Kersfees is ook ʼn tyd vir gee…

kersfees tyd vir gee

“…Wat ek is, is net genade. Wat ek het, net geleen…”

Hierdie lirieke uit die bekende Koos du Plessis gebed het my aan die volgende gebeurtenis laat dink wat ek met die lesers voor Kersfees moes deel.

Dis 6 Desember 2019 te Swakopmund. Ons hou groot Makieti as gekroonde Kwêla se dorp van die jaar 2019. Die Makieti is reeds in volle swang en word behoorlik gevier.

Maar aan die buitekant van die heinings waar die klanke en geure jou verwelkom, speel ʼn heel ander verhaaltjie hom buite af.

Ek sit in my motor in die parkeerterrein en wag vir my familie vanuit Walvisbaai om by my te kom aansluit.

Dis ʼn warm dag en teen 6uur die namiddag staan die temperatuur nogsteeds in die 30’s.

Ek sit met my motordeur half oop en toe gewaar ek haar… ʼn Vroue karwag.

Sy is reeds warm aangetrek met ’n mus oor haar kop. Reeds voorbereid vir wanneer die weer sou draai. Reg vir wat kan kom. En ek weet, sy staan al hier van vroegoggend af en reg om die nag deur te werk.

Agter op haar rug ʼn kleintjie vasgemaak.

En onmiddelik kry ek weer daardie ou bekende empatie en onderskeidings gevoel. En ek weet die Heilige Gees is weer besig om met my te praat.

My motor staan 3de van voor af.

Ek sien sy is aangestel oor die 1ste ry.

En ek bid en vra vir die Here om my die geleentheid te gun om voor ʼn parkeer plekkie te kan kry.  

En net soos ek Amen sȇ, trek daar wraggies ʼn motor vanuit die 1ste ry uit.

En ek weet dit is nou my kans om die leë parkering op te neem.

En ek glimlag net en kyk op. En ek weet God was nog nooit laat in sy perfekte tydsberekening nie.

Sy wys vir my die plekkie aan soos ek om die draai kom.

Sy glimlag vir my en ek vir haar toe ek uitklim.

En sonder om haar gevoelens seer te maak vra ek haar baie vriendelik en versigtig of ek dalk vir haar ietsie kan koop om te drink of te eet want dis baie warm vandag.

Sy sȇ toe vir my hoe sy heeldag gewonder het waar sy vandag gaan kos kry om te eet. Want sy is baie honger.

Ek vra haar toe of sy heeldag so met haar kleintjie so op haar rug moet werk? Sy deel my mee dat die kleintjie eindelik haar suster s’n is en ook ’n karwag wat in die 2de ry staan.

En dat hulle beurte maak om die kindjie te dra tot iemand van die familie sal kom om die kleintjie te haal.

Ek vra haar toe wat ek vir haar kan koop. Haar antwoord was “enige iets reg sal wees”.

Ek vra toe wat ek vir die kleintjie kan koop.

Sy sȇ toe dalk net ʼn sappie.

Ek sȇ vir haar toe ek wag eindelik vir my suster-hulle maar gaan gou vir haar en die kleintjie binne kos koop.

Reg met ’n lang worsbroodjie, medium grootte slap chips, ’n coke en ʼn sappie in ʼn sakkie en ’n frizzer in my broeksak kom ek uit…

Met ’n glimlag begroet sy my weer en ontvang half verbaas die sakkie kos in ongeloof maar in dankbaarheid.

So asof sy al in die verlede teleurgesteld was deur verwagting van anders mense van beloftes nie nagekom het nie.

Met haar dankbare hart sȇ sy baie dankie. En ek antwoord en sȇ dat dit nie eindelik van my afkom nie, maar van God af.

Want hyt my gesȇ om die kos vir jou te koop. En tot my verbasing sȇ sy ek moet asseblief vir God ook dankie sȇ. En vir ’n oomblik wonder ek of sy dan nie vir God ken nie?

En ek word herinner daarin dat ons, ons geloof moet leef, want soms is ons die enigste Bybel of woord of beeld van God wat ander mense ooit sal ken.

