Kankerheldinne maak só ’n kopskuif en oorwin

0
260
jana.jpg

Kanker is die mees gevreesde siekte in ons tyd. Hoe kry sommige mense dit reg om hierdie monster in die oë te kyk, positief te bly, en te oorwin?

Jana du Plessis – Finesse Inspirasievrou 2013, is twee keer deur die hartseer en pyn van kanker. Soos baie ander, moes sy ’n manier kry om te oorleef. Om van dag tog dag te funksioneer al hang daar ’n swaard bo haar kop. Tercia du Plessis (geen verband nie) van Alberton, deel ook haar stryd met haar denke en emosies. Albei vroue het die kankermonster reguit in die gesig gekyk en gesê “Ek sal nié gaan lê nie. Ek sál hierdie ding oorwin.”

Jana du Plessis: “Positiwiteit is ’n keuse”

Die tweede keer wat ek gediagnoseer is met kanker was baie moeiliker as die 1ste keer. Skielik het ek geweet wat kanker behels en die pad wat voorlê. My diagnose was nie goed nie en ek moes ’n manier kry om dit te hanteer. Vir my was die belangrikste om tyd saam met God deur te bring en antwoorde uit die Woord te kry. Ek weet eerlikwaar nie hóé kom enige iemand deur ’n krisis as hulle nie die Here ken nie. Doelbewus moes ek die keuse maak om te glo dat God die beste weet en dat ek nooit bo my kragte versoek sal word nie. Positiwiteit is nie ’n gevoel nie, maar ’n keuse. Elke dag opnuut.

Ek het ook besef dat ek twee keuses het. Gaan lê en blameer die wêreld vir wat met my gebeur het, of besef dat jy niks aan die situasie kan verander nie en stel vir jouself nuwe uitdagings. Ek het die laasgenoemde gekies en dit het my daagliks gehelp om die struikelblokke van daardie spesifieke dag te oorkom. Soms het dit gevoel of ek elke negatiewe gedagte letterlik moes vasvang en elke keer as ek oor iets dink wat my afbreek, het ek myself geforseer om dit te vervang met iets positiefs.

Wat ek wel geleer het die afgelope ruk is dat ons kop en gedagtes baie kragtig is, dit wat ons dink is wat ons glo. Dit wat ons glo op die einde van die dag is wat ons leef. Daarom is positiewe gedagtes so belangrik en maak dit ons anders as die negatiewe wêreld waarin ons leef. Klou vas aan die beloftes in die Bybel Die beloftes uit die Woord het ek op ’n bladsy neergeskryf en elke dag in my sak rond gedra, die oomblik as die vyand my wou aanval met negatiewe gedagtes het ek dit weer gelees. Ek het dinge prakties gedoen. Elke aand met die Bybel oop langs my bed geslaap en deur die nag as ek angstig wakker geskrik het en dit vir my gevoel het of ek nie asem kry nie, Skrif gelees. Ek het ook elke oggend wat ek die chemo-pil gedrink het ’n “ping” gestuur na my naaste familie en vriende, en op daardie oomblik het ek geweet hulle tree saam met my in vir die werking van die chemo. Dit het my ook net laat besef dat, alhoewel ek die pad stap, stap soveel ander dit saam met my en is hulle sterk genoeg om my te dra.

Kyk na Jana se toespraak nadat sy as FINESSE Inspirasievrou 2013 aangewys is.

Tercia du Plessis: ’n ses jaar lange mallemeule

“Ek is baie jammer om die slegte nuus aan jou te moet oordra” sê Dr. Kritzinger. “Jy het ’n massiewe tumor op die brein. Dit is in die breinstam en is 46,2 mm in lengte. Ek wil graag hê jy moet die Neuroloog, asook die Neurochirurg gaan sien”. Hy praat sag en afgemete, en ek wonder of hy my net beter wil laat voel en of hy dalk bang is ek hoor wat hy sê!

Die emosies begin in my opstoot. Dis so onwerklik en alles in my wil bars! Ek storm verby die rolstoel wat van my ’n invalide wil maak. Loop al hoe vinniger. Ek kan nie teruggaan hospitaalsaal toe nie! Ek het tyd alleen nodig. Tyd om die skoknuus, wat soos ’n doodsvonnis klink, aan my familie oor te dra. Soos wat ek verby vreemde mense loop, voel dit vir my asof almal my aanstaar. Mense lag en gesels en ek wonder of hulle dwarsdeur my kan sien … of hulle kan sien ek is anders?

Vir die laaste ses jaar ry ek hierdie rollercoaster. Die op-en-af effek hiervan, wat my gesondheid en emosies betref, gaan nooit weg nie. Maar ek ontlaai deur myself toe te laat om te huil en met familie en vriende te gesels. Ek gun myself om te huil. Ek mag huil en treur oor die verlies van gesondheid, maar ek lag ook baie. My geliefdes en vriende is baie kosbaar en ek sien nou elke dag die pragtige dinge in die lewe raak. Die gras is groener, die kleinste blommetjie is so mooi, die son skyn helderder en die reën bring kalmte en rustigheid in my hart. As ek platgeslaan word, baklei ek om weer op te staan en, belangrik, om positief te bly!

As jou krag op is, dra Hy jou

So het die dae verby gesleep en het ek stelselmatig begin beter voel. Ek het myself ingeskryf vir ’n trauma-kursus by die Lewenssentrum in Alberton. Daar het ek besef dat ons elkeen ’n “pakkie” gekry het om te dra. Soms dink ’n mens jou eie pakkie is baie swaar, totdat jy hoor van die pakkie wat ander moet dra. Ek het ook geleer om my emosies beter te hanteer en positief te bly.

Die Behoeftediens wat op 1 Maart 2009 gehou was, het absolute nuwe betekenis aan my lewe gegee. Nooit sal ek die aand vergeet wat ek opgestaan en vorentoe geloop het nie. Soos die pastoor my hand gevat en vir my gebid het, was die wete daar dat die tye waar daar net een ry spore in my lewe was, wat juis die tyd wat Jesus my gedra het. Nou weet ek elke dag; wanneer my “pakkie” te swaar word om alleen te dra, sal Hy my met pakkie en al dra.

Ek weet nou dat “as ons oë nooit deur trane skoon gewas word nie, hoe sal ons ooit ’n reënboog van hoop en geloof kan weerkaats”. Ek hou vas aan God – Hy is my enigste troos in die lewe! My lag is terug. En al is dit soms met ’n traan … ek lewe!

breekware_wen.jpg

Argilla stel vir die eerste keer Christelike breek-ware bekend. Dis ’n unieke manier om jou geloof uit te leef deur elke dag hieruit te eet en te drink. Lees die artikel oor kankerheldinne, vul jou naam en eposadres hieronder in en jy kan ’n stel van 6 koffiebekers ter waarde van R300 wen.

(Geldig tot 21 Oktober 2013)