Kies jou woorde versigtig

806

Wat jy sê, is soos tandepasta wat uit die buisie gedruk word. Net soos dit nie teruggedruk kan word nie, kan woorde nie ongedaan gemaak word nie.

Dit wat jy spreek, kan lewens verander. Dit kan seën en genesing bring en iemand se dag ophelder. Of dit kan afbreek en seermaak. Wees daarom spaarsamig met jou woorde.

Opbouende gesprekke laat verhoudings floreer

Dis verstommend hoe mense woorde rondslinger sonder om te dink. Jy sien dit in die verkeer wanneer bestuurders mekaar met woorde verbrysel; wanneer kinders sonder respek met hulle ouers praat, of wanneer vriendinne skinderstories versprei. Om nie eers te praat van hoe mense mekaar op sosiale media vernietig nie – so asof woorde in die kuberruim nie gewig dra nie.

Suksesvolle verhoudings word gekenmerk deur ’n oorvloed opbouende en bemoedigende woorde. Verhoudings wat sneuwel, is bevlek met negatiwiteit en kritiek. Navorsing toon dat ’n huwelik waar maats nie effektief kan kommunikeer nie, maar ’n skrale 4% kans staan om te slaag.

Die boek Words Can Change Your Brain deur Andrew Newberg en Robert Waldman vertel dat aanhoudende negatiewe gedagtes en woorde jou letterlik breinskade gee. En dat woorde selfs ’n effek op jou liggaam en gesondheid het. Negatiewe woorde maak ’n mens angstig en geïrriteerd en tas ook jou woordeskat aan.

Luister meer en praat minder

Wees daarom versigtig met wat in jou gedagtes omgaan, want dit bepaal jou woorde en dade, volgens Spreuke. Was jy al spyt oor iets wat jy gesê het? Om stil te bly het meestal meer positiewe gevolge, maar om dit reg te kry is nie maklik nie, want ’n eie opinie tel mos!

Tog, om minder te praat help jou om jou woorde beter te kies, want jy moet dit eers bedink. Hoe minder ons praat, hoe meer luister mense wanneer ons wel iets sê. Dis belangrik om selfbeheersing toe te pas as dit by praat kom. Gebruik woorde met groot omsigtigheid.

As ons luister, heg ons waarde aan mense; dit is ’n manier om lief te hê. Interessante navorsing toon dat ons 10 keer meer negatiewe goed vir ons kinders sê as positiewe goed. Ons dink ook dikwels die slegte dinge verdien meer aandag as die goeies, gevolglik fokus ons op alles wat hulle verkeerd doen en vergeet van die baie dinge wat hulle reg doen.

Wanneer jy na iemand luister, verdiep en verinnig jy julle verhouding, en dit skep intimiteit. Dit sê dat jy omgee en dat die ander persoon se behoeftes vir jou belangrik is.

Hoe jy iets sê, is belangriker as wat jy sê

Nog ’n manier hoe ons woorde beter kan gebruik, is om sagkens met ander om te gaan. Laat ander liefde, genade en goedheid in jou stem hoor.

Sommige mense sê: “Ek is wie ek is! Ek sê ’n ding soos hy is! Take it or leave it!” Eerlikheid in enige verhouding is belangrik, maar die manier waarop jy dinge aan ander oordra, is belangriker. Mense word afgestoot deur die taktloosheid van mense wat praat voor hulle dink. Jy gaan in elk geval nie veel op dié manier regkry nie. Wees eerder ’n voorbeeld. Familie van God praat anders as die wêreld – met liefde en deernis.

Jou woorde vertel of jy geestelik volwasse is. Aanvaar verantwoordelikheid vir wat jy sê. Dink oor jou woorde, bring hoop, bring genesing. Jy kan vandag ’n lewe aanraak!

Liesel Krause-Wiid, Geloofsgroei, berading en gesinsterapie

Kliek hier vir meer videos en artikels van Liesel.