Keer digitale verslawing betyds!

273
digitale verslawing
digitale verslawing

As jou kind gedurig aanlyn moet wees omdat sy niks wil misloop nie, moet jy ingryp. ’n Openhartige gesprek en reëls vir digitale gebruik is broodnodig.

Die son is besig om te sak en dis ’n goue oomblik op die strand… Dan piep die selfoon se wekker en jy word teruggeruk na die werklikheid.

Jy sit dit af en kyk gou na jou Facebook-profiel, want jy móét weet hoeveel mense het gister se plasing ge-like. Dan ook sommer gou kyk of daar ’n paar likes vir die maatskappy se twiet is. Wat trek jy vandag aan? Gelukkig is die weervoorspelling ook op jou foon.

Wanneer jy uiteindelik gereed voel vir die dag, draai jy kant toe en sê: “Goeiemore, my skat. Lekker geslaap?”

Niemand kan meer sonder digitale media klaarkom nie!

Kyk ook: [DIGITALE OUERSKAP VIDEO] Het ek dít nounet aangestuur?

Hoekom het tegnologie so ’n verslawende effek?

Miskien het jy vooraf besluit om nie toe te laat dat tegnologie ’n houvas op jou kry nie, maar as jy jou weer kom kry, kan jy eenvoudig nie daarsonder klaarkom nie.

Waarom raak ’n mens so afhanklik daarvan? Kenners sê dit lê alles in die gevoel. Daardie like of WhatsApp-boodskap stimuleer jou brein om meer dopamien, die goedvoelhormoon, af te skei.

Aan die begin is een vriendskapsversoek genoeg, maar na ’n ruk raak ons gewoond aan daardie gevoel en ons het al hoe meer stimulasie nodig om dieselfde effek te kry. Kinders trap onwetend in hierdie slaggat omdat dit so geleidelik gebeur.

Daar is selfs mense wat gevaarlike dinge sal doen net om die beste foto of video te kry om te deel. Party het al seergekry of is dood terwyl hulle ’n foto op die hoogste gebou of onder die water wou neem.

Wat is die tekens van ’n digitale verslawing?

Die tekens is eenvoudig: Iemand se gedrag verklap haar. As jy agterkom dat jy al hoe meer tyd op die internet spandeer met byvoorbeeld aanlyn inkopies of gedurig op sosiale media kuier, is daar gevaarligte.

Dit geld vir kinders ook. Aanlyn speletjies het hulle plek, maar jou spruite behoort nie elke vrye tydjie daarmee besig te wees nie.

Jy neem dalk jou selfoon saam etenstafel toe en vertel vir die kinders jy mag nie die belangrike oproep misloop nie. Maar hulle word verbied om aan tafel te WhatsApp!

Wanneer die Wi-Fi-konneksie belangriker raak as verhoudings, is daar fout.

Sodra jy agterkom dat jou kind meestal alleen is en nee sê vir ’n kuier om meer tyd aanlyn te hê, moet julle gesels.

Gesels betyds en openhartig hieroor met jou kind

Ouers moet ’n voorbeeld stel. Dus, werk eers aan jou eie gewoontes. Sorg dat julle ’n goeie verhouding met die kinders het sodat julle hierdie tipe gesprek met hulle kan voer.

Besluit saam as gesin dat daar tye is wat almal die selfone en alle elektroniese toestelle eenkant sal skuif en etenstafel toe kom om te gesels.

Laat hulle idees voorstel van aktiwiteite wat julle saam kan doen, soos bordspeletjies speel, fietsry of ’n kruietuin begin.

Die internet en sosiale media is fantasties, mits ons verantwoordelik daarmee omgaan.

RIANETTE LEIBOWITZ, SaveTNet Cyber Safety

Kliek hier vir meer digitale ouerskap met Rianette Leibowitz.