Karlien – ek is nie perfek nie

0
35
karlien_van_jaarsveld.jpg

Karlien van Jaarsveld is dol oor ma-wees, en haar lewe is byna perfek – al weier sy steeds om te kook!

Karlien van Jaarsveld het as ’n rock-ster bekend geword, maar het die afgelope paar jaar as vrou en ma ontpop. Sy vertel hoe dié omwenteling gebeur het, en hoekom haar nuwe lewe haar eintlik soos ’n handskoen pas – selfs al weier sy steeds om te kook!

As kind het Karlien van Jaarsveld nooit gedink sy sal vandag wees waar sy is nie – ’n suksesvolle solo-ster, getroud met een van die rugbywêreld se helde, en ma van ’n tweeling op wie sy smoorverlief is.

Net ses jaar gelede was sy nog ’n heeltemal ander mens. Sy was lid van die rockgroep Revolusie met ’n besige sosiale lewe, en het gedink sy wil nooit kinders hê nie.

Maar die Here het ’n ander plan vir haar gehad, sê sy nou, en sy kan haar dit nie indink om ooit terug te gaan na wie sy voorheen was nie.

“Wanneer ek oor my lewe vóór Eliah en Daniël dink, kan ek my nie eers meer verbeel hoe dit was nie. Ja, dit was ’n lewe met baie meer slaap, TV kyk, uiteet, fliek en eintlik doen wat jy wil wanneer jy wil. Maar daardie dinge is nou in die verlede en as ek kan kies, sal ek dié lewe elke dag weer kies.

As nuwe ma was sy egter ’n “absolute pyn oor higiëne. Ek was so oorbeskermend aan die begin. Ek het letterlik alles in die huis gesteriliseer. As mense hier kom kuier het, moes hulle hulle hande met ’n spesiale hospitaalseep was voor hulle na aan my kinders kon kom. As hulle dan aan hulle fone gevat het, was daar ’n alkohol-jel wat hulle moes aansmeer voor hulle weer by die kinders kon kom. Daar het nie ’n selfoon naby my kinders gekom nie – daar is so baie kieme op fone!

“Maar ek moes leer om te ontspan en te vertrou dat hulle oukei sal wees. Ek moet weet die Here beskerm hulle, anders sou ek en Derick nooit weer uit die huis kon kom nie. Ek moes begin ontspan en vertrou om hulle byvoorbeeld by ’n oppasser te kan los.”

Oor babas, dissipline en haar wilgerlatlyfie

Eliah en Daniël is ’n jaar oud, maar verskil reeds soos dag en nag, sê sy. “Daniël is ’n regte Hougaard en Eliah is duidelik ’n Van Jaarsveld – ’n mens kan dit sien in hulle persoonlikhede en selfs hoe hulle lyk. Eliah lyk net soos my broer Bobby se kinders en Daniël lyk soos Derick. Dis ongelooflik om jouself en jou man só in hierdie klein gesiggies te sien.

Derick sal waarskynlik die dissipline in die gesin handhaaf as die kinders ouer is, skat sy. “Ek is te sag. Hy sal nou reeds sê die kinders is stout as hulle mors of te veel huil, maar ek sal weer sê hulle is net babas en verstaan nog nie wat reg en verkeerd is nie. Maar ek weet ’n mens moet ook die boompie buig terwyl hy nog jonk is, ek sukkel net om te raas. Ons sal maar moet sien hoe dit gaan as hulle ouer is en regtig stout word!”

[pagebreak] Karlien het haar loopbaan ses maande lank onderbreek om by die tweetjies te wees, maar is nou weer hard aan die werk en het reeds haar perdebylyfie terug. Sy het nie eens ’n dieet gevolg nie en is “geseën met ’n vinnige metabolisme”.

“Ek weet nooit hoe om vir mense te verduidelik hoekom ek maer is nie. Ek eet as ek honger is tot ek versadig is, en ek eet wat ek wil. My sussie Cara (Brink) sê altyd sy sal vet word as sy by my moet woon. Na die tweeling se geboorte het ek wel vir drie maande ’n paar keer per week saam met ’n vriendin gedraf en met gewigte geoefen, maar nou oefen ek nie meer nie, want daar is te min tyd vandat ek weer werk.

Oor getroud wees, wie die broek dra en kook

Hulle verhouding het ook spesiale diepte, veral vandat hulle trou beloof het. Eers het hulle die troue uitgestel, want hulle was as paartjie nie gereed daarvoor nie. “Toe ons die troue uitstel, het ek hom nie alles vertel wat die Here vir my gesê het fout is in ons verhouding nie. Maar presies 40 dae later, soos in die Bybel, het hy teruggekom na my toe en vir my alles vertel wat ek moes hoor. Dit was my teken dat ons moet trou; ek het geweet die tyd was reg. Toe vra ek hóm om te trou!

