Keer dat selfies hulle lewe oorneem

205
selfies

Kinders is deel van ’n digitale wêreld waar hulle verhoudings bou. In plaas van om dié tegnologie te verbied, leer hulle eerder hoe om dit te bestuur.

Ons kan ons nie meer die lewe sonder daardie langarm-selfoonfoto’s voorstel nie. Dis soms lagwekkend om mense dop te hou as hulle die perfekte hoek vir ’n foto probeer kry. Ek kry dit steeds nie reg nie, my foto’s lyk altyd skreeusnaaks.

Ek was eenkeer by ’n baie deftige, spesiale geleentheid. Daar was ’n jong man wat heeltyd met sy selfoon gesit en speel het om die perfekte Instagram-foto te neem. Dit was só irriterend.

Buiten dat hy die fantastiese spreker se toespraak misgeloop het, het hy ook die mense rondom hom gepla.

Wat is die effek van selfies op jou kind?

Daar is niks fout met ’n selfie nie, dit word tog uiteindelik deel van ons digitale fotoalbum. Maar wanneer dit begin om jou kind of die mense rondom haar in gevaar te stel, kan sy moontlik ’n likeaholic wees. Dis iemand wat enigiets sal doen om likes te kry.

Ons moet besef dat ons kinders in ’n digitale wêreld ook leef. Dit is deel van hulle werklikheid. Hulle is daar ook besig om ’n indruk, ’n digitale voetspoor, te laat, wat vir hulle baie belangrik is.

Hoe jy as ouer ook al daaroor redeneer, die getal “op” duimpies en vriende wat Sussa kry, beïnvloed wel haar selfbeeld. Sy dink haar waarde word hierdeur bepaal, en dit gee haar ’n sekere status in die groep.

Help hulle om digitale tegnologie reg te bestuur

Ongelukkig is dit so dat ons kinders gedruk word om in daardie netwerke ook ’n lewe te hê en verhoudings te bou. Of ons saamstem of nie, en of ons dit verstaan of nie, ons moet hulle help om dit te bestuur.

Gesels met jou kinders. Beklemtoon dat ’n mens se waarde nie bepaal word deur dit wat aanlyn gesê word nie. Of afhang van hoeveel vriende jy op Facebook het of hoeveel likes jy kry nie.

Verduidelik dat Facebook ’n boek is wat nie ’n einde of ’n slothoofstuk het of sommer net toegeklap kan word nie. Dit wat jy daar plaas, bly daar, vir almal om te sien.

Laat hulle verstaan dat daar op Instagram derduisende foto’s is. Daardie een foto sal nie ’n mens se hele lewe verander nie. Dit kan wel ’n digitale rimpeleffek hê en ’n impak maak, maar bepaal glad nie jou waarde as mens nie.

Sekere reëls wat moet geld by selfies

Wanneer is hierdie foto’s dan aanvaarbaar? In die eerste plek, wanneer dit nie jou of iemand anders of selfs ’n dier se lewe in gevaar stel nie.

Dink ook daaraan dat jy in sommige gevalle toestemming moet hê, soos wanneer jy ’n ongelukstoneel wil afneem. Dink altyd verder en weet dat die foto wat jy van jouself neem en sommer gou op Facebook sit, lewenslange gevolge kan hê.

So, Ma, volgende keer as jy jou mond tuit en die regte hoek probeer kry, onthou dat ons baie by die millenniërs kan leer. Miskien moet jy vra vir ’n paar lesse hoe om die perfekte selfie te neem.

RIANETTE LEIBOWITZ, SaveTNet Cyber Safety

Kliek hier vir meer digitale ouerskap met Rianette Leibowitz.