almal groet, niemand kan glo ons is weer tuis nie.

Operasie in Christiaan Barnard hospitaal in Kaapstad – 4 Maart 2019

Ons word opgeneem in die Christiaan Barnard hospitaal in die Moederstad vir die verwydering van Tia se primêre gewas by haar linker bynier.  Die gewas het gekrimp vanaf 9cm in deursnee tot amper die helfte daarvan. Die dokters is oortuig dat hul dit kan verwyder sonder enige verdere komplikasies. Dit bly egter vir ons geweldig traumaties, dit is ‘n groot operasie met baie onsekerheid wat daarmee gepaardgaan. Ons is egter vertroud met Prof M wat reeds die vorige operasie gedoen het op Tia en ons weet sy is in goeie hande. Die operasie duur langer as verwag en na vier ure begin ek en André voor die glasdeure na die teater rondhang. Daardie gevoel van angs en bekommernis is onafwendbaar en enige ouer wat al daardeur is, sal weet wat se absolute hel dit is. Minute voel soos ure en dit voel vir ons die tyd sal nooit verbygaan nie. Daar kom ‘n oproep deur van die narkotiseur om te laat weet dat alles goed afgeloop het en dat sy binnekort sal uitkom. Dit voel vir ons of die wêreld van ons skouers afval en die verligting ken geen perke nie. Na die operasie wil ek so graag net my klein lyfie vashou, maar ek kan en mag nie. Haar lyfie is oral vol masjiene en pype en mamma mag net op ‘n afstand staan en kyk. My hart wil breek en om jou kind so te sien is nie ‘n prentjie wat jy ooit jou grootste vyand moet toewens in die lewe nie. Die Prof verduidelik dat die operasie baie suksesvol was, dat die hele gewas verwyder is sonder dat daar enige skade agter gelaat is en dat dit ook nie nodig was om haar nier te verwyder nie. Ons is baie dankbaar en geweldig nederig en net alle dank aan God.

Die gevangenis van ‘n Hospitaal – 7 Maart 2019

Die hospitaal begin my vasdruk en dit voel soos ‘n gevangenis en alhoewel die Christiaan Barnard hospitaal baie glasvensters het, voel ek steeds benoud en angstig. Ek stap na die vensterbank waar ek altyd gaan sit om te kyk hoe die vragskepe in en uit die hawe gaan en ek sien die mooiste volmaakte reënboog. Dit is soos ‘n bevestiging vir my dat alles nie verlore is nie, dat daar altyd ‘n belofte is en dat hierdie fase ook sal verbygaan. Dankie Here, dankie vir hierdie mooi belofte van U dat ek kan weet alles gaan ‘ok’ wees! Ek het dit so nodig en hierdie week was vir my persoonlik ‘n baie, baie slegte week. Ek bly naar, ek kan nie slaap nie en die duiwel het ons sommer net met nog baie aanvalle geteister op ander gebiede in ons lewe ook. Ek het sommer net bevestiging van hoop nodig gehad en hier vind ek dit in ‘n glasvenster in Kaapstad.

Ontslag en rus – 9 Maart 2019

Tia word ontslaan en ons is meer as reg om ‘n slag bietjie na ons tydelike Kaapse huis te gaan en normaliteit en privaatheid te ervaar. By die huis gekom druk Tia eers al haar poppe een vir een en dan al haar sagte bere vas. Sy is verby verlig om uit die hospitaalbed te wees en sy straal van geluk so groot soos sy is.

Mamma se liggaam is vreemd – 10 Maart 2019

Mamma vermoed iets is met haar eie liggaam aan die gebeur en ek weet sommer net hier is fout.  Ek doen ‘n huis swangerskaptoets en sowaar, twee strepies. Nee, dit is nie moontlik nie, nee dit kan nie wees nie, dit moet nie wees nie! Ek is geskok, hartseer, deurmekaar, alles op een slag en my emosies hardloop met my in rigtings wat ek nie eers geweet het bestaan nie. Ek kan nie nou swanger wees nie Here, my kind het my nodig, sy is my eerste prioriteit, ek moet haar eers gesond kry. En nou dit, Here, wat is U plan met dit? 

Tia kry ‘n boetie of sussie– 15 Maart 2019

Om my eie toets te staaf, doen ons ‘n sonar en sowaar, daar is die hartkloppie, daar het nuwe lewe in my begin. Dis tyd om dit te verwerk, vrede te maak en die wonderwerk daarvan raak te sien en nederig dankbaar te raak. Ek kom tot die besef dat lewe uit God se hand kom en dat dit Sy wil is, Sy werk en ek moet vertrou dat alles sal uitwerk.

Upington, Kalahari en Kgalagadi Park – 18 Maart 2019

Ek en Tia word toegelaat om vir ‘n kort tydjie terug te gaan Upington toe, huis toe en ons kan weer vir pappa sien. Tia sien vir pappa na twee weke en sy kan nie ophou om hom te druk en soen nie. Ons het grasie gekry van 2 weke alvorens ons moet teruggaan Kaap toe vir nog behandeling en ons besluit om die beste van hierdie tyd te maak. Ons probeer om soveel as moontlik met Tia te doen om te vergeet van al die sleg, al die seer en al die naalde, dokters, buise en dinge wat haar normaliteit geword het. Ons gaan Kgalagadi Park toe en Tia is in haar element, sy straal van vrede en geluk. Sy is op haar gelukkigste as ons haar net veld, sand en diere gee en hierdie tydjie is vir ons so ontsettend kosbaar saam met haar.

Vinnige Kaapse draai – 4 April 2019

Ons is terug in die Kaap vir ‘n kort chemo sessie en alles verloop vinnig en sonder enige oorslaap in die hospitaal. Ons is in der waarheid binne twee dae terug in Upington.

Paasnaweek – 17 April 2019

Dit is net voor die Paasnaweek en ons is reg om Kalahari toe te gaan, maar ons moet eers volbloed tellings laat doen voor ons mag gaan. Sowaar, Tia kort bloed en plaatjies en ons spandeer gou ‘n aand in die hospitaal en ons kry die groen lig om ons kind Kalahari toe te neem. Ons spandeer drie dae in ‘n tentekamp in die veld en Tia is absoluut in haar element. Sy speel in die sand tot laat saans en bedags ry ons rond en wys vir haar die diere. Ons beleef ‘n wonderlike tyd en met die wete dat nog net een chemo sessie oor is, is ons almal se gemoed sommer net positief en wonderlik.

Laaste Chemo – 30 April 2019

Tia kry haar laaste rondte chemo in die Kaap en dit is weer twee dae in die hospitaal. Sy moet eers plaatjie oortapping kry en sy ontwikkel weer ‘n geweldige allergiese reaksie daarvoor. “Never a dull moment” op hierdie kankerpad wat ons stap nie!

Die lui van die kankerklok – 2 Mei 2019

Vir enige mens wat al deur kankerbehandeling is, sal weet dat die laaste dag van chemo ‘n spesiale dag is. Tia kry na haar behandeling voltooi is, die geleentheid om die klok te lui en dit is vir ons ‘n emosionele en diep oomblik. Ek sal dit vir altyd onthou, daardie oomblik toe sy die klok lui wat sê: “Ek is klaar met chemo, die gif stop nou hier”. Ek sê vir haar: “Jy is klaar met chemo my liefie, vir die res van jou lewe.” Mag jy nooit ooit weer deur hierdie hel gaan nie en die emosies oorweldig ons totaal en al.

Terug waar ons begin het – 3 Mei 2019

Ons besluit om, voor ons teruggaan Upington toe, weer by die akwarium aan te gaan. Ons het dit besoek toe dit alles begin het en dit is en bly een van haar gunsteling plekke op aarde. Sy hardloop haarself uitasem om al die vissies te sien en natuurlik die pikkewyne. Haar gunsteling bly die haaie, sy sing elke keer vir ‘Baby Shark’ as ons voor die groot haai tenk staan en dit is ‘n kosbare oomblik in ons lewens.

Weer terug Kaap toe vir ‘n MRI – 24 tot 31 Mei 2019

Ons gaan weer terug Kaap toe vir ‘n MRI skandering en die begin van die bestraling wat soos ‘n berg voor ons lê. Ons eerste stap van die bestraling begin by Grootte Schuur hospitaal vir die opmetings.  Ons ontmoet die radioloog en sy deel ons mee dat die MRI wys daar is moontlik nog iets agter Tia se linker ogie en ‘n biopsie moet gedoen word.  Indien dit nog kanker is, sal ons weer moet begin met chemo. Hierdie nuus slaan ons bitter hard en ons is in der waarheid absoluut teen die grond. Ek pleit en smeek, nee Here asseblief nie nog ‘n keer nie! Ek het vir my dogtertjie belowe sy is klaar met chemo vir die res van haar lewe. Hoe op aarde gaan ek dit nou verduidelik en hoe gaan sy dit verstaan? Die biopsie word op die einde gedoen by die Rooikruis Kinderhospitaal en nou is dit vir wag, bid, smeek en hoop op uitslae wat nie negatief is nie.

