Kies die regte mediese fonds

0
777
hospitaal_plan.jpg

Hospitaalplan? Spaarplan? Omvattende dekking? As dit jou deurmekaar maak, kan jy só jou opsies vergelyk.

Daar is ’n aantal stappe in die proses om die regte mediese fonds te kies. As jy van fonds of pakket wil verander en jou opsies teen mekaar begin opweeg, is dit eerstens belangrik om te bepaal wat jou behoeftes is.

1. Wat is die beste dekking vir ’n enkellopende?

JOU BEHOEFTE: As blakend gesonde enkellopende persoon het jy nie dieselfde mediese kwellings as iemand met ’n gesin nie. Jy hoef jou nie te veel te bekommer oor ’n mediese spaarrekening wat vir dag-tot-dag mediese koste betaal nie. Die doktersafspraak wat hier en daar voorval, kan jy self betaal.
ONTHOU! Soek ’n plan wat jou jaarlikse mediese ondersoeke sal betaal, soos tandartsafsprake.
DIE BESTE PLAN VIR JOU: Probeer Bonitas Primary, waar jy R1 550 per maand aan bydraes betaal. Jy kry ’n klein spaarrekening van R1 600 en onbeperkte basiese tandartsdekking, sowel as onbeperkte hospitaaldekking. Andersins is daar Momentum se Custom-opsie. Jy betaal R1 705 ’n maand en geniet onbeperkte hospitaaldekking. Dag-tot-dag mediese uitgawes betaal jy self.

2. Ek wil in my gesin se mediese behoeftes voorsien

JOU BEHOEFTE: Jy het ’n plan nodig wat jou meer fondse bied vir daaglikse mediese behoeftes, soos doktersafsprake en medisyne.
ONTHOU! Gesinne verskil. Jou kind moet dalk medisyne gebruik vir ’n chroniese toestand soos asma. Maak seker dat die fonds aan julle spesifieke behoeftes sal voldoen.
DIE BESTE PLAN VIR JOU: Medihelp se Dimension Prime 2 kos R4 146 vir jou, jou man en twee kinders. Daarby kry jy R10 584 in jou mediese spaarrekening. ’n Ander opsie is Discovery se Classic Saver-plan. Jy kry ’n mediese spaarrekening van R16 848 vir ’n gesin van vier. Jou maandelikse bydrae sal ongeveer R5 620 wees. Discovery bied jou ook hulle Vitality-program, wat afslag op baie ander produkte gee.

3. My geld is skraps, wat doen ek nou?

JOU BEHOEFTE: Mediese koste in Suid-Afrika kan soms astronomies wees; tog sal dit kortsigtig wees om jou mediese dekking te staak. Ongelukke gebeur, so, jy moet ten minste ’n hospitaalplan uitneem.
ONTHOU! Jy kry deesdae hospitaalplanne wat ook vir sekere chroniese toestande betaal. Daar is egter nou sekere mediese fondse wat baie goedkoper is en wat jou basiese dekking bied.
DIE BESTE PLAN VIR JOU: Discovery se Keycare Plus se maandelikse bydrae word uitgewerk volgens jou maandelikse inkomste. As jy tot R7 050 per maand verdien, kos dit jou R1 528 vir jou en jou man. Vir ’n gesin van vier sal dit R2 080 wees. Jy kry onbeperkte hospitaaldekking mits jy hulle netwerk van diensverskaffers gebruik. As jy eerder ’n hospitaalplan verkies, probeer Bonitas se Bonessential, wat R2 800 vir jou gesin sal kos.

4. Wil jy die beste mediese plan vir jou goue jare hê?

JOU BEHOEFTE: Jy is nou ouer en jou kinders is uit die huis. Jy wil nogtans betroubare mediese dekking geniet, veral vir chroniese toestande wat mag opduik namate jy ouer word.
ONTHOU! Jy het ook goeie hospitaaldekking nodig, want hartaanvalle en beroertes is altyd ’n moontlikheid.
DIE BESTE PLAN VIR JOU: Discovery se Classic Delta Comprehensive is ’n goeie opsie omdat dit baie goeie dekking vir chroniese toestande bied. Die plan bied dekking vir 56 chroniese toestande, terwyl die wet net vereis dat mediese fondse vir ten minste 25 chroniese toestande betaal. Dit sal jou wel R6 478 per maand vir jou en jou man kos. Momentum se Extender Option dek 62 chroniese toestande. Vir jou en jou man is die maandelikse premie R7 551.

’n Paar wenke om die regte plan te kies

  • Dit is belangrik om te probeer voorspel watter siektes jy in die toekoms kan kry. As jy ’n familiegeskiedenis van kanker of hartsiekte het, moet jy beslis ’n fonds gebruik wat dit behoorlik dek.
  • As dit by hospitaalprosedures kom, vra privaat hospitale vir mediesefondslede baie meer as die skemakoers. Dit beteken dat ’n groot gedeelte van die koste op jou kan neerkom. Sommige mediese fondse probeer die druk op jou verlig deur tot 200% van die skemakoers vir bepaalde prosedures te betaal. Kyk uit daarvoor.

Daar is altyd sekere koste wat mediese fondse nie sal dra nie. Maak seker jy weet presies watter voordele jy met ’n bepaalde pakket gaan geniet sodat daar nie later ’n wrede ontnugtering op jou wag nie.