Kitsroem op die ysskaatsbaan

Die nuwe skoolkwartaal gaan begin. Dis in die middel van die winter en snerpend koud in die Kaap.

Ek wil net hiberneer onder my donskombers met trosende teue boeretroos wat warm in my keel kan afloop terwyl die grys wolke mistroostig oor Tafelberg hang. Maar ek en Prinses trotseer nog ‘n ysiger koue: die ysskaatsbaan. Ons selfingestelde tradisie waarmee ons elke nuwe kwartaal vier.

Gepantser met musse, jasse en dubbele paar sokkies durf ons bibberend, maar dapper die mensgemaakte noordpool aan. Dis ‘n vrolike spulletjie wat die ysskaatsbaan versier. Die helfte lyk soos ons, toegedraai in ysbeer-gewade. Die ander helfte lyk soos somerskinders met hul kaal arms op ‘n eilandvakansie. Met die klem op kinders, want skaatsers van my portuur is dun gesaai op dié soort bane. Veral vandag. Enkele volwasse afrigters is besig met hul ysskaatsstudente. Verder is ek min of meer die enigste “grootmens” wat my skaatse aantrek en die gladde ys betree. Ek laat my nou nie daardeur afskrik nie. Ek wil darem graag hê Prinses moet eendag terugdink en onthou hoe Mamma ook aktiwiteite saam met haar gedoen het en nie net altyd langs die kant gesit het nie. Ek wil ‘n Ma wees wat dinge saam met my kinders doén. En mallemeule kan ek nie saam met Prinses ry nie, want as ek net kyk na daai monsters wat so deur die lug swaai, is ek reeds naar. Wat nog te sê daarop ry. So ek kies dan liewers ysskaats, waaruit ek gelukkig ook genot put én wat boonop naby genoeg na my sin aan die grond is. As dit nou by die deur-die-lug-swaai goed kom, is ek maar ‘n langs-die-kant-sit Mamma. En dankie tog, die ysskaatsbaan het my nog altyd goed behandel.

Die professionele ysskaatsers oefen tussendeur ons gewone gepeupel op hul meevoerende mooi musiek wat in die arena bulder. Ek en Prinses sweef oor die ys. Ek voel die wind deur my gekroesde lokke wapper en in my verbeeldingswêreld is ek een of ander nimflike ysskaatskampioen wat fiets en vroulik elke beweging met soepelheid en veerkrag uitvoer. Prinses en ‘n maat wat saam ysskaats, staan eenkant op die baan en werk ‘n oulike dansie op die maat van die musiek uit. Ek skaats nader om ook kamma grasieus ‘n paar ritmiese armbewegings te maak…En toe gebeur dit. My oomblik van kitsroem op die ysskaatsbaan. Binne een sekonde besef ek eers hoé naby die grond werklik aan jou is op ‘n ysskaatsbaan. Maar ek het nie tyd om te wonder of die-in-die-lug-goeters toe tog maar ‘n veiliger opsie vir ‘n veertigjarige is nie. Want die ysskaatsnimf plof met ‘n dawerende slag op die grond neer. Niks nimfagtig, soepel, veerkragtig of kampioenagtig nie. Net seer. Baie seer.

‘n Allemintige pyn skiet deur my rug en ek krul op in ‘n hulpelose bondