Kies jou eie kos

0
20
kies.png

Air Baltic is ‘n laekostelugdiens en het nou ‘n baie goeie plan uitgedink. Jy kan tot 24 uur voordat jy vlieg, op hul webtuiste gaan en dan jou eie kos kies. Daar is ‘n klomp moontlikhede op die spyskaart, en dan kan jy jou bord volmaak deur die kos van jou keuse te “drag and drop” tot in jou bord. Wanneer jy dan in die vliegtuig klim, gaan jy presies kry wat jy voor die tyd gevra het.

Dit is ongelooflik om te sien hoe hierdie tendens (om presies te kies waarvan net jy hou), al hoe meer begin oorneem op elke vlak van die samelewing. As ek en Lottie in my motor ry, kan ons ook elkeen afsonderlik die temperatuur kies wat ons self wil hê. Op my selfoon kan ek my eie luitoon kies. Ek het verlede week ‘n deurklokkie gekoop, en daar is ook ‘n hele paar moontlikhede waaruit ek kan kies watter luitoon ek wil hê. Maar dit alles maak dat mense ook kieskeurig raak oor watter geestelike voedsel hulle in  die kerk wil ontvang. Dit moet presies wees wat by hulle pas. Anders gaan soek hulle dit by ‘n ander kerk. Ek stel myself voor hoe mense voor die tyd ook met die kliek van ‘n muis wil bestel wat hulle in die erediens verlang. Die een persoon vra stilte, die ander vra lofliedere, die ander vra getroue Woordverkondiging, en jy moet in een uur presies elkeen in die kerk se behoefte aanspreek. Maar so verander mense ook die Bybel met allerhande pogings tot herinterpretasie sodat dit by hulle lewenstyl inpas en aanpas. Ook God moet geherdefinieer word sodat God by my lewe kan aanpas (en nie andersom nie). Ek is die middelpunt, nie God nie.

Hierdie selfgesentreerde benadering maak dat ons belangrike waarhede mis. In die eerste plek gaan ‘n kerk nie oor wat ander  vir my kan doen nie, maar eerder oor wat ek vir ander kan doen. Net so moet ek ook weet dat godsdiens gaan nie oor my behoeftes wat bevredig moet word nie, maar oor God wat gedien moet word. Dit staan so duidelik vir ons opgeteken in die heel laaste hoofstuk van die Bybel. In verse 8 en 9 lees ons dat  toe Johannes dit gehoor en gesien het, het hy voor die voete van die engel wat dit alles vir hom gewys het, op sy knieë neergeval om hom te aanbid. En dan staan daar dat die engel geantwoord het: “Pas op, moenie! Ek is ’n mededienaar van jou en van jou medegelowiges, die profete en dié wat die woorde van hierdie boek ter harte neem. Aanbid God!”

Let op die laaste twee woorde: “Aanbid God!”