Ken jy die wonder van gemmer?

0
801

Gemmer is een van die natuur se wondermiddels wat jou op talle verskillende maniere kan help om beter te voel.

Nie almal is ewe gaande oor dié unieke, pikante smaak nie. As jy egter eers die aansienlike voordele van hierdie aromatiese wonderwortel ontdek, sal jy besef hoe ’n groot aanwins dit in jou daaglikse lewe kan wees.

Gemmer is veral ’n gunsteling in kookkuns. Dit gee nie slegs ekstra geur aan kerries nie, maar kan ook rou op slaaie en in groente- en rysdisse gebruik word. Die gebruike van die spesery is egter nie tot kosmaak beperk nie.

Die nut van gemmer om oggendnaarheid tydens swangerskap te bekamp is alombekend.

Wat my na dié wondermiddel laat uitreik het, is die sterk anti-inflammatoriese eienskappe wat dit besit. Dit verminder pyn en inflammasie, wat dit waardevol maak in die hantering van byvoorbeeld artritis en hoofpyn.

Dit versnel ook die metabolisme, wat altyd ’n bonus is. ’n Koppie gemmertee in die oggend kan jou help om ’n paar meer kilojoules te verbrand en later in die dag drange na vetterige kos te help onderdruk. Dis te heerlik saam met warm water en die sap van ’n halwe suurlemoen, ’n knippie rooipeper en ’n teelepel rou heuning. Dis my gunsteling- warm drankie as ek olik voel.

Gebruik verkieslik vars suurlemoen vir die hoogste moontlike vlak van vitamien C. So bevat vars gemmer ook hoër vlakke van gingerol en ander stowwe wat inflammasie onderdruk.

Die spesery help ook om die simptome van reissiekte, soos duiseligheid, naarheid, braking en koue sweet, te verminder.

Verskeie Amerikaanse studies het ook getoon dat gemmer nie net kan help met die verligting van menstruele krampe nie, maar ook effektief is in die stryd teen kolon- en lewerkanker.

Gemmer is beslis “gesondheid uit die grond uit!”

[RESEP] Gemmer-en-knoffel-beesroerbraai