‘n 40ste Verjaarsdag geskenk soos min – 7 Junie 2019

My 40ste verjaardag is om die minste te sê maar droewig en die onsekerheid en gewag maak dat ons almal deur ‘n slegte tyd gaan. Die dag na my 40ste kry ons ‘n oproep vanaf Dr. A. Die biopsie wys dat dit beskadigde weefsel is agter Tia se linkerogie, daar is geen kanker nie en al is dit ‘n dag na mamma se 40ste verjaardag, is dit nooit te laat vir die beste nuus ooit nie! Ons is oorstelp van vreugde en dit het sommer ekstra woema en moed vir die bestraling wat nou voorlê gegee en ons sien dit absoluut net as ‘n voorkomende proses.

Bestraling – 1 tot 20 Julie 2019

Ons begin met bestraling en vir die volgende drie weke moet ons elke weeksdag Grootte Schuur Hospitaal toe gaan vir ‘n vinnige bestralingsessie.  Tia word egter elke keer gesedeer aangesien sy nie mag beweeg nie en die bestraling fokus slegs rondom haar buik en hulle het besluit om nie by haar ogie te bestraal nie. Op 20 Julie 2019 is ons op pad huis toe en ons is klaar met die bestraling en die hospitale en ons dank ons Hemelse Vader vir hierdie wonderlike oomblik wat aanbreek.

Voos na Namibië – 30 Julie 2019

Ons kuier in Namibië op die plaas en soek rus en vrede. Ons is om die waarheid te sê voos, emosioneel totaal gedreineer en ons soek net rus, stilte en ‘n bietjie normaliteit. Alles wat gebeur het voel onwerklik en dit vat ‘n groot tol op ‘n mens se liggaam en siel. Ons sukkel egter met Tia wat nie wil eet nie, sy slaap weer sleg en sy het ‘n uitslag agter haar beentjies. Die vrae en die bekommernisse maak ons mal en ons weet nie of dit nou die na-draai van die bestraling is, is sy net moeilik tans nie of wat is aan die gang nie? Ag Here, gaan dit nooit ophou nie?

Diepe bekommernis en angs – 30 tot 31 Augustus 2019

Ons doen ‘n opvolg besoek by Dr. A vir antwoorde op ons kind en ons is diep bekommerd oor Tia se simptome. Die afgelope tyd het sy ‘n aaklige tandvleis infeksie gehad, sy eet sleg, slaap sleg en kla konstant van pyn. Terugflitse van ‘n jaar terug maak my mal en die angs en die bekommernis neem my oor. Haar linkerogie lyk of hy begin hang. Terugvoer van Dr. A is egter dat sy die Rota virus gehad het en ‘n ligte sinus infeksie het. Ons hoop en glo die simptome is daaraan toe te skryf en Dr A sê ons moet die ogie en die ander simptome dophou. Indien dit nie verbeter nie, moet ons verdere toetse doen.

Op pad terug vanaf Kaapstad na Upington bekyk ek Tia se ogie van bo af terwyl sy op my skoot lê en slaap. Ek merk dat die ogie vorentoe bult en ek besef my ergste vrees is besig om ‘n realiteit te word! Ek sê vir André onmiddellik dat ons so gou as moontlik ‘n skandering moet laat doen en ek is vas oortuig dat iets haar ogie van agter na voor druk.

Na ‘n nuwe stad vir antwoorde – 2 tot 3 September 2019

Eerste ding Maandagoggend begin ek uitvind om so gou as moontlik ‘n MRI skandering kan laat doen. Kimberley is die naaste wat ons kan help, maar ons besluit op Bloemfontein omdat ons ‘n ondersteuningsnetwerk daar het wat nie tans in Kimberley bestaan nie. Ons is nog onseker waarmee ons te doen het, maar ons voel sterk om dit nie net te los nie. Met my wat ver swanger is en die feit dat ons sopas van die Kaap af teruggekom het, sien ons net nie weer kans vir die langpad terug soontoe nie. Ons gaan in Bloemfontein na die Mediclinic vir die MRI skandering. Dit voel soos ‘n nagmerrie wat weer van vooraf begin en ek kan dit vir geen mens verduidelik nie. Die gewag en sit en nogmaals wag maak mens op en put jou emosioneel uit dat daar nie veel van jou oorbly nie. Die verwysende pediater kom na ons en ons staal ons vir die terugvoer.  Die MRI wys dat twee gewasse agter Tia se linkerogie teenwoordig is. Ek is geskok, maar in ‘n mate het ek dit verwag, nee ek is kwaad of is ek teleurgesteld, wat is ek, wat ervaar ek?  Ek weet wat dit beteken en ek ken die pad vorentoe. Dit beteken chemo, bloedoortappings, pyn, ‘n lewe van afsondering, maskers, marteling vir hierdie kleine lyfie van ons. Ek het haar belowe sy is klaar met chemo, nee Here asseblief nie weer nie!