“Ja,” erken sy, “Derick sal sê ek dra die broek in ons verhouding. Ek sukkel soms om toe te gee as ons misverstande het. Maar dié dinge word ook makliker soos ons mekaar beter leer ken. Hy weet nou byvoorbeeld hy moet my net uitlos as ek stil word, dan sal dit oorwaai en sal ek weer vrolik wees, of ek sal met hom kom praat as dit regtig belangrik is. Ek is iemand wat eerder hou van die ligte kant van die lewe en ek skuif emosies eenkant toe.

Hulle doen ook moeite om mekaar spesiaal te laat voel wanneer dinge besig raak. “Derick sal vir my klein geskenkies soos blomme bring, want hy weet ek waardeer dit om nou en dan bederf te word. Ek weet weer hy waardeer dit meer as ons kwaliteit-gesprekke het. Ek doen soms moeite om met hom te gaan sit en gesels oor die dinge wat vir hom belangrik is, soos sy werk of wat in sy hart en my hart aangaan op daardie oomblik.”

Maar daar is sekere dinge omtrent Karlien waarmee Derick bloot moes vrede maak. “Ek kook nie,” verklap sy. “Ek haat dit. Hy het eenkeer gesê hy wil regtig hê ek moet meer kook, toe moes ek baie mooi verduidelik dis nie my passie nie.”

[pagebreak] Karlien het Mr. Delivery se nommer op snelskakel en hulle eet ook baie van Woolies se voorbereide kosse. As sy régtig die dag moet kook, sal dit iets wees wat sy vinnig bymekaar kan gooi en in die oond kan druk. Soos Woolies se ampergaar kosse, lag sy skamerig.

Met ander dinge het Derick egter weer die oorhand gekry. “Derick is iemand wat dink aan môre, terwyl ek dink môre sal vir homself sorg. Hy spaar sy geld, terwyl ek dit vinnig sal uitgee op klere en dinge vir die huis of die kinders. Maar hy het my in ’n spaarplan ingepraat en ek doen heel goed daarmee.”

Oor idees, musiek en ’n toekoms in die Kaap

Een van die dinge waarvoor hulle sal moet spaar, is die moontlikheid om eendag Kaap toe te trek. “Ons wil baie graag in die Kaap woon, want dis so mooi en dis ’n beter plek om kinders groot te maak – daar is meer oop ruimtes en veiligheid. Derick se ouers, Bontie en Riana, woon ook daar, op Piketberg, en dit sal lekker wees as hulle die kinders ook meer kan sien.

“Maar dis ’n verre droom. Ons praat nou net daaroor, daar is nog geen planne nie. Daar is ook ander nadele, soos dat daar meer werk hier (in Pretoria, waar hulle tans woon) is, en ek sal dan baie moet reis en die kinders nóg minder kan sien.”

Na haar tweede solo-album, Uitklophou, binne die eerste twee weke reeds 20 000 kopieë verkoop het, is haar besige loopbaan beslis ’n oorweging. En dan het sy nog ander planne ook.

“Ek het ook baie ander besigheidsplanne en is altyd besig om aan nuwe idees te dink. Ek oorweeg tans ’n hele paar idees en sal binnekort ook iets begin doen wat niks met musiek te make het nie.”

Maar Karlien is iemand wat met hart en siel leef, en sy weet hulle Kaapse skuif sal gebeur wanneer die tyd daarvoor reg is.

Sy en Derick vul mekaar ook goed aan, en hy help haar soms met die praktiese kant van haar loopbaan. “Ek is nie ’n ernstige mens nie, maar Derick is ’n baie diep siel en ’n rasionele denker.
Ons het al persoonlikheidstoetse gaan doen juis daaroor – dit help baie om te verstaan hoe jou maat oor dinge dink. Uit 20 was ek 17 emosioneel en 3 rasioneel, en hy is weer 18 rasioneel en 2 emosioneel. Ons is presies die teenoorgestelde.

“Dit maak dit soms moeilik om te verstaan hoekom die ander een doen wat hulle doen, of reageer soos hulle doen in sekere situasies. Hy wil dinge altyd prakties beplan, soos ons idee om te trek, en ek voel dinge sal hulleself oplos. Ek probeer ook nou meer vooruit dink voor ek doen, soos Derick.

“Maar ek is bly ek leef só, eerder as om alles te rasionaliseer. Dit maak my oop vir die Here se woord. Ek sal byvoorbeeld oor iets wonder, en dan sal iemand die volgende oomblik om geen rede daaroor begin praat – dan weet ek dis ’n boodskap van Hom. Ek sal soms net droom Hy praat met my. Dit klink seker mal, maar dis die waarheid! Ons vergeet Hy is aanhoudend besig om met ons te praat. Ek dink enigiemand kan direkte boodskappe van die Here kry as hulle net glo hulle kan en hulle ore en oë daarvoor oopmaak. Dit is hoe ’n mens jou regte lewenspad raaksien. Ek is bly ek het.”