Kanker trek in jou huis in – Tiana van Blerk (deel 2)

Deel 1 ››

”Ek staan voor die glasvenster en kyk uit na Tafelberg en die besige M5 hoofpad, na die gejaag van die wêreld rondom my en mense wat oral heen oppad is na plekke en afsprake en….’n normale lewe. Hoe smag ek nie na normaliteit nie, net na ‘n aks daarvan, net na dit wat ander tans so as vanselfsprekend aanvaar en heel moontlik waaroor sommige vandag ondankbaar is. Ek word in der waarheid kwaad by die blote gedagte daaraan dat mense die lewe as vanselfsprekend aanvaar en ons…..ons baklei met alles wat ons het teen ‘n kanker wat so groot soos Tafelberg vir my lyk. Hier waar ek nou staan is die enigste plek in hierdie tydelike tronk van die Hospitaal waarin ons onsself bevind, wat my gemoed lig en hierdie Kalahari-kind positief en beter laat voel. Ek voel alleen, so alleen soos ek nog nooit in my lewe gevoel het nie. Die gevoel is kontrasterend en daar is letterlik duisende mense wat ons ondersteun, boodskappe stuur en vir ons bid, maar ek voel stoksielalleen vandag. Die realiteit van wat ons getref het, die kanker waarteen ons baklei en die pad vorentoe….alles is net te veel en te groot en ‘n te groot uitdaging. Ek besef vir die eerste keer hier waar ek staan, dat ek en Andre hierdie siekte namens ons kind moet baklei en dat dit op die einde net ons is wat hierdeur kan gaan, elke inspuiting, elke chemosessie, elke bloedplaatjie oortapping, elke nag in die hospitaal, elke liewe sekonde van dit wat voorlê….dis ons, Tia en God. Ag Here, gee asb. vir ons ‘n wonderwerk…..ek smeek dit vandag.”  Die gedagtes van Cerina van Blerk.

Die verhaal van Tiana van Blerk en haar kankerdiagnose met Neuroblastoom Fase 4, het so ontsettend baie mense aangeraak en vragte mense het versoek dat deel 2 spoedig uitgebring moet word. Die tyd moet egter reg wees om so ‘n verhaal te deel en die tyd het aangebreek daarvoor. Vir die van jul wat nog nie deel 1 gelees het nie, gaan doen jouself ‘n guns om dit eers te lees alvorens jy gedeelte 2 lees. Deel 1 eindig op Donderdag 22 November 2018 en klein Tia het pas haar eerste chemo ondergaan. Deel 2 sal in dieselfde dagboekvorm verwoord word en meeste hiervan is Tia se mamma, Cerina van Blerk se ervarings en alles wat sy neergepen het gedurende die tydperk vanaf einde November 2018 tot einde Januarie 2019.

Die nuwe normaal, stilte en verbasing – tydperk na eerste Chemo

Met ons eerste chemo agter die rug, gaan dit verbasend goed. Ons het baie erger verwag en ons sien elke dag hoe ons klein lyfie se toestand verander en verbeter. Ons word geskuif na ‘n groter kamer met ‘n venster en vir ons Kalahari kinders is dit ‘n groot verbetering om te skuif vanaf ‘n kamer sonder enige vensters of vars lug. Alhoewel dit uitkyk op ‘n baie besige M5 hoofweg, is daar darem ‘n stukkie gholfbaan ook in sig en dit doen ons gemoed baie goed. In die stilte verkyk ek my aan die massas motors wat verby ry sonder ophou en ek wonder by myself waarheen is almal oppad en waarheen haas almal hul so? As jy soos ons stoei met ‘n siekte wat die dood van jou kind kan beteken, dan sien jy dinge in totaal ‘n ander perspektief. Ek voel in der waarheid alleen en alhoewel so ontsettend baie mense vir ons omgee, boodskappe stuur en jou ondersteun, kan ek nie help om te besef hierdie geveg is net ons geveg nie.  Ons voer daagliks hierdie oorlog teen die groot K, ‘n oorlog wat ek besef nie net teen vlees en bloed is nie. Tia is te klein om haar oorlog te voer, so pappa en mamma doen dit namens haar. Hoeveel keer het ek nie al myself afgevra, hoekom is dit nie eerder ek nie? Hoekom moet hierdie klein dogtertjie wat nog nooit gesondig het in haar lewe nie, so ‘n hel deurmaak? Ek kan aan ‘n duisend redes dink hoekom dit eerder ek moes wees, maar dit is nie!

