Kies só ’n tweedehandse motor

0
115
tweedehandse_kar.jpg

Daar is baie slaggate waarin jy kan trap wanneer jy ’n tweedehandse motor koop. Só vermy jy dit.

’n Tweedehandse motor is dikwels ’n baie aantreklike opsie. Dit is baie goedkoper as ’n nuwe een en verloor nie soveel waarde sodra jy dit gekoop het nie. Jy kan egter maklik vir jouself ’n gat in die sak koop as jy iets kry wat op die oog af aantreklik lyk. Daar is ’n paar punte wat jou kan help om dit te vermy.

1. Vergelyk die motor met ander soortgelyke modelle

Onthou dat met motors goedkoop baiekeer duurkoop is. Letterlik, want jy moet dalk later baie meer geld bestee net om die motor padwaardig te hou. Sodra jy ’n aantreklike opsie vind, vergelyk dit met soortgelyke modelle. Kyk veral na die ouderdom en die afstand wat dit al afgelê het. As jy twee modelle kry wat dieselfde ouderdom is, maar die getal kilometer gery verskil drasties, kies eerder die een met minder kilometers.

2. Waarvoor om te kyk as jy die motor sien

Jy moet die motor behoorlik in helder lig bekyk voor jy dit koop. As jy die enjin aanskakel, luister vir enige vreemde geluide of digte rook uit die uitlaatpyp. Kyk ook na die verfwerk vir panele waar die kleure nie dieselfde is nie. Dit kan daarop dui dat die motor in ’n ongeluk was. Wanneer jy die motor toetsbestuur, ry vir ten minste twintig minute aaneen. Hou jou oë oop vir oorverhitting en maak seker dat die ratwisseling glad is.

3. Gaan die motor se geskiedenis deeglik na

Vra die eienaar van die motor vir die diensrekord om te verseker dat dit goed in stand gehou is. Alle wettige voertuie het drie hoof-identiteitsnommers: die nommerplaat, die VIN (onderstelnommer) en die enjinnommer. Maak seker die motor het al drie. Gaan ook die lisensie en registrasiedokumente na. Laastens, kyk na die geskiedenis van eienaars en maak seker dat daar ’n bewys van betaling vir elke eienaar is. Jy wil nie onwetend ’n gesteelde kar koop nie. Sodra dit bekend raak dat jy ’n gesteelde motor in jou besit het, word dit aan die oorspronklike eienaar terugbesorg. Jy kry ook nie jou geld terug nie.

4. Maak seker al die dokumente is in orde

Enige tweedehandse motor moet ’n padwaardigheidsertifikaat hê, maar dit beteken nie dat jy niks het om jou oor te bekommer nie. Dit beteken bloot dat die kar aan die minimum standaarde voldoen. Vra dus vir dié sertifikaat, maar moenie net daarmee tevrede wees nie. Jy moet nog steeds die motor behoorlik nagaan. Sodra jy besluit het, moenie enige geld oorbetaal sonder die bewys van eienaarskap of ’n koopooreenkoms nie.

5. Vra iemand wat kundig is se raad

Neem iemand saam wat motors ken as jy vir die eerste keer na ’n model gaan kyk. Hulle sal weet waarvoor om op te let. Vat die persoon ook saam as jy die motor toetsbestuur. Dit is ’n baie goeie plan om te betaal vir ’n werktuigkundige om die motor deeglik na te gaan. As hy enige probleme vind, werk uit hoeveel dit jou gaan kos om dit te laat regmaak. Miskien kan jy die probleme gebruik om vir ’n laer prys te onderhandel.

6. Moenie deur die verkoper om die bos gelei word nie

Soos met enigiets wat jy koop, kan jy verkoopmense nie blindelings vertrou nie. Sommige motoreienaars kan die voertuig se afstandmeter laat terugdraai om die motor teen ’n hoër prys te verkoop. Vra dus vir strokies vir dienste en enige bewyse om seker te maak dat die afstand reg is. As die kilometers van die motor nie met sy ouderdom ooreenstem nie, moet jy onraad vermoed.

Wenk: Die AA bied volle buffer-tot-buffer-inspeksies by elf tegniese sentrums regoor die land.

Dit is altyd veiliger om ’n betroubare handelaar te gebruik al kos dit jou meer. Die belangrikste is om ’n begroting vir die aankoop van die motor op te stel en daarby te hou.