Kersfees - Feite, fantasie of geloof?

0
109
kersfees_feite.png

Is Kersfeesviering nog relevant? Waar kom Kersfees vandaan? Is kersgeskenke en kersversierings heidense gebruike?

Die viering van Christus se geboorte

Die vroeë Christene het nie die geboorte van Christus gevier tot ongeveer 130 nC nie. Omdat die presiese datum van Jesus se geboorte nie bekend is nie (waarskynlik in Maart), is dit soms in September gevier, in oorvleueling met die Joodse Trompette-fees (Rosh Hashanah). Trouens, vir die eerste 300 jaar na Christus is sy geboortedag deur verskillende mense op verskillende tye gevier. In 320 nC het pous Julius 1 verklaar dat Christus se geboorte op 25 Desember gevier moet word. Konstantyn het in 325 nC Kersdag as ʼn amptelike feesdag vasgelê, en in 354 nC het Biskop Liberius sy onderdane amptelik beveel om die geboorte van Jesus op 25 Desember te vier. Na 354 nC het baie kerke begin om Kersfees op 25 Desember te vier, behalwe die Arminiane, wat Kersfees op 6 Januarie gevier het (die ‘dag van die doop van Jesus').

Verskillende sienings

Nie alle Christene was gelukkig met die koppeling van Christus se geboorte aan die dag van die sonfees nie. In Engeland het Oliver Cromwell byvoorbeeld alle Kersfeesvierings in 1649 – 1660 verban (die sogenaamde “Blue Laws”), omdat hy en gereken het dat Kersfees ʼn ernstige toonaard moes dra, en dat die heidense gebruike wat tradisioneel daarmee saamgegaan het, afbreuk gedoen het aan die ware betekenis daarvan. Tot vandag toe loop die sieninge oor Kersfees uiteen. Aan die een kant is dit merkwaardig dat dit so ʼn universele fees geword het; aan die ander kant vul Christene dit met ʼn spesifieke betekenis.

Gebruike rondom Kersfees

Tydens die twaalfde eeu is gebruike van die Romeinse sonfeeste oorgedra op die sogenaamde twaalf dae van Kersfees (25 Desember tot 6 Januarie). ’n Voorbeeld hiervan is die gebruik om geskenke te gee. Aanvanklik was dit eenvoudige items soos gevlegte takkies, gegee as gelukbringers. Gou het dit egter gegroei tot geskenke soos kos, juwele, kerse en standbeeldjies van gode.

Die Kersvader-figuur

Die verskyning van Kersvader kan teruggevoer word na Victoriaanse Engeland, soos beskryf in Charles Dickens se A Christmas Carol (1834). Kersvader gaan egter verder terug, en herinner aan St. Nikolaas, the beskerm-heilige van kinders. In 1860 het ʼn Amerikaanse illustreerder, Thomas Nast, die figuur van Father Christmas (Santa Claus) die eerste keer geskets op grond van onder andere interpretasies van Sint Nikolaas. Tydens die Middeleeue is talle kerke ter ere van hierdie Sint Nikolaas gebou. Hy is dikwels uitgebeeld in sy rooi en wit biskop-klere, terwyl hy op ʼn donkie ry om geskenke aan kinders te gaan oorhandig.

Sommige verbind Kersvader egter ook met ʼn heidense gees met lang, wit hare en wat geklee sou wees in ʼn lang gewaad. Kinders kon hulle versoeke in briewe vir hom skrywe, maar dit nie pos nie – eerder in die vuurherd gooi, en die Kersvader-gees sou natuurlik dan die rook kon lees. Moontlik kom die gedagte dat hy deur die skoorsteen kon (terug) kom om die geskenke te bring, ook hiervandaan.

En Kersfees vandag?

Hoe moet ons dus vandag oor Kersfees oordeel? Dit gaan inderdaad dieper as bloot die vasstelling en handhawing van ʼn presiese historiese datum. Dit gaan oor die historiese werklikheid van die geboorte van Jesus (al weet ons nie al die besonderhede daarvan nie), maar veral ook oor die geloofskeuses wat ʼn mens aangaande Hom moet maak.

Dis belangrik om te verstaan dat die menswording van Jesus (inkarnasie) beteken dat God Hom laat inpas en aanpas by bestaande menslike strukture en gebruike, juis om dit met nuwe inhoude te vul. Dikwels vind mens in die Bybel dat bestaande, selfs heidense tradisies, deur God se ingrype ʼn totale nuwe betekenis verkry. Deur die inkarnasie word dit geheilig, wat beteken dat dit ʼn heel nuwe inhoud en betekenis ontvang. Christus kom gee byvoorbeeld nuwe betekenis aan vrede en blydskap, aan geskenke gee en feesvier. Hy is nou self die sentrum daarvan.