Kate Winslet: Ek aanvaar nou my lyf

0
46
kate_winslet.png

Kate Winslet, wat in Labor Day gesien word, is ook gewikkel in ’n stryd teen die skaal. Maar sy voel sterk daaroor dat vroue hulle sogenaamde “figuurfoute” vergewe moet word en so aanvaar moet word.

Blubber! Dít was die bynaam waarmee Kate Winslet op skool moes saamleef. “Ja,” erken sy prontuit, “ek is baie oor my figuur gespot.” Sy moes maniere vind om die vernedering deur haar tydgenote te deurstaan. En sy het!

“Waar, as ek mag vra, is daardie klomp spotters vandag?” wil sy laggend weet. Terwyl Kate promosiewerk vir haar nuutste film, Labor Day, gedoen het, het sy sonder die geringste huiwering met haar swanger magie gespog. ’n Mens sou nie toe kon raai watter groot rol haar figuur in haar lewe gespeel het nie.

Wanneer jy in naaktonele optree, is dit nie maklik om die ekstra kilogramme weg te steek nie. In ’n vorige film, The Reader, moes Kate dit noodgedwonge doen. Daar is groot ophef gemaak van haar natuurlike borste in ’n bedryf waar die meeste borste hoofsaaklik uit silikoon bestaan. Maar ten spyte van die bewondering vir haar bates, erken Kate dat sy baie senuweeagtig was om te veel van haar lyf te wys.

Daardie optrede het die kritici se monde gesnoer. Dit was duidelik dat sy toe inderdaad net so skraal was soos ’n paar weke vroeër toe daar pragtige foto’s van haar in ’n tydskrif gepubliseer is. Hierdie keer was dit nie nodig om met die foto’s te peuter om haar beter te laat lyk nie, iets wat die skindertonge jare lank al aan die gang hou.

Vroeër het die tydskrif GQ ’n voorbladfoto van haar drasties verskraal om dit vir die lesers aanvaarbaar te maak. Kate was nie besonder gelukkig daaroor nie. Sy was dan altyd nog ’n voorstander van groter vroue en het wyd en syd verkondig dat vroue hulle voller figure moet aanvaar.

“Ek het GQ nie toestemming gegee om digitaal daaraan te verander nie,” het sy gekla. “Ek wou nie hê die lesers moes dink ek is ’n huigelaar nie. Hulle moes nie onder die indruk gebring word dat ek opvallend baie gewig verloor het nie, want dis nie iets wat sommer sal gebeur nie.” Die tydskrif was verplig om om verskoning te vra vir die vals voorstelling van haar figuur.

Maar Kate sou ’n lang pad moes stap voordat sy kon vrede maak met die kurwes wat haar vroeër in die verleentheid laat kom het. Saam met die volwassenheid het daar ’n beter balans gekom oor hoe sy haar lyf sien. Nou laat sy haar nie voorskryf oor haar figuur nie. Sy het nooit begeer om beroemd te wees nie, nooit daarvan gedroom om ’n aktrise te wees nie. “Ek was vet. Vet meisies word nie aktrises nie. Ek het baie beslis nie van enige oorgewig Hollywood-sterre geweet nie.” Kate het altyd effens uit gevoel. “As jy eers een keer as ’n vet meisie bestempel word, dra jy dié etiket vir die res van jou lewe. Vir ’n vet meisie voel dit altyd asof jy nie so mooi soos die ander meisies is nie.

“Toe ek in my twintigerjare was, het ek probeer voorgee dit pla my nie, maar dit het. Ek het ellendig gevoel. Voor joernaliste en die publiek het ek opgetree asof ek in beheer was, maar diep binne-in my het ek bietjie-bietjie gesterf.”

Kate voel baie sterk dat die beelde waaraan vroue in die media blootgestel word, nie normaal is nie. “Onder my vriendinne is daar nie ’n enkele persoon wat soos die plankdun modelle ekstra-klein klere dra nie. Of nee wag, daar ís een – my dogter. Maar sy is net ’n skrale elf jaar oud.”

Gelukkig het sy ’n humorsin wanneer sy oor haar figuur uitgevra word. “Ek het besluit ek gaan lief wees vir my agterstewe, want niemand anders is nie. Ek wil ’n voorbeeld vir my dogter stel, vir haar wys ek het my lyf aanvaar.” Dis egter nie maklik in die bedryf waarin sy haar bevind nie. “Selfs filmsterre se figure verouder en gaan agteruit,” maan sy.

Kate voel sy praat namens alle filmsterre wanneer sy waarsku dat hulle met dieselfde gewigsprobleme as ander vroue kan worstel. “Ons onderklere kruip ook soms in waar dit nie moet wees nie. Maar ons kan dit nie daar uitpluk nie, want ons is altyd in die openbare oog.”