Keer dat emosies jou lewe verwoes

0
104
emosies

Het jy al ooit opgelet dat gelukkige mense ook meesal gesonder is? Dis ’n feit dat jou emosies jou gesondheid beïnvloed. Breek só met gevaarlike emosies en lééf weer ’n slag voluit.

Het jy al ooit opgelet dat gelukkige mense ook meesal gesonder is? Dis ’n feit dat jou emosies jou gesondheid beïnvloed. Breek só met gevaarlike emosies en lééf weer ’n slag voluit.

Negatiewe emosies beïnvloed jou gesondheid en lei tot depressie, hoë bloeddruk, eetversteurings en beroerte, om maar ’n paar te noem. Eintlik wys jou liggaam wat in jou siel aangaan.

Bitterheid

WAT DIT DOEN: Jou stresvlak en bloeddruk styg, jy raak depressief oor wat kon gewees het en angstig oor wat nog moet kom. Dis die resep vir ’n hartaanval, beroerte, slaaploosheid, eetversteurings, maagseer, verslawing en selfs ekseem en allergieë. ’n Verbitterde mens leef nie net in die verlede nie, maar verloor ook hoop vir die toekoms. Dit verswak jou immuunstelsel weens die voortdurende stres.

VERVANG DIT MET: Vergewe! Hierdie Bybelse opdrag is nie verniet aan ons gegee nie, want om iemand te vergewe en dit te bedoel, kan dieselfde uitwerking op jou gemoedstoestand hê as tien sessies by ’n sielkundige.

DIE VOORDEEL: Wanneer jy nie meer met die spanning van jou verlede hoef saam te leef nie, sal jou liggaam positief reageer. Jou bloeddruk, eetlus en slaappatroon sal normaliseer, jou stresvlak sal daal en jou lewenslus sal terugkeer. Jou immuunstelsel sal verbeter, en daarmee saam selfs klein irritasies soos candida-infeksies, ’n jeukerige uitslag en hoofpyne.

Woede

WAT DIT DOEN: Dink mooi wat gebeur as jy baie kwaad word: Jy raak lighoofdig, begin bewe, kry hartkloppings en sukkel om te praat. Na die tyd sit jy met die moeder van alle hoofpyne, ’n droë mond en gloeiende wange. As jy kwaad word, is die uitwerking op jou liggaam fisies meetbaar: Bloed pomp vinniger deur jou are, jou hartklop versnel en jou hele senustelsel reageer op die groot hoeveelheid adrenalien wat afgeskei word. Jy voel tam, leeggetap en moeg. Voortslepende vyandigheid hou ook jou liggaam heeltyd op ’n gereedheidsgrondslag vir konflik.

VERVANG DIT MET: Selfkennis en ontspanning! Leer watter situasies jou woedend maak, en probeer dit vermy. Of leer ontspanningstegnieke aan. Ander se aksies moet nie meer jou lewe bepaal en regeer nie, maar wel jóú reaksie daarop. Gestel jy hou nie van jou baas nie en word kwaad elke keer as julle iets bespreek. Jy het ’n paar keuses: soek ander werk, leer om jou man te staan sonder om kwaad te word of leer om slegte situasies met hom te vermy. Deur net ’n paar maal diep asem te haal, kan jy al klaar ’n paar fisieke reaksies keer: jou hartklop sal normaliseer, jou bloeddruk sal nie die hoogte inskiet nie en jy sal nie agterna soos ’n uitgewaste lap voel nie. Kry ook ’n sport of stokperdjie waarin jy die opgehoopte streshormone kan opgebruik.

DIE VOORDEEL: Jou hoofpyne sal verdwyn, jou hart sal nie op galop gaan nie, jy sal die bloeddrukpille kan weggooi en jou maagseer sal genees. En as jy sport beoefen om te ontspan, sal jy ook die voordele sien aan jou fiksheidsvlak, gewig en algemene gemoedstoestand.

Angstigheid

WAT DIT DOEN: Jou liggaam kry nooit kans om te ontspan nie. Alles is gedurig op red alert: Jou hartklop is vinniger, jou bloeddruk hoër, jou asemhaling vlakker, jou spiere bondel in knoppe in jou skouers saam en jou maag trek op ’n knop. Jou liggaam stel ook meer suur vry, wat lei tot sooibrand, maagsere en inwendige infeksies, en omdat jou liggaam se pH-balans versteur word, gaan jy sukkel met immuniteit teen siektes. Baie kenners reken selfs dat te hoë suurvlakke uiteindelik lei tot kanker. Dan het ons nog nie eers gepraat van hartaanvalle, beroerte, eetversteurings, slaaploosheid of verslawings weens voortdurende angs nie!

VERVANG DIT MET: Konfronteer jou vrese en dink positief! Identifiseer dit waaroor jy angstig is. Is dit geld, jou werk, jou huwelik of jou veiligheid? Probeer agterkom wat die angstigheid veroorsaak het: ’n inbraak, ’n verdagte SMS op jou man se selfoon of ’n begroting wat nie klop nie, en besluit dan wat jy daaraan kan doen. As jy niks aan die situasie kan verander nie, móét jy begin om dit te aanvaar. Onthou dat ons dikwels bekommerd is oor dinge wat waarskynlik nooit eers gaan gebeur nie. As jy wel ’n moeilike situasie beleef, leer ontspanningstegnieke aan, probeer genoeg slaap, gesond eet en matig oefen. En praat met jou dokter oor ’n ligte kalmeermiddel.

DIE VOORDEEL: Vrees kan verlammend wees, en dit kan gif wees vir jou verhoudings met ander mense. Vrese kan ook vooruitgang belemmer. Deur jou vrese trompop te loop, gaan jy jou gemoed ligter maak en jou stresvlak laat daal. Jy sal onmiddellik weer mens voel en ander mense sal sommer ook nader aan jou wees.

 

DEEL
Vorige artikelGroeipyne e-boek
Volgende artikelKry 24/7 energie!
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.