Kennis is mag, maar waar kry jy jou inligting?

Wie onthou nog die dae wat jy ‘n hele stel ensiklopidieë gehad het om jou skooltake te doen?

As jy kennis wou inwin moes jy die dik boeke raadpleeg of biblioteek toe gaan. Vandag is dit soveel makliker, ons het die wêreld se kennis aan ons vingerpunte.

Kinders van die 70s en 80s sal onthou ons moes altyd ‘n bronnelys by ons take gesit het en wee jou as die juffrou gedink het jou bron was nie geloofwaardig nie! Om kennis in te win van betroubare bronne is vandag belangriker as ooit. Kennis is mag. Hoe meer jy weet oor ‘n onderwerp, hoe beter ingelig is jy om goeie besluite te kan neem. Maak net seker jou bron van kennis is korrek. Nie alles wat op die internet en sosiale media as feite verkondig word is waarheid nie!

Dis hier waar die groot verskil tussen kennis en wysheid lê. Kennis is om inligting te stoor, wysheid is om te weet hoe om die kennis toe te pas. Wat maak jy met die inligting wat jy oral lees en hoor? ‘n Wyse mens sal weet om nie alles blindelings te glo nie.

Wyse mense verstaan ook wat emosionele intelligensie is, hulle weet hoe om hul emosies te beheer, luister na kritiek en kan aanpassings maak sonder dat hulle voel dis ‘n persoonlike aanval.

As jy wys is, leef jy jou kop kennis prakties uit. Bowenal beskik jy oor die vermoë om te weet wanneer om stil te bly en wanneer om te praat; wanneer om inligting op sosiale media te deel en wanneer ‘n kettingbrief of boodskap net moeilikheid gaan maak of sommer bloot opstokery is.

Dink mooi voordat jy blindelings goed op sosiale media “like” en “share”. Onthou om altyd eers die bron daarvan na te gaan en hoe groter die storie of sensasie, hoe belangriker word dit dat jy eers by God en Sy Woord gaan aanklop alvorens jy die “send” knoppie druk.

Vorige artikelWonder wat bekommer
Volgende artikelDade, eerder as woorde
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.