Kies om te leef na jou egskeiding

0
67
egskeiding.png

Maak nie saak deur hoe ’n verskeurende egskeiding jy is nie, jy kán kies om weer verder te leef!

Derdegraadse brandwonde. Dit is wat dit was. ’n Hele liggaamsoppervlak in een sinlose daad afgeskroei deur ’n vurige golf pyn. Toe niks. Senuwee-eindpunte naak blootgelê, maar geen pyn. Doodgeskok, tydelik vernietig.

Ek het van die siek toneel voor my af weggedraai, outomaties die deur agter my toegetrek en die paar treë na my motor gestrompel. Daar was nie trane wat my kon verblind nie. My man het hom uit sy werksplek gehaas. Hy was nog besig om sy hemp in te steek en sy gulp vas te maak.

“Dis nie wat jy dink dit is nie.”

Ek het nie gepraat nie, hom net gelos om geklee te kom. Hoe verduidelik jy seks met ’n vyftienjarige dogter op jou lessenaar as: “Dis nie wat jy dink nie”?

Daar was ’n vernederende saak van statutêre verkragting. ’n Morsige saak waartydens die meisie getuig het dat haar stiefpa haar aan my man “verhuur” het sodat hy geld van hom kon ontvang. Na maande in die egskeidingsgeding het die talle senupunte gelyk begin reageer, soos brandwonde maar maak as die dooie vel daagliks basis klinies verwyder word vir die herstelproses om te begin. Die skuurders is met mening gebruik.

Tydens die saak het die meisie spoorloos verdwyn. Ek was bekommerd oor haar veiligheid. Tien jaar later het sy my kom gerusstel toe sy ook om verskoning kom vra het. Aan haar voorarms was die lelike, kronkelende littekens van selfskending. Aan haar gees veel erger letsels.

’n Jongmeisie in haar klas het gesterf aan ’n oordosis medikasie. Haar suster en haar moeder het op naakfoto’s van haar en van my man se vriende afgekom en haar gekonfronteer. Die moeder is al lankal oorlede, maar sy het my gewese man tot aan die einde gehaat. Hoewel ek die foto’s gesien het, was daar geen bewys dat my man betrokke was nie. Tog het ek skuldig teenoor die moeder gevoel, asof ek haar kind moes kon red.

Maar ek was self so naïef, so kleindorpsopgevoed dat ’n huwelik net tussen twee mense bestaan. My ouers het ’n gelukkige huwelik gehad en ek het met my hele hart geglo dat dit wat ek gehad het, ook so was. Ek was seer, maar bo alles was ek kwaad en verneder, en woedend vir myself dat ek toegelaat het dat enige mens my so kon bedrieg.

My woede het my soos ’n stoomtrein deur my egskeiding gedra. Aanvanklik kon niemand glo dat ek van so ’n wonderlike man wou skei nie, maar hy was ’n sosiale verkleurmannetjie. Terwyl ek deur ons drie jaar lange egskeiding geworstel het, het hy ’n matriekmeisie by hom laat intrek. Ek het vrede daarmee gehad tot ek gehoor het dat hy benoem is vir die kerkraad in die nuwe gemeente waar hy toe gewoon het. Ek was woedend vir die kerk.

Ek het sy predikant geskakel en die oorblufte man uitgetrap. Toe hy eindelik ’n woord kon inkry, het hy my vertel dat my man sy minnares aan hom voorgestel het as ons oudste dogter! My man het in trane vir hom vertel dat ek hom “met die kinders” gelos het. Ek het tegelyk begin lag en huil.

Ek is ’n baie trotse mens en my rou vernedering was vir almal daar in die oopte. My trots het in nederige dankbaarheid verander toe mense, bekend en onbekend, my met woord en daad bygestaan het.

Woede vernietig, kies om vrede te maak

Woede brand uit. Woede is slegte brandstof vir die menslike gees en as daardie woede grootliks teen jouself gerig is, is dit vernietigend. Jy verloor stoom soos die tyd aanloop. Daarom moet jy ’n wilsbesluit neem om vrede te maak.