Ons kan jou kind net gemaklik maak en die pyn verlig – 4 September 2019

Ek en Tia het oornag in die hospitaal en dit voel al te bekend. Vroegoggend kry ons ‘n besoek van Dr. Jan Du Plessis, ‘n onkoloog en dit is ‘n besoek wat ek nooit ooit sal vergeet nie en hierdie was ‘n lewensveranderende oomblik vir my! Hy vra my of ek weet wat die prognose is vir Neuroblastoom fase 4. Ek antwoord hom ja, natuurlik, hoe kan ek nie weet nie. Ek het ure op die internet spandeer al vandat Tia gediagnoseer is om te verstaan waarmee ons te doen het. Die prognose is 0% sê hy. Sy woorde sny deur my: “Al wat ek vir jou kind kan doen is om die simptome te probeer beheer en haar pyn so min as moontlik te maak – ons kan jul kind so gemaklik moontlik maak, maar ons opsies is klaar ”. Dit sink in, stadig maar seker tref die woorde. Dit is soos om ‘n fliek te kyk en jy sien die ongeluk in stadige prente gebeur, jy sien dit kom en dan tref dit jou. Dit tref aanvanklik sonder gevoel of emosie en dan slaan dit jou – nooit het ek gedink ek sal die woorde hoor nie. Ek begin huil, hartverskeurend, onophoudelik. Ek het die trane probeer terughou, want Tia sit reg langs my, maar ek kan nie meer nie. “Mamma is jy ok, wil jy ‘n tissue hê?” vra sy vir my.  Ek gaan badkamer toe vir ‘n paar minute en probeer beheer kry oor myself, maar ek sukkel. Ek weier om dit te aanvaar. Here lewe en dood is in U hand, ek gee nie om wat statistiek sê nie en U het die laaste woord op aarde – nie mense nie. My kind gaan lewe! Ek vra Dr. Jan vir ‘n plan, daar moet iets wees wat ons kan doen, ek kan nie net nou my kind gemaklik maak en wag vir die einde nie. Ons sal en moet soek oral oor die wêreld en daar moet tog “survivors” wees van hierdie siekte, al is dit oorsee.  Ek lees aanmekaar daarvan en as ons nie ‘n plan in SA kry nie, dan vat ek haar oorsee waar daar ‘n plan is. My kind gaan lewe, klaar! Dr Jan het ‘n vriend wat sy doktoraal doen in Neuroblastoom, hy is tans in België gebaseer en hy sal hom kontak en vir ons uitvind van moontlikhede.

Hoe dra ek hierdie nuus oor aan my man?  Ek kan sien die afgelope twee dae dat hy diep swaarkry. Enige mens kan net soveel vat en ek vra die dokter om die nuus vir André oor te dra wat ek nie nou kan nie. 

Later die dag kry Tia haar derde beenmurg biopsie vandat sy die eerste keer gediagnoseer is. Dr. vermoed dat die kanker reeds versprei het tot in haar beenmurg en die biopsie bevestig dit later die dag. Weereens ekstensief versprei en ek kan nie glo dat hierdie monster so aggressief is nie. Dit is ‘n vieslike, aaklige kanker wat ons oorweldig en uitmergel. Kanker put jou uit tot op die laaste gebeente en jy voel soveel dae net moedeloos en hulpeloos. Hierdie nuus op die 4de September 2019 breek ons in stukke.

Kans op hoop – 5 September 2019

Dr. Jan laat weet dat daar ‘n baie goeie opsie vir ons deurgekom het. Dit is ‘n behandelingsplan wat hul al oorsee getoets het met 15% van die kinders wat na die behandeling skoon was. Dit is vir ons baie goeie nuus en ons klou vas aan die 15% – dit is beter as om te hoor 0%. Die beste is natuurlik dat al die middels in Suid Afrika beskikbaar is, sodra die plan goedgekeur is, kan ons begin daarmee.