Plaatjieoortapping – 26 November 2018

Die dokter versoek dat ‘n vol bloedtelling gedoen word en die uitslae wys dat Tia ‘n plaatjieoortapping moet kry. Teen die tyd het ons eintlik al gedink dat ons ‘n bietjie uit die hospitaal kan kom, maar dit is nie ons realiteit nie. Enige iemand wat al vir ‘n lang tydperk in ‘n hospitaal was, sal weet dat dit uitmergelend kan raak. Die oortapping verloop goed in vergelyking met die vorige ene waarop sy ‘n allergiese reaksie gekry het aangesien sy O-Negatief is. Plaatjies vir hierdie bloedgroep is geweldig skaars en ek wil nie eers dink hoe aaklig dit vir haar moet wees nie. Dit lyk soos gaar gelatien wat in haar getap word, maar ons kyk verby dit en besef waarvoor dit is, dit gee lewe. Dokter is bang sy begin bloei en met ‘n baie lae plaatjietelling soos Tia s’n kan jy inwendig of deur jou neus begin bloei en dan het jy erge moeilikheid.

Angs en histeriese mamma – 27 November 2018

Tia se wonde op haar ruggie waar die beenmurgbiopsie gedoen is, word skoongemaak en ons word ontslaan om na ons tydelike huis in die Strand te gaan.  Ons is so opgewonde en kan nie wag om net effens normaal te probeer wees nie. By die nuwe tuiste aangekom, wil Tia ‘n bietjie mamma melk drink en ek is reguit met haar na die kamer. Sy lê soos ‘n bobbejaantjie bo-op mamma met ouma Laurentia wat by ons lê en gesels. Die gemoed is vir die eerste keer goed en ons is positief en in der waarheid uiters verlig om in ons eie omgewing te kan funksioneer vir ‘n ruk. Skaars tien minute na ons aankoms by die huis, merk ouma dat die een wondjie begin bloei het. Ek het dadelik besef ons het erge moeilikheid, hierdie kind kan nie enige bloed verloor nie en ons gryp die doeksak en ons jaag vir die hospitaal! Ek het agterin geklim en haar oor my skoot vasgehou, bobbejaantjiestyl en die wond probeer toedruk so hard soos ek menslik gesproke kon doen. Busamed hospitaal was ‘n paar minute van ons af, maar teen die tyd wat ons by die verkeerslig regoor die gholfbaan gekom het, het ek net eenvoudig histeries geraak. Alles was onder bloed en op daardie oomblik het ek letterlik gedink my kind bloei uit in my arms. Ek het soos ‘n malvrou met ‘n bloeiende kind in my arms by die ongevalle ingehardloop en geskree “help my, help my, help my”. Die hele span in die hospitaal was onmiddellik reg om so ‘n krisis te hanteer en agterna het ek by myself gedink dat dit kompleet gelyk het of hul vir ons staan en wag het. Die personeel stop die bloed en die dokter aan diens praat per telefoon met ons dokter en haar instruksies is dat ons onmiddellik terugkom Rondebosch Hospitaal toe. Na meer as ‘n week in verskeie hospitaalbeddens en klein kamertjies is dit die laaste ding waarvoor ons lus is, maar ons het nie ‘n keuse nie en aanvaar ons realiteit.

Boeties kom kuier – 3 Desember 2018

Tiana se twee boeties, Cameron en Jonathan is oppad vanaf Bloemfontein om vir die vakansie te kom kuier (uit Andre se vorige huwelik). Tia is ons enigste dogter en my enigste biologiese kind. Andre is weg lughawe toe om hul te gaan haal en dit is gedurende hierdie tyd dat Tiana vra sy wil van die bed afklim, sy wil loop. Tia het haar vermoë om te loop totaal verloor en sy was net te siek om enigsins dit te kon aanpak.  Ek en ouma is bietjie skepties, maar ons sit haar neer en daar begin my kind loop vir die eerste keer weer. Die trane stroom oor ons wange en ons is totaal oorweldig met dank, ongeloof en totale verslaentheid. Sy beweeg met halwe treetjies skuins, effens soos ‘n krap, maar sy loop en sy het die wil om te loop. Sy vra dan ook later vir my dat ek haar moet los, want sy wil alleen loop en dit slaan my: Tiana….. jy is voorwaar ‘n klein ‘Warrior’!

