Karin Berman se 50 jaar van skoonheid

0
683
Karin_Berman.jpg

Karin Berman se voorkoms kan menige jaloers maak. Hoe kry mens dit reg om na soveel jare nog so goed te lyk. Sy verklap haar geheime.

Dink jy ’n mens kan mooier word met die ouderdom?

Ek dink nie dis soseer dat ’n mens mooier word nie, maar eerder dat jy meer gemaklik raak met wie en wat jy is. Skryf dit toe aan lewenservaring. En goeie gene help ook!

Kan ons maar in jou kas kyk?

Daar is niks ongewoons in my badkamerkassie nie. Ek is vaartbelyn op 50 en omdat ek weet wat werk en waarvan ek hou, kan ek gou-gou mooimaak.

Jy het ’n haredos wat ’n tienermeisie jou sal beny!

Ek glo hare is iets wat jy erf en jy is gelukkig as dit dik is. Ek was gelukkig, maar namate ek ouer word, word dit wel ’n bietjie dunner. Gelukkig was daar baie om mee te begin, so, ek het nog meer as genoeg.
Ierephaan, my haarkapper hier in die Kaap, sorg altyd dat my hare in ’n goeie kondisie bly wanneer hy dit kleur. Ek gebruik Senscience produkte. ’n Moet-hê haarproduk vir enigiemand is Joico K-Pak Styling Oil. Dit maak jou hare glad nadat jy dit drooggemaak het.

Wat is die belangrikste mooimaakadresse in jou telefoonboek?

Ek is lief vir die One&Only Spa by die Waterkant. Verlede jaar in Griekeland was ek ook by ’n One&Only Spa, waar ek ’n gesigsbehandeling gehad het wat vir my uitstaan as die beste een ooit! Vir die vinnige pedikuur en nog wat maak ek ’n afspraak by Dante Wellness in Seepunt.
Ek gaan elke jaar in November vir ’n week na The Hydro in Stellenbosch en dan pamperlang ek myself daagliks met elke soort spa-behandeling wat daar is. Ek detoks met uitsluitlik ’n vrugtedieet, ek gaan stap in die berge en daarna is ek weer reg vir die res van die jaar!

Wat behels jou mooimaakroetine by die huis?

My benadering is om ’n roetine te hê wat maklik is om in stand te hou. Daar is geen groot truuks nie. Ek was my gesig met Cetaphil-seep en gebruik La Prairie se vog- en oogroom. Ek sal soms ’n velsorgmasker dra en doen sommer intussen my hande en voete self. My grootste mooimaaktruuk is net ’n goeie nag se slaap!

Karen se 7 gunstelingmooimaakgoed

VELSORG La Prairie Concealing Eye Treatment
ONDERLAAG Chanel Vitalumière Aqua
MASKARA Sublime de Chanel
OOGGRIMERING Mac Lingering Eyebrow Pencil is ’n absolute gunsteling.
MOND La Mer Lip balm is ongetwyfeld die beste.
PARFUUM Ek dra al baie lank Issey Miyake-parfuum.
LYFSORG L’Occitane se amandelmelkstortjel is heerlik en dan het ek al jare ’n staatmaker – goeie ou Happy Event-lyfroom!

Geskryf deur Ryno Mulder