Die volgende paar dae is absolute, absolute hel. Ons kan sien hoe Tia elke dag meer agteruitgaan. Haar ogie lyk of hy gaan uitpeul, sy wil nie eet nie, sy gil van die pyn en ek merk dat haar buik geweldig geswel is. Die frustrasie is erg, dit is regtig hel op aarde. Ons is gespanne, bekommerd en moedeloos en dit vat die laaste energie wat ons nog gehad het. Gelukkig help die morfien wat hul haar toedien om die pyn beter te beheer, maar dit is swaar, bitter swaar.

Totale aanval en verspreiding – 11 September 2019

MIBG skandering bring ons grootste vrese vorendag en dit wys die ekstensiewe verspreiding van die kanker deur Tiana se liggaampie. Haar lewer is ook al aangetas, daarom dat haar buik so gewel is en haar pyn so onuithoudbaar is. Om jou kind in pyn te sien laat jou magteloos, moedeloos en laat  jou met baie vrae wat se antwoorde nooit kom nie. Ek besef dat ons nie hierdie monster weer ‘n kans kan gee nie. Sodra ons klaar is met die chemo, moet ons volgende plan in plek wees. Dit maak nie saak waarheen, waar op aarde nie, ons moet en gaan dit net eenvoudig baklei met alles wat in ons is.

Die volgende rondte chemo – 12 September 2019

Ons begin met die eerste dag van ‘n 8 dae chemo siklus en is hierdie keer so ontsettend bly dit kan begin. Ons kan nie wag dat sy verligting moet kry nie. Teen dié tyd lyk Tia baie sleg en haar gesiggie het weer vervorm. Ons deel dit met niemand nie en hou hierdie geheim diep opgesluit. Hoe minder die familie weet, hoe beter op hierdie stadium. Ek en André dra hierdie geheim eers saam met ons, voor ons almal in ‘n totale emosionele warboel van emosies dompel. Jonty en Cammy begin met eksamen en ons dink al wat ‘n verskoning is uit dat hul nie hospitaal toe moet of kan kom nie. Hul kan nie nou al weet wat aangaan en haar so sien nie, dit sal hulle totaal ontstel.

Die eerste tekens van vordering en ‘n glimlag – 16 September 2019

Tia toon die eerste teken van vordering en lag vir die eerste keer in ‘n baie, baie lang tyd. Wanneer jou kind nie meer lag nie en niks haar laat beter voel nie, is iets so simpel soos ‘n laggie die allermooiste klank op die hele aarde. Sy eet ook beter, haar lewer raak aansienlik kleiner en haar hele gemoed is sommer net beter. ‘n Groot verbetering van waar ons begin het vier dae gelede.

Die goedheid van mense rondom ons – 17 September 2019

Tia kry ‘n groot verrassing: Marlene van die Ster Projek het gereël vir ‘n Paw Patrol bederf. ‘n Lewende lywe Marshall kom verras haar met sakke vol geskenke en ballonne in die Hospitaal. Sy is aanvanklik in pyn, maar dit is sommer gou skoon vergete en ons kind straal ‘n slag van geluk van al die aandag en liefde. Ek ontmoet vir Lucille wat saam met haar man verantwoordelik is vir al die bederf. Sy gee vir my ‘n boek met die mooiste boodskap voorin en ek besef weereens dat die lewe soms op vreemde maniere werk. Die dag wat ek en André vir Tia gewag het tydens haar MRI, het Lucille langs ons gesit met haar seun wat ‘n sportbesering opgedoen het. Sy het gehoor hoekom ons daar is terwyl ons met die Suster gesels het en toe Marlene haar kontak en vra of sy wil betrokke raak, het sy onmiddellik besef dat dit ons was en JA geantwoord.

Tydelike ontslag – 19 September 2019

Ons word ontslaan uit die hospitaal maar ons moet naby Bloemfontein bly en mag met ander woorde nie terug Upington toe nie. Ek is op hierdie stadium hoog swanger en kleintjie se datum kom vinnig nader. Dr. wil ons nog te alle tye naby die hospitaal hou.  ‘n Vriendin het vir ons ‘n huis gereël in Oubos, wat ‘n lekkerte en massiewe bederf. Al wat jy hoor is die voëltjies en die kameelperde en bokke kom wei sommer langs die huis, ‘n droom vir Tia en sy is in haar element. Sy sterk elke dag bietjie beter aan en ons tel ons koppe stadig weer op. Die pyn raak al hoe minder en sy begin stelselmatig weer om te loop, eers met ons hulp, dan later klein treetjies op haar tone en dan heeltemal platvoet. As jou kind verloor om te loop en sy kry dit weer alleen reg, dan is sulke dinge die allergrootste geskenk waarvoor ons kan vra.