Biddag vir Tia – 8 Desember 2018

‘n Byeenkoms word gereël in Upington vir ons klein warrior en mense word gevra om te kom bid tydens die geleentheid. Ons is eintlik so stomgeslaan deur mense se bereidwilligheid om in te spring en te poog om te help dat dit ons emosioneel totaal oorweldig. Die slaan ons asems weg.  Len Fourie maak ons deur middel van Skype deel van die hele gebeurtenis (ons is steeds in die Strand) en ons groet die mense soos hul by die deure ingestap kom. Tia sit ewe doodstil op mamma se skoot en vergaap haar aan almal wat met haar praat oor die rekenaar se skerm.  So sit sy deur die hele diens gelei deur Pickard Henn en die lofprysingsgroep dra elkeen ‘n ‘Warrior’ Tia hemp. Dit is ‘n oomblik vir altyd vasgevang in my gedagtewêreld en die allermooiste gebaar denkbaar. Ons is weereens verstom oor die ondersteuning en by dit alles gee vier mense hul harte vir die Here tydens die diens. Hierdie klein dogtertjie het reggekry wat ek, haar mamma, in my amper 40 jaar op aarde nog nie eens kon regkry nie. Jy maak jou mamma trots my klein warrior.  Dit is op hierdie dag wat ek al Tia se medikasie stop onder andere vir pyn en hoë bloeddruk…..sy het geen pyn nie, niks! Hoe groot is ons almagtige God?

Chemo rondte nommer 2 – 13 Desember 2018

Voor die aanvang van enige chemo sessie, is daar eers ‘n kort bespreking tussen ons as ouers en Tia se Onkoloog. Ek deel die dokter mee dat ek haar pyn- en bloeddrukmedikasie gestop het en sy snak letterlik na haar asem. Sy wil onmiddellik haar bloeddruk meet, totaal stomgeslaan deur my woorde en die dokter se ongeloof en reaksie is prysloos – alles is normaal. Dit is net eenvoudig ‘n wonderwerk en weereens vra ek myself af: Hoe groot is ons God? Die spesifieke chemo sessie word toegedien oor ‘n 48 uur tydperk in die hospitaal.  Hierdie chemo kan moontlik ʼn negatiewe uitwerking hê op Tia se niere en gehoor en gereelde toetse om dit beide te monitor, is deel van die behandeling. So baie dinge wat gelyk gebeur en so baie gebed wat uit ons vloei.

Die realiteit tref my – 14 Desember 2018

My gemoed is om die minste te sê effens aan die af kant en die afgelope maand se realiteit vat baie hard aan my liggaam. Om soms net weg te stap van die kamer, gaan staan en kyk ek vir Tafelberg uit een van die groot vensters en die buite wêreld het ʼn kalmerende uitwerking op my angs en depressiewe gemoed. Direk langs die venster waar ek staan en staar is nog ʼn kankermaatjie met die naam van Liam en ek ontmoet sy wonderlike ma, Benita Lotz. Al die kankerkinders het ‘n spesifieke plakkaat op hul deur wat besoekers versoek om die masker en beskermende kleredrag aan te trek, selfs die dokters en verpleegsters. Ek en Benita gesels lekker en sy deel hul verhaal met my.  Hul is ons ver voor wat die behandeling betref, alhoewel Liam ʼn ander tipe kanker gehad het, tans in remissie is en hierdie besoek slegs instandhoudingswerk is. Benita bemoedig my en gee my werklik nuwe krag en motivering om hierdie geveg aan te hou veg. Sy verseker my dat dit beter raak, al is dit ʼn lang en moeilike, uitdagende pad. Sy vertel my ook van omstandighede waarin ander kankerpasiënte verkeer en ek besef net weereens hoe bevoorreg ons is met amper niks om oor te kla nie. Die verpleegsters by Rondebosch dra ons op die hande en ons gesels lekker oor hoe goed die Here vir ons is. Ek dink in elk geval moet jy net duskant ‘n engel wees om in die beroep te wees waarin hulle is.

Eerste histeriese uitbarsting – 15 Desember 2018

Terwyl ek en Tia vir Andre wag om ons te kom haal by die hospitaal, begin sy vreeslik huil en dit sit later om in ‘n histerie wat totaal abnormaal is. ‘n Verpleegster bring vir haar ‘valleron’ druppels (soos ‘n tipe morfien vir kinders) en selfs dit help nie om haar te kalmeer nie. Ek is raadop, moedeloos en Tia gil, skop en skree vir amper 45 minute aaneen. Dit is glad nie die altyd laggende, singende dogtertjie van ons nie en dit noop my om verder navorsing te doen oor newe-effekte. Sommige kinders kan so ‘n uitbarsting beleef van tyd tot tyd na chemo sessies, hetsy die direkte uitwerking van die chemo self of om ontslae te raak van hul pyn en frustrasie. Ons is nie seker wat dit veroorsaak nie en ons bly op ons knieë.

