Kies om deur teleurstelling te groei

0
440
ashleigh_moolman_passio.png

Ashleigh Moolman Pasio is oortuig dat teleurstellings die sleutel is tot groei. Hoe jy kies om te reageer daarop, maak die wêreldse verskil.

Ashleigh Moolman Pasio is oortuig dat teleurstellings die sleutel is tot groei. Hoe jy kies om te reageer daarop, maak die wêreldse verskil.

In my eerste jaar as ’n professionele fietsryer het ek my sleutelbeen drie keer gebreek. Dit was ongelooflik moeilik. Sodra ek van die een breuk herstel het en myself opgebou het om die volgende hindernis te takel, het ek my sleutelbeen weer gebreek. Daarna moes ek weer van voor af begin. So onsinnig soos dit mag klink, was dit die tye in my loopbaan wat ek die meeste koester. Dit is die teleurstellings wat my as ’n atleet en mens help groei het. Daarsonder sou ek seker nooit Suid-Afrika se Sportvrou van 2014 gewees het nie.

Baie mense vra my hoe ek aangehou het om op te staan deur hierdie moeilike tydperk. My antwoord is altyd dat dit was deur die positiewe in elke besering raak te sien. Want, glo dit of nie, as jy hard genoeg soek, is daar ’n positiewe kant aan elke negatiewe situasie. Dit was deur optimisme dat ek kon aanhou doen wat ek die meeste geniet – dit is om my fiets te ry. Dis ’n droom wat ek heelpad tot in Spanje gevolg het, waar ek nou bly.

“If you don’t stand for something, you will fall for anything.” Dit is ʼn leuse wat ek my eie gemaak het. Dis uiters belangrik om te weet wat jou waardes is en om daarvolgens besluite te neem en te leef. Dit is wat jou deurdra wanneer dinge moeilik raak en wat voorkom dat jy probeer om iemand anders se lewe of droom te leef. As jy regtig passievol is oor wat jy doen, kom motivering maklik. Ek glo dat eksterne bronne soos jou ouers, geld en gewildheid nie volhoubare motivering is nie; dit moet van binne jouself kom.

Professionele fietsry is ’n moeilike sport. Na die harde werk agter die skerms gedoen is, is daar nog baie faktore wat aan die noodlot oorgelaat word, soos die weer, beserings en geluk. In ’n loopbaan gevul met waarskynlikheid, is dit vir my belangrik om aan te hou om vir die toekoms te beplan. Die werklikheid is dat dinge nie altyd volgens jou plan verloop nie; daarom hou ek my oë op die groter prentjie. Sodoende kan ek maklik aanpas.

Ek het geleer dat die lewe oor keuses gaan. Al kan ek nie altyd my omstandighede beheer nie, kan ek kies hoe om op die hindernisse te reageer. Elkeen van ons kan kies om te wen of te verloor – ook in ons lewens. As dinge nie vlot verloop nie, is daar altyd ’n ander pad. Niemand skuld jou enigiets nie, maar jy skuld dit aan jouself om jou drome na te volg.