kies jy God of kos?

0
14

Hoekom crave ’n mens?

Met beloftes aan jouself van: “Hierdie week gaan ek beter doen, harder probeer, beter keuses maak,” staan jy uit die bed op. Maar al jou goeie voornemens verdwyn soos mis voor die son as jy die varsgebakte skons ruik wat jou dogter uit die oond haal. Die skaal het jou reeds vanoggend in die steek gelaat, so, watter verskil sal ’n skon, of twee, maak. Vyf skons later besluit jy dat jy beslis môre weer gaan begin. Vandag het jy in elk geval gefaal, so: “Nog ’n skon, sommer dié keer met konfyt, asseblief!”

 

In haar boek Made to Crave: Satisfy your Deepest Desire with God, not Food, skryf Lysa TerKeurst dat elke vrou wat ’n probleem met kos beleef, eintlik wéét sy moet haar leefstyl verander. Ons lewens draai rondom kos. Kos word ’n beloning, ’n vreugde, ’n troos.

Vra jouself af: “Hoe gaan dit regtig met my? Wat is die ware feite oor my geestelike en emosionele toestand?” Dis nie iets waarmee vriende of familie jou kan help nie. Net jy, in totale eerlikheid met jouself, kan die realiteite van jou liggaamlike en geestelike gesondheid beoordeel.

Lysa beweer dat ’n craving, eintlik ’n poging is om ons begeertes buite God te bevredig. Ons dink allerhande verskonings uit net om ons cravings te bevredig: “Ek maak al klaar so baie opofferings”; “Ek het kos nodig om deur hierdie tyd in my lewe te kom”. Maar verskonings bring ’n mens nêrens.

 

Wat weeg swaarder: God of kos?

Vra hierdie moeilike vraag vir jouself: Is dit moontlik dat jy meer op kos staatmaak as op God? Is jy liewer vir kos as vir God? Hierdie vraag is baie belangrik, want jou stryd om byvoorbeeld gewig te verloor en ’n gesonde leefstyl te volg, moet oor meer gaan as ’n kleiner rokgrootte.

Maar dit is juis die probleem. Wanneer jy liggaamlik oorgewig is, is jy dikwels geestelik en emosioneel ondervoed. Deur hierdie twee pole bymekaar te bring, neem jy die eerste tree vorentoe op een van jou belangrikste reise – saam met God! Hierdie reis gaan oor baie meer as net om gewig te verloor. Dit gaan daaroor om daagliks beter besluite te neem en om te luister na daardie stemmetjie in jou kop wat jou in die regte rigting aanpor maar wat jy so graag ignoreer.

Ons vroue het ook dikwels ’n verwronge beeld van onsself. Ons sin vir identiteit en waarde hang baiekeer af van ons omstandighede, ons gewig of van wat ander mense van ons dink. Maar deur hierdie sienswyse te verander, kan jy ’n lewende bewys word dat dit moontlik is om die bose kringloop van skommelende gewig te verbreek. Dink net hoe lekker dit sal wees as jy op die skaal kan klim en die syfer aanvaar vir wat dit is, naamlik ’n aanduiding van wat jou liggaam weeg eerder as ’n aanduiding van jou waarde!

 

Maak die skuif in jou kop

’n Gesonde leefstyl gaan nie net oor gewigsverlies nie. Dit gaan oor ’n algeheel gesonde leefwyse. Dit gaan daaroor om ’n totale kopskuif te maak. Die geestelike deel is die belangrikste. Net as jy op hierdie terrein die regte skuif maak, sal jy ’n helder perspektief op hongerte en kos kan kry.

’n Mens het ook dissipline nodig om dinge aan te pak en klaar te maak. Jy het pligsgetrouheid en deursettingsvermoë nodig om die regte keuses te maak vir ’n gesonde liggaam en ’n energieke gees.

 

Vervang jou cravings

Sonder dat jy dit bedoel, is jou gewig die indirekte weerspieëling van jou keuses en jou algemene gesondheid. God het ons vir meer as die bose kringloop van eet, gewig aansit, stres, meer eet …, bestem. Nie een van ons wil in hierdie bose kringloop vasgevang wees nie. Maar min van ons kry dit reg om op ons eie met ’n lewensveranderende plan vol te hou. Ons het ’n maatstaf nodig om onsself aan te meet.

Dis makliker om met iets vol te hou as jy jou eie vordering aan dié van ’n vriendin kan meet en op haar ondersteuning kan staatmaak. ’n Vriendin wat jou aanspreeklik sal hou vir jou dade, wat eerlik met jou sal wees en uit liefde saam met en vir jou sal bid.

 

Die aha-oomblik!

’n Mens vervang God met kos. En dis gewoon ongesond! Daardie ongelooflike lus wat jy skielik vir ’n stuk kaaskoek het, is eintlik ’n behoefte om te bid en God se nabyheid te ervaar. As jy ’n gesonde geestelike lewe wil hê, moet jy bereid wees om ander dinge in jou lewe prys te gee. As jy waarlik naby God wil wees, moet jy afstand doen van jou kos-cravings. Dis tyd om jou geestelike koers te verander. God het ons gemaak om te crave. Maar nie na kos, geld, sukses of ander aardse dinge nie. Ons moet na Hom crave.

 

Wat is die oplossing?

Vra heel eerste vir die Here om jou die wíl te gee om gesond te lewe. As jy dit vir aardse redes probeer doen, sal jy nooit daarmee volhou nie. As dit daarenteen vir jou ’n geestelike besluit is wat deur God geïnspireer is, kan dit ’n leeftyd hou.

Sodra jy tot hierdie besluit gekom het, gaan dokter toe. Vra vir ’n volledige mediese ondersoek. Laat toetse doen om seker te maak jy is fisies gesond. Vra jou dokter of dieetkundige om ’n eet- en oefenprogram voor te skryf wat spesifiek vir jou mediese toestand uitgewerk is. Jy is gemaak om op te staan en jou probleme te oorwin. En jy kan dit doen met die hulp en krag van God.

 

God daag jou vandag uit om jou obsessie met jou lyf aan Hom oor te gee. Dit beteken oorgee sodat jy radikale veranderinge in jou geestelike gesondheid kan maak. Hierdie besluit is selfs belangriker as jou fisiese gesondheid.

Vee nou die honderde verskonings permanent uit jou boekie. Vervang dit met: “Ek is vir meer bedoel, ek is vir beter dinge in die lewe bestem.”

Ons kort krag ver bo ons eie brose pogings. ’n Krag groter as ons hormone, versoekings en ingebore lus vir sjokolade. Ons kort hierdie waarheid oor wie ons werklik is. Eers dan kan ons die lewensreis na fisiese en geestelike gesondheid met ywer en passie aanpak.

 

DEEL
Vorige artikelons het 95 kg verloor!
Volgende artikelwerkende ma
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.