Tweede histeriese uitbarsting – 17 Desember 2018

Tia kry weer ‘n histeriese uitbarsting en sy wil haar kop teen die muur kap en almal rondom haar skop en slaan.  Dit is  vir ons baie traumaties om haar so te sien en sy rig haar frustrasies veral direk na my, haar mamma.  Sy gryp my aan my neus, ore, hare, enigiets wat sy in die hande kan kry en die dogtertjie wat altyd gelukkig, singende, glimlaggende is, dansende, drukkies uitdeel, is nêrens te vinde in hierdie uitbarstings nie. Ek besluit om te poog om verfterapie met haar te doen en ons gaan stap ook met haar op die strand en dit verrig wondere.

Dr Google en te veel navorsing – 20 Desember 2018

Mamma doen te veel navorsing: Volgens statistiek met die behandeling wat in Suid Afrika beskikbaar is vir kinders met Neuroblastoom fase 4, is die kans vir oorlewing slegs 20%. Met enige terugval is die prognose so te sê 0% op oorlewing en dit breek my eenvoudig in stukke. Toe ons nog in Upington was (meer as ‘n maand terug) en net nadat ons die moontlike diagnose van Neuroblastoom gekry het, het ek by myself gedink: sjoe, dit is darem nie leukemie of een van die ander erge kankers nie.” Vandag dink ek by myself, jou absolute swaap. Geen wonder pediater Mark het my maar net aangekyk toe ek sê: “so die kanker is eintlik maar net ‘n paar gewasse wat hoë bloedddruk veroorsaak”. Hy het seker by homself gedink: my liewe vriendin, jy weet duidelik nie wat vir jul voorlê in die lewe nie! Vandag glo ons egter dat Tia ‘n 100% kans op oorlewing het en ek spreek dit konstant oor haar uit. Geen statistiek kan jou lewensduur bepaal nie, net God kan en ek dien en loof en prys hierdie God van ons elke dag!  Ek het een aand in ‘n visioen gesien hoe ek en Tia op haar troudag dans en lag, sy met ‘n amper eenvoudige sagte rok aan en ‘n blommekrans op haar kop. Sy het lang bruin hare met sagte krulle in gehad. Die mooiste en beste visioen wat enige Moeder kan ervaar en ek klou vas aan die droom dat dit werklik gaan word in ons lewens.

Kersfees – 25 Desember 2018

‘n Kersfees soos ons dit nog nooit beleef het nie en al my broers en hul gesinne het by ons aangesluit in die Kaap. Dit is vandag vir my ondenkbaar om te dink hoe baie almal hul planne moes verander om dit vir ons ‘n realiteit te maak en dit maak my emosioneel en ontsettend dankbaar. Saam met die 2 oumas vier ons Kersfees met ‘n diepte en dankbaarheid wat ons nog nooit beleef het nie, ons koester die sekondes en die oomblik en besef hoe spesiaal dit is.

Chemo rondte nommer 3 – 3 Januarie 2019

Ons het ons groentjie-status afgeskud en kry die chemo ding nou sommer vinnig onder die knie. Gewoonlik moet mamma ‘n kalmeerpil drink en op die bed lê wat vir ons pasiënt bedoel is terwyl sy liedjies sing en hande klap, maar hierdie rondte is ons almal meer gerat vir wat voorlê. Weereens leer sy my ‘n les of twee van die lewe en verstom ek my vir haar manier om die lewe net eenvoudig voluit aan te pak. Ons kankermaatjie, Liam is ook vandag hier en Tia kry die groot voorreg om sy legoblokkies met hom te deel. Agterna deel Liam se mamma, Benita my mee dat hy oortuig is hy het sy trouvrou gekry en dit is vir ons te kostelik vir woorde. By die huis gekom dink ek om vir Pickard Hen te bel en hoor wanneer hy weer Kaap se kant toe kom. Ek en Andre het al ‘n geruime tyd die behoefte om groot gedoop te word en veral nou raak daardie begeerte al groter realiteit vir ons. Pickard is heel toevallig (ek glo nie regtig in toeval meer nie) in Bloubergstrand en hy is dadelik bereid om ons die volgende dag te kom doop.

