Kevin Leo moes haar vergewe

0
398
kevin_leo_sanger.jpg

Wat doen jy as die lewe jou ’n dwarsklap gee? Gewilde sanger Kevin Leo moes besluit of hy gaan terugklap of wegstap. Met volwasse rustigheid vertel hy hoekom terugklap nooit die regte antwoord kan wees nie.

Die telefoon lui. Dis ’n joernalis. “Jou eksvrou het aantygings gemaak oor fisiese en emosionele mishandeling in julle huwelik. Ook dat sy sukkel om onderhoudgeld uit jou te kry,” verduidelik sy. “Ons wil graag jou kant van die storie hoor.”

Ek is uit die veld geslaan. Hoe reageer ’n mens op so iets? Ek weet wie en wat ek is, en ek is nie bereid om deel te word van ’n speletjie waar ’n emosionele speelbal heen en weer geslinger word nie.

“Ek het geen kommentaar nie,” antwoord ek beslis. Maar haar woorde bly in my kop. My foto en die aantygings teen my word op die voorblad uitgeblaker. Dit laat my vuil voel. Kwaad. Alleen en verraai.

Al het ek besluit om stil te bly, was dit glad nie minder traumaties nie. Ek het die afgelope maande ’n rowwe pad gestap. Eers die egskeiding, toe die aantyging. Alles het baie diep gesny.

Die egskeiding en aantygings het my in ’n warboel van emosies gedompel. Wat nou? Hoe moet ek al hierdie dinge hanteer? Wat is volgende? Ek moes gou leer dat die beste plan van aksie juis is om emosie heeltemal uit die ding te haal. Om jou besluite en reaksies op logika te grond en nie op jou wipplank van gevoelens nie.

Ek het vir berading gegaan en my hart teenoor ’n briljante pastorale sielkundige uitgestort. Wat ’n wyse besluit! Dr. André Botha het my gevoelens in perspektief geplaas en verduidelik dat egskeiding en alles wat daarmee gepaardgaan, selfs erger is as die dood van jou eie kind.

Hoe traumaties jou kind se dood ook al mag wees, ’n mens kan nog daaroor rou en weet dis finaal verby. Met egskeiding, veral as daar kinders betrokke is, is dit anders. Dis ’n “gedwonge dood” wat net aanhou en aanhou. Jy bereik nooit ’n stadium van finaliteit nie, want die betrokkenes het steeds raakpunte met jou persoonlike lewe.

Dr. André het vir my uitstekende raad oor liefde en verhoudings gegee. Ek wens iemand het dit jare gelede vir my gesê, nog voordat ek getroud is. Hy het verduidelik dat ’n gesonde huwelik op drie pilare rus.

[Pagebreak] Al drie moet daar wees, anders het jy ’n wankelrige verhouding. Die eerste een is geloof en om dit openlik te kan uitleef. Die tweede en derde is vriendskap en respek. Ek het nogal gereken dat liefde een van die pilare behoort te wees, maar hy het verduidelik dat liefde outomaties deel van die pakket is as hierdie drie dinge teenwoordig is. Liefde kan eenvoudig nie ’n pilaar wees nie, omdat dit ’n baie wankelrige emosie is.

Die feit dat ek rustigheid in my gees het oor wie ek is, het my baie gehelp om weer van die grond af op staan.

Ek is wie ek is. Ek wéét ek kom van God af. Hy het ons almal – my inkluis – met spesifieke talente vir ’n spesiale doel geskape. Die Kevin Leo wat op die verhoog staan en sing, is dieselfde ou wat by die huis lief is vir kosmaak, wat dit geniet om tyd saam met sy kinders deur te bring en wat graag saam met familie en vriende kuier.

Maar om by hierdie punt van selfaanvaarding en vrede te kom, het nie oornag gebeur nie. Dit het lank gevat om gemaklik te raak met wie en wat ek is.

Ek het opnuut besef ek moet presies wees wie ek is! Dit was ’n groot openbaring om te weet niks van my is “per ongeluk” nie. Ek is só gemaak met ’n rede. Dis ook ’n groot deel van my persoonlikheid om mense te wil dien. Om ’n verskil te maak in ander se lewens. Om hierdie eienskappe uiteindelik in ’n volwasse beroep te laat saamwerk, was ’n uitdaging op sy eie. Ek het altyd geweet ek wil mense help, maar hoe? En waar pas my brandende liefde vir sang en musiek in?

My eerste “regte” werk daarna was by ’n versekeringsmaatskappy. Maar dit was’n doodloopstraat. Elke dag in my pakkie klere werk toe; toebroodjies in ’n Tupper-bakkie onder die arm. Dieselfde roetine oor en oor, dagin en daguit. Dit het my menswees versmoor.

En toe kom ek agter om ’n sanger te wees is ook ’n beroep. Wat ’n openbaring! Skielik het my passie om te dien en my talent om te sing in perfekte simbiose begin saamwerk. Alles waarteen mense my gewaarsku het – hoe ek sou sukkel sonder geld, hoe lank dit sou vat om ’n sukses daarvan te maak – het waar geword, maar dit was die moeite werd!

[Pagebreak] Nou kon ek vir die eerste keer gemaklik in my skoene staan en my twee passies uitleef: sing en dien.

My egskeiding, en die aantygings daarna, het my beslis ook op ’n verdiepingsreis in my geloof gevat. Ek ervaar God nog altyd as ’n Pa wat my baie liefhet nes ek is, maar in hierdie donker maande was dit selfs méér so. Hoeveel keer het ek nie op my knieë voor Hom gehuil en gevra vir leiding nie … En Hy het dit elke dag soos ’n lantern op my pad laat skyn. Hy sien orde in die chaos en gee jou altyd ’n uitkomkans.

In elke gesprek met God het dié ding in my kop kom druis. Hoe kan God my enigiets vergewe as ek nie ander mense kan vergewe nie? Dit was moeilik! Ons is nie masjiene waar jy net ’n knoppie kan druk en die pyn afsit nie. Jy moet stuk-stuk daardeur werk. En soms dag na dag opnuut vergewe as dit moet. Maar dit ís die enigste pad na genesing. Om kwaad te bly of te trots te wees om te vergewe is ’n gevaarlike speletjie. Dit sal jou heeltemal afbreek totdat daar niks van jou oor is nie.

Ek het ook geleer dat liefde die pleister is wat jou sielswonde kans gee om gesond te word. Dit werk soos daardie oulike advertensie waar die seuntjie die pleister afhaal en verbaas vra: Where did my cut go? Ek het intussen ’n nuwe liefde ontdek in ’n ou vriendskap wat baie jare gelede reeds begin het. Ek en Elizma Brink, wat deesdae ook my musiekagent is, was al goeie vriende toe sy nog op skool en ek op universiteit was. Ons ken mekaar deur en deur; daarom was dit so lekker om mekaar na jare weer raak te loop en voort te bou op ons spesiale vriendskap van destyds. Vandag is ons net baie meer volwasse en wyser as in die verlede. Dit gaan goed en ek sien uit na hierdie nuwe fase in my lewe.

Iemand het eenkeer gesê dat dit ’n tegniese vereiste vir ’n vliegtuig is om teen die wind op te styg. Dis ’n goeie beeld van hoe ek graag na uitdagings kyk. Jy kan dit positief of negatief hanteer. Jou keuse sal bepaal of jy sal kan uitstyg of verpletter op die grond gaan bly.

Ek het gekies om positief te wees … en daarom vlieg ek weer!