En hierdie tevrede gevoel vul my binneste, want ek weet ek het nou op die Gees se influistering geluister. Iets goeds vir iemand gedoen en dit gee my ʼn ongelooflike vredesgevoel.

Tot my verbasing loop sy met die sakkie kos na die ry net agter haar waar haar sussie staan. En ek sien hoe sy haar kos met haar sussie in die helfde deel.

En skielik is ek spyt ek het nie ’n dubbele porsie gekoop nie, want haar sussie het my heel ontgaan.

En haar sussie kyk ook vir my en waai vir my en jy sien net tande. Ek word toe bewus van die frizzer in my broeksak.

Ek stap nader, groet haar ook en gee vir die mamma haar kleintjie se lekkertjie vir later.

Ek sȇ toe ook vir haar, dat my suster-hulle oppad is dan moet sy sommer na hulle motor asseblief moet omsien.

En terwyl ek wegstap bel ek gou my suster en vertel kortliks wat gebeur het en dat ek hulle sal wys waar om te parkeer.

En ek weet vanaand kan ons as familie hierdie gesin, met ’n groter fooitjie help.

Ek gaan staan weer by my motor en die toneel wat volgende hier voor my afspeel roer my hart… en laat my swaar sluk aan die knop in my keel.

Die karwag wat na my motor omsien breek ʼn stuk van haar halwe worsbroodjie af en gee dit aan ʼn uitgeteerde rondloper straatbrak.

Sy’t nie baie nie, maar tog sy deel nogsteeds uit aan ʼn honger hond.

Ek weet min mense besef wat dit is om desperaat afhanklik en wanhopig te wees. En in hopeloosheid nogsteed ʼn goeie hart te hȇ.

Mag ons sommer hierdie Kersfees ’n spesiale kersfees maak.

In plaas van om R10 of R20 meer te spandeer op kos of geskenke, hoekom seën ons nie  ʼn arm persoon daarmee nie?

Want ʼn R10 of R20 noot kan vir hulle ʼn brood en ʼn melk beteken.

Daar is ʼn gesegde wat sȇ… jy’t nog nooit werklik gelewe, voor jy nie iets vir iemand gedoen het wat jy weet jou nooit sal kan terugbetaal nie…

Kom ons maak ons beursies en hande oop hierdie jaar… dis Kersfees… dis ook ʼn tyd vir gee en ek belowe die dankbaarheid van die gebaar sal julle soveel vrede gee.

Vorige artikel[VIDEO] Hoe kan ek God meer vertrou?
Volgende artikelPampoenkoekiesosaties
Blogger - Lisie Köstens
Vandag kyk ek terug oor my lewe van 47 jaar waarin daar ongelooflike moeilike swaarkry en hartseer tye was.Tye waar ek nie geweet het hoe en of ek dit gaan maak nie. Tye waar ek uitgeput, moedeloos en oorlaai was. Maar ek het dit gemaak! Ek het in my leeftyd ʼn enigste kind groot gemaak, my grootste eer en prestasie tot op hede, om ’n trotse ma te kan wees! Ek het my self opgewerk en deeltyds studeer en dit saans na werk terwyl ek ʼn ex-man, kind en huishouding aan die gang moes hou. Ek is o.a. deur ʼn skeisaak, bankrotskap en het baie in die proses verloor. Maar ek het nooit gaan lê nie! Want ek is ’n "fighter". Ek het weer opgestaan, oorbegin, opgebou, leer vertrou en daarna weer lief gekry en seergekry. Vandag sê ek vir die Here dankie dat ek gesond is, werk het en ’n ongelooflike ondersteunings netwerk van familie en vriende. Nogsteeds geseënd. En belangrikste van alles bedank ek my Saligmaker en Skepper, want, Here deur dit alles was U nog altyd daar. Dankie dat U ook vir my kom uitkies het. Dankie dat ek U kan ken. My toekoms lê oop voor my en ek kan nie wag om te sien Wat en Wie U vir my volgende beplan het nie!