Ek het hom nie noodwendig vergewe nie. Hoekom sou ek? Hy het nooit vir vergifnis gevra nie. Ek haat hom nie, lankal nie meer nie. Ek moes vrede maak met hom en met myself.

Dorothy Day het gesê: “Jy kan God net liefhê tot die mate waarin jy die mens liefhet van wie jy die minste hou.” Ek moet hom liefhê as my naaste, maar ek hoef nie van hom te hou nie. Dit is nie vir my nodig om hom van homself te red nie. Ek hoef nie verneder of skuldig te voel vir dinge wat hy gedoen het en steeds doen nie. Ek wil nie sy dade teenoor my seun regverdig, probeer verduidelik of hom in ’n beter lig stel as wat hy werklik is nie.

Egskeiding is ’n uitdraaipad, nie ’n doodloopstraat nie. Jy kan teen dieselfde spoed in dieselfde rigting steeds jou einddoel nastrewe. Die egskeiding is net ’n tydelike oponthoud, soos ’n pap band. Dit hang van jou af of jy langs daardie voertuig gaan staan en huil en of jy die probleem gaan herstel en jou lewensreis voortsit. Jy kan kies om met ’n beskadigde voertuig verder te ry of om buite die voertuig te staan en wag vir hulp totdat “rowers” jou oorval. Soek die sterkte in jouself en herstel daardie voertuig!

Vriendin: moenie jouself sosiaal onttrek nie

Dit is gif om jouself sosiaal te onttrek as jy skei. Jy verloor die mense wat bereid is om jou te ondersteun. Jy mag nie vir julle gesamentlike vriende of julle familielede besluit hoe hulle oor jou of oor hom moet voel nie.

Behou die respek van jou gewese skoonfamilie deur presies dieselfde teenoor hulle op te tree as voor die breuk tussen jou en hulle broer of kind. Hulle is in dieselfde ongemaklike posisie as jy. Met die jare het daar dalk ’n spesiale band tussen jou en hulle gevorm, maar hy is bloed van hulle bloed. My eks noem my ma steeds “Ma” en ek het geen probleem daarmee nie.

My dogter: Jou geluk hang nie van iemand anders af nie

Ralph Waldo Emerson het gesê: “Wat agter jou is en wat voor jou is, is onbelangrik in vergelyking wat in jou is.”

Onthou dat jy volledig mens gebore is. ’n Heel mens het nooit ’n “ander helfte” nodig om te funksioneer nie. ’n Heel mens se geluk hang nie van sy lewensmaat af nie.

Jy leef nie in ’n vakuum as jy die dag trou nie, daar moet steeds gesonde interaksie met jou omgewing wees. Gee en neem sonder om die persentasies te vergelyk. Soms gee een tydelik meer in enige verhouding as die ander, maar ’n gesonde wisselwerking is noodsaaklik. As jy vandag meer gee, is jy geregtig om later wanneer jy dit nodig het, weer meer te ontvang.

My seun: Kies om ’n wenner te wees

Hoewel statistiek toon dat seuns sonder ’n vaderfiguur dikwels met dwelms sukkel en nie hulle volle potensiaal ontwikkel nie, mag jy dit nooit jou verskoning maak vir jou swak punte nie. Jy is as mens met ’n eie karakter en ’n eie stel talente geskape, sonderling en spesiaal, en jy mag kies om ’n slagoffer of ’n wenner in eie reg te wees.

Ek is jammer dat jou pa gekies het om nie deel van jou lewe te wees nie, maar ek is nie verantwoordelik daarvoor nie. Elke mens het sy eie verantwoordelikhede. Jy ook. Daarom kan jy, ten spyte van jou gebrek aan ondervinding van wat ’n pa moet wees, die beste pa wees vir jou eie kind.