Bevestiging van ons geloof – 4 Januarie 2019

Pickard en die mooie Nadia daag by ons huis op en hierdie twee mense straal van die liefde en God se gees, nee in der waarheid loop hul oor daarvan en dit straal uit hul uit soos ‘n helder vuur. Alvorens ons die doop begin vra Pickard dat ek en Andre mekaar se hande moet vat, mekaar in die oë moet kyk en sê waaroor ons jammer is, want vandag raak dit iets van die verlede. Dit voel weer soos die dag toe ons ons beloftes voor God neergelê het op ons troudag en die emosies neem my weereens totaal oor. Dit is intens en emosioneel en iets wat elke mens in sy lewe vir homself moet uitmaak en besluit oor, maar wat ‘n wonderlike ervaring en bevestiging van ons geloof. Ek word eerste in die swembad gedoop en die water is yskoud, maar my oë gaan toe onder die water en toe ek opkom is alles lig….helder, helder lig. Dit is asof iemand ‘n sterk lig in my oë geskyn het, Pickard sê ek moet kyk en ek kyk rondom my en alles lyk anders, die wêreld is helder. Op die kant van die swembad staan my klein ‘Warrior’ prinses Tia en sê “kyk mamma lyk anders”. André word volgende gedoop en ‘n nuwe lewe begin weer in 2019.

Rooikruis Hospitaal – 21 Januarie 2019

Ons moet ‘n nierfunksie toets laat doen by die Rooikruis hospitaal en dit bestaan uit ‘n middel wat binne-aars ingespuit word en dan bloed trek vir vier ure, elke twee ure. Dis seer en traumaties vir my klein poplap en hierdie klein lyfie het al meer kere ‘n naald in haar gehad as enige ander mens wat ek persoonlik ken. Tussen die twee ure deur besluit ons om vir oom Christoff en tannie Marianne in Table View te gaan kuier.  Dit is baie verlangse familie van my pa wat na Tiana se diagnose, kontak met my gemaak het om hul storie met ons te deel. Ons besoek is kort, maar ons deel so baie pyn met mekaar en sien die begrip in mekaar se oë en net kankerouers sal verstaan wat sien jy in mekaar raak. Hul dogter Sandra was op 10 maande gediagnoseer met ‘n baie seldsame kanker en die dokters het hul huistoe gestuur met ‘n week oor om hul laaste foto’s saam met haar te neem en alles in plek te kry vir haar afsterwe. Ek probeer myself  indink hoe stap jy met jou kind uit die hospitaal met die wete dat medies gesproke almal haar afgeskryf het en hul haar net ‘n week gee om te leef.  Hierdie ouerpaar het egter besluit haar lewe is in ons Skepper se hande en deur die krag van gebed en God se genade het Sandra op 1 Februarie 2019 ses en dertig jaar oud geword. Hoe groot is ons God! Oom Christoff salf vir Tia en na ‘n gebed is ons reg vir die laaste hospitaalsessie.

Hiermee eindig ek ons tweede blog en sal later die volgende komponent deel soos wat dit vorder en haar wonderwerk van ‘n lewe voor ons oë afspeel.  Terwyl ek skryf is Tia met haar laaste chemo-sessie klaar en is die eerste 6 maande vanaf diagnose verby – al wat ek kan sê is: Ons dien ‘n ongelooflike God en mag ons nooit ophou bid vir hierdie klein wonderwerkie, sowel as so baie ander wat deur dieselfde gaan tans nie.

Deel 1 ››

Vorige artikelRug aknee
Volgende artikelKinders van LiG
Blogger - Len Fourie
Len matrikuleer in 1992 te Hoërskool Upington en behaal 5 jaar daarna sy Magistergraad in Stads-en Streeksbeplanning (1997) aan die Universiteit van die Vrystaat. Len begin reeds in 1995 as student werk by Macroplan Stads-en Streeksbeplanners in Upington (dieselfde Firma waar hy permanent aansluit as Stadsbeplanner in opleiding einde 1997), na voltooiing van sy M-Graad studies. Len is bevoorreg genoeg om in 2006 Hoof Stadsbeplanner te word en die Firma Macroplan se bestuur oor te neem. Len het ‘n absolute passie vir sy Hemelse Vader wat hom die gawe gegee het om sy talente in die lewe uit te leef, ‘n groot liefde vir sy geboortedorp Upington, sy gemeenskap en die Noord-Kaap Provinsie in geheel. Die aspekte wat Len se hart vinnig laat klop sluit in enige vorm van toer, verkenning van ‘n nuwe plek, nuwe land, hetsy in Afrika of enige land oorsee, die neem van amateur foto’s en veral die bestudering van die klimaat. Die lewe bid soveel skoonheid en hy wil dit vasvang en dit met mense deel.