Ken jy die blame game?

Dis so oud soos die berge. Om die waarheid te sê, Adam en Eva het daarmee begin. Onthou julle nog in Genesis?

Toe hulle in die moeilikheid beland, blameer Adam dadelik vir Eva en Eva blameer die slang. En so duur dit steeds voort. Mense is bang om verantwoordelikheid te vat vir hul dade.

Hoekom? Dalk omdat ons in ‘n samelewing leef waar perfeksie van alles en almal verwag word? Dalk is mense bang om te erken as hulle ‘n fout gemaak het of verkeerd opgetree het, want daarbuite sit duisende mense met vingers gereed op die sleutelborde om oordeel te fel. Woordklippe reën van oral op dié een wat dit sou waag om skeef te trap. Is mos lekker om veilig agter ‘n rekenaarskerm te sit en kommentaar te lewer, is dit nie?

Maar, dalk is dit ook ‘n geval van mense wat net te lui en laks geraak het om verantwoordelikheid te vat. Is mos makliker om ander te blameer. Ek sê altyd niemand is so blind soos die een wat nie wil sien nie en niemand so doof soos die een wat nie wil hoor nie. Dis hartseer hoe integriteit en waardes nie meer prioriteite is vandag nie. Ek het grootgeword met die gedagte van “jou woord is jou eer”. As jy iemand iets belowe het, doen jy dit. Na die beste van jou vermoë. As jy ‘n fout maak, erken jy dit, jy vra verskoning, jy maak reg en jy gaan aan.

Dit laat my dink aan ‘n rugbywedstryd in 2015 toe Springbok, Lood de Jager, die skeidsregter omverskoning gevra het nadat hy gepenaliseer was vir ‘n fout wat hy gemaak het. Die gebaar het ‘n verslaggewer in Australië so geraak dat hy die volgende neergepen het: The difference between rugby and most other sports? After being called for a penalty, six-foot-nine, 260-pound, 22-year-old South African forward Lood de Jager said to the referee: “Sorry, sir.”– Bill Carere. Dis twee jaar later, en steeds kry mens hierdie woorde oral oor die internet. Niemand onthou meer sy fout nie, maar almal onthou sy optrede daarna en sien hom in ‘n positiewe lig omdat hy verantwoordelikheid vir sy eie gedrag aanvaar het.

So of jy nou die een was wat die laaste koekie in die blik geëet het, ‘n afspraak vergeet het, te veel op die uitverkoping spandeer het of jou bestuurder se reisreëlings verkeerd gehad het, erken skuld, sê jy is jammer en dra die gevolge met jou kop omhoog.

Vorige artikelGebed kán wonderwerke laat gebeur
Volgende artikelMoenie ‘n klaagpot wees nie
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.