Kinders se vrae oor skei

249
kinders se vra oor skei

Jy kan sien die kinders sukkel met botsende emosies wanneer die seer woord “egskeiding” opduik. Hier is antwoorde wat jou kroos sal gerusstel.

Jy het gedink dit sal nooit met julle gesin gebeur nie, maar nou is daar praatjies dat julle uitmekaar wil gaan en Boet en Sus het dit gehoor.

Onthou, hulle voel waarskynlik kwaad en magteloos en weet nie wat om met dié deurmekaar gevoelens te maak nie. Vertel jy dit vir jou beste maat of maak jy of niks verkeerd is nie? Of gooi jy tantrums en dreig om weg te loop? Dis alles dinge wat deur hulle gedagtes kan gaan.

Dit is normaal om sulke gedagtes te hê, want ’n egskeiding is ’n groot omwenteling. Dis baie belangrik dat jy sê hoe lief jy hulle het, al voel hulle verraai.

“Is julle nie meer lief vir mekaar nie?”

Verduidelik dat grootmense partykeer ophou om mekaar lief te hê of net nie meer oor die weg kan kom nie.

Daar is miskien aan julle as “een” gedink, maar nou het julle mekaar ontgroei. Soos hulle ouer word, is daar meer dinge wat grootmense moet hanteer en kom hulle agter dat hulle eintlik verskil.

Elke paartjie het unieke redes waarom hulle nie meer kans sien om saam voort te gaan nie. Gee vir die kinders een of twee redes wat maklik is om te verstaan.

Jy hou dalk daarvan om by die huis te bly terwyl jou man gedurig wil uitgaan. Of hy verdien al die geld en jy moet maar tevrede wees met wat hy vir jou gee.

’n Klomp sulke klein goedjies kan maak dat mense nie meer by mekaar wil bly nie.

“Het ek ’n sê in die situasie?”

Die ouers, die gesinsadvokaat en die hof neem al die besluite. Ook die belangrikste een: waar die kinders gaan bly daarna. Julle kan moontlik vir hulle vra waar hulle wil bly, anders sal julle self besluit.

As julle nie weet wat om te doen nie, sal die gesinshof daaroor besluit. Kinders moet weet dat die beste vir hulle gedoen sal word.

Berei hulle daarop voor dat ’n sielkundige en maatskaplike werker dalk met hulle sal gesels. En dat dié aanbevelings én die hof se besluit dan deur albei ouers uitgevoer moet word.

In die verlede het die meeste kinders by die ma gaan woon, maar dinge het baie verander. Pa’s kan die opvoeding en versorging net so goed behartig. As Pa byvoorbeeld van die huis af kan werk, is gedeelde toesig ’n groot moontlikheid.

Die hof sal egter altyd probeer om boeties en sussies bymekaar te hou.

“Hoe gaan my lewe na die tyd verander?”

As ouers gesamentlike toesig het, sal albei steeds seggenskap hê in groot besluite oor die kinders se opvoeding, selfs al bly hulle die meeste van die tyd by die een ouer.

As Pa of Ma alleentoesig het, sal hy of sy besluit oor die belangrikste sake, byvoorbeeld na watter kerk of skool die kinders gaan en waar hulle sal woon.

Al het een ouer alleentoesig, vereis die meeste egskeidingsooreenkomste dat dié ouer eers die ander een moet raadpleeg voordat groot besluite geneem word. Dit is besluite soos om na ’n ander stad of dorp te trek.

Kinders moet weet dat die lewe na ’n egskeiding ’n nuwe roetine en ritme sal aanneem. Miskien sal hulle in die week by Ma bly en naweke by Pa, of andersom.

Dis anders as die meeste van hulle maats se lewens. Sê dat dit ’n spesiale mens vat om by dié omstandighede aan te pas en dat jy hulle nooit sal los nie.