Keer só dat jy uitbrand

0
1360

Dit is beter om te voorkom dat werk en verhoudings jou tot op die rand dryf as om eers hulp te soek wanneer dit reeds te laat is.

Weet wanneer jy op die rand van uitbranding is

Volgens dr. Anthony Koller, ’n psigiater by die Akeso-kliniek, is emosionele uitputting die eerste teken van uitbranding – wanneer jy emosioneel so leeggetap voel dat jy niks meer het om vir ander te bied nie. ’n Mens kan gevoelloos en hard teenoor ander optree, al is dit glad nie jou geaardheid. Jy voel dalk ook jy is onbevoeg en oneffektief.

Dit kan manifesteer as uitbarstings, woede en gewelddadige gedrag teenoor ander; ’n swak eetlus en geen passie of motivering meer vir dinge wat jy voorheen geniet het nie. Naarheid, swak slaap en ’n alewige stryd teen siektes soos verkoue kan ook gevaartekens wees.

Doen moeite om gesonde vriendskappe te kweek

Gesonde verhoudings is die heel beste teenvoeter vir uitbranding, maar hoe gemaak as dit juis verhoudings is wat jou uitbrand?

As jy in ’n posisie is waar jy vir ander sorg – jou kinders, ’n bejaarde ouer of ’n siek geliefde – of gedurig met mense te doen het wat emosioneel veeleisend is, is dit maklik om uit te brand. Dan is dit absoluut noodsaaklik om tyd vir jouself te maak en jouself ook te versorg.

Wat verhoudings betref: Doen selfondersoek om te bepaal wat jou grense behels, en kommunikeer dit duidelik aan die ander persoon om misverstand te voorkom.

Erken dit as jy swaarkry en kry hulp

’n Mens is dikwels huiwerig om te erken dat jou verantwoordelikhede en take te moeilik is en jou laste te swaar. Niemand wil as swak beskou word of voel hulle het misluk nie. Moet egter nie stres, moegheid en gejaagdheid met betekenis verwar nie – jou lewe en bydrae het nie groter waarde omdat jy jou doodwerk nie, inteendeel, jy kan meer beteken vir jou geliefdes, werkgewer en gemeenskap as jy uitgerus en goed versorg is.

Moenie te skaam wees om betyds hulp te vra nie. Onthou, uitbranding is nie ’n teken van swakheid nie – dis ’n chroniese siekte.

Onthou jou waardes en laat vaar beheer

Tipe A-persoonlikhede – mededingende, gedrewe, ongeduldige mense – is veral geneig tot uitbranding. Moet jy altyd in beheer wees? Aanvaar daar is sekere dinge wat buite jou beheer sal wees en jy sal waarskynlik minder stres hê. Oefen die vaardigheid om dit wat jy nie kan beheer nie, te laat los.

As jy jou voortdurend in ’n situasie bevind wat nie met jou waardes ooreenstem nie, kan dit chroniese stres veroorsaak. Vind uit wat vir jou belangrik is en doen wat nodig is om jou lewe daarrondom te bou, want as jou waardes gereeld oorskry word, kan jy uitbrand.

Sien om na jouself met slaap en gesonde kos

Beskou jou slaaptyd as heilig. Dit wat nie teen aandete klaar is nie, kan oorstaan tot môre. Los die selfoon in die woonkamer en lees ’n boek wat jou help afskakel.

Eet gesond en vermy kitskos, al is jy hoe besig. Moenie na stysel en suiker gryp vir troos en energie nie. Oorweeg ’n aanvulling met kawa, passieblom of valeriaanwortel vir stres en angs, soos GNC Herbal Plus Whole Herb Valerian Root.

Kry ’n stokperdjie wat jou gedagtes heeltemal wegneem van jou werks- en huislike omstandighede, en wees gedissiplineerd daaroor om dit gereeld te beoefen. Oefening en aktiwiteite wat jou in die buitelug bring, is ideaal, maar ’n kunsklas kan ook werk.