Ken jy jou veltipe?

539

Die meeste vroue begeer ’n perfekte porseleinvel. Gesond, sag en soepel. Een wat nooit jou ouderdom sal verklap nie.

Jou vel is die grootste orgaan in jou liggaam. Dit is rede genoeg dat jou versorgingsroetine ’n prioriteit moet wees. Baie van ons is skuldig daaraan om produk na produk te koop. Hetsy dit goedkoop of duur is, want iemand het gesê dat dit vir háár werk.

Ons bly vergeet dat wat vir een persoon werk, nie noodwendig vir jou sal werk nie. Elke vrou se veltipe verskil en is uniek.

Ons spieëltafels en badkamerkassies is vol produkte gepak en gerangskik, maar hoeveel daarvan werk regtig vir jóú?
Verkeerde produkte en roetines lei tot ongewenste kondisies soos veroudering, sensitiwiteit en aknee. ’n Goeie roetine hang alles af van jou eie veltipe.

Jou vel is normaal as jy ’n goeie water- en oliebalans en gesonde tekstuur het. Indien jou gesig dun en styf voel, neig dit na ’n droë vel. Maar, as dit dikker voel, blink en vergrote porieë sigbaar is, is dit olierig. Sou dit beide droog en olierig voel, het jy heel waarskynlik ’n kombinasie-tipe.

Jy moet jou behoeftes eers kan identifiseer en verstaan voordat jy ’n versorgingsroetine begin volg. Indien jy steeds wonder, kan jy oor ’n paar kenmerke nadink.

Hoe voel jou gesig in die oggende wanneer jy opstaan? Blink dit te veel in die middag? Watter vogroomtekstuur verkies jy?

Dink ook aan die tekstuur en uitwerking van die gesigseep en hoe jou gesig voel sodra daar water op is.

Gebruik die regte produkte en beskerm jou vel wat so hard werk om jou te beskerm.
 

Karien Henrico, somatoloog

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Karien.