Terug Hospitaal toe – 26 September 2019

Ons doen ‘n volbloedtelling, maar Tia se tellings is so laag dat ons weer ‘n bloed en plaatjie oortapping moet doen. Hopelik kan ons môre Upington toe gaan en ons wil baie graag ry alvorens ek nie meer mag nie. Ons kleintjie se datum is die 8ste Oktober 2019 en ons wil so graag by die huis wees vir die geboorte.  Ons het by dit alles nog ‘n Kruger familie saamtrek by ons huis in Upington ook. Daar is tente opgesit en almal kom van reg oor die land en Namibië vir hierdie geleentheid. Hul begin vandag al kuier, net ons wat nog kort, maar ons wil ook nie kanse vat nie en Tia se gesondheid is en bly eerste prioriteit.

Terug Upington toe – 27 September 2019

Ons word ontslaan en ons harte jubel van dankbaarheid. Ons gaan huistoe na amper ‘n maand weg van die huis en ons kan nie wag om weer in ons eie omgewing te wees nie. Ons kom na sewe by die huis die aand en dis ‘n joligheid en ‘n wonderlike viering van die lewe en liefde, genade en vrede. Die hele familie is daar, maar ons is moeg, fisies en emosioneel en die swangerskap tap my ook nog verder. Dit is egter so lekker om almal te sien en Tia kan nou heeltemal ontspan, geen seermaak, net liefde en samesyn tussen mense wat sy ontsettend lief voor is en vir haar lief is.

Slotsom Blog nr 3:

Hierdie familie baklei ‘n siekte met alles wat hul het en u as leser word gevra om nie vir ‘n oomblik of ‘n dag op te hou bid vir hierdie mense wat u nou meer nodig het as ooit nie. Ons het feitlik ‘n jaar terug ‘n fonds vir klein Tia gestig en die besonderhede daarvan is beskikbaar op die Warrior Tia Facebook bladsy. U word versoek om weer, sou u voel dat dit iets is wat tot u spreek, ‘n donasie te maak. Terwyl ek hierdie skryf is klein Tia se boetie, Drehan van Blerk op die 8ste Oktober 2019 gebore en gaan dit goed met die hele familie. Hulle is weer terug in Bloemfontein en besig met die volgende rondte Chemo tans. Sodra jy as leser hierdie klaar gelees het, mag jy in jou oggend, jou middag en jou aand hierdie familie in jou gebede dra en saam op ‘n geestelike vlak baklei vir daardie 15% waarvoor Dr. Jan du Plessis nou voor mik. Stry die geloofstryd saam met ons en mag ons nie vir ‘n oomblik twyfel aan ons Almagtige Vader en die wonderwerke wat ons glo Hy kan en mag bring nie.

Vorige blogs:
Deel 1
Deel 2

Vorige artikelHê ‘n verwagting (Pinkster)
Volgende artikelSintuie
Blogger - Len Fourie
Len matrikuleer in 1992 te Hoërskool Upington en behaal 5 jaar daarna sy Magistergraad in Stads-en Streeksbeplanning (1997) aan die Universiteit van die Vrystaat. Len begin reeds in 1995 as student werk by Macroplan Stads-en Streeksbeplanners in Upington (dieselfde Firma waar hy permanent aansluit as Stadsbeplanner in opleiding einde 1997), na voltooiing van sy M-Graad studies. Len is bevoorreg genoeg om in 2006 Hoof Stadsbeplanner te word en die Firma Macroplan se bestuur oor te neem. Len het ‘n absolute passie vir sy Hemelse Vader wat hom die gawe gegee het om sy talente in die lewe uit te leef, ‘n groot liefde vir sy geboortedorp Upington, sy gemeenskap en die Noord-Kaap Provinsie in geheel. Die aspekte wat Len se hart vinnig laat klop sluit in enige vorm van toer, verkenning van ‘n nuwe plek, nuwe land, hetsy in Afrika of enige land oorsee, die neem van amateur foto’s en veral die bestudering van die klimaat. Die lewe bid soveel skoonheid en hy wil dit vasvang en dit met mense deel.