Ken jy ’n vloermoer?

woede

Al wil die versigtige woordeboeke dit nie publiseer nie, sê Google dat ’n tantrum amptelik ’n vloermoer is. En ’n ma wat al met ’n tweejarige so ‘n vloermoer moes beleef, sal saamstem dat dit ‘n goeie beskrywing is van wat gebeur.

Wanneer ’n peuter sy ma in die winkel uitdaag, is daar genoeg maniere om hom fisies tot bedaring te bring (al weet ons dat al die rate soms net mooi niks help nie en dat jy dit dikwels maar net moet oorleef…) Maar soms verander dié kinders in volwassenes van enige ouderdom wat nooit opgehou het met dié soort gedrag nie. En vir hulle is ek vandag so bitter jammer – grootmense wat nooit by vloermoere verbygegroei het nie en wat deur hulle emosies beheer word.

Woede is ’n emosionele boelie en sy nommer een dryfveer is dikwels selfsug. Dis ’n ontwrigtende emosie wat jou van jou innerlike vrede en gemoedsrus beroof. Die ergste van woede-aanvalle is dat dit verhoudings verpletter en in een oomblik alles kan afbreek wat deur jare opgebou is.

Woede kom soms verskuil in ander gedaantes – kyk of dit waar is van jou:

bitterheid, grimmigheid, haatdraendheid en haat, lawaai en geraas, ophitsing, naywer en jaloesie, onverdraagsaamheid, ’n behoefte om mense aan te val, skinder en kwaadpraat, kritiek en sarkasme, wraakgierigheid en ’n onvermoë om te vergewe is alles verskuilde vorms van woede.

Woede laat ’n mens se mond vinniger werk as jou kop – dis wanneer jy op jou oer-brein se impuls reageer voordat jy jou verstand bygeklits het. ’n Wyse man het eenkeer gesê dat die grootheid van ’n mens gemeet word aan die dinge wat hom kwaad maak.

Sukkel jy met woede? Die eerste tree na genesing is om dit te erken. ’n Bekende psigoterapeut, Daniel Branden, het gesê: ”Die eerste stap na verandering is bewustheid. Die tweede stap is aanvaarding.” Jy moet jouself ken en aanvaar voordat jy kan groei. Kies dat jy jou nie langer deur hierdie vernietigende emosie gaan laat beheer nie. Kry professionele hulp, soek die oorsaak en die snellers van jou uitbarstings. Word stil voor God en vra Hom om jou hand te vat op hierdie reis na bevryding.

Vorige artikelHou op kyk
Volgende artikelWen ’n FITBURY oefenstel ter waarde van R1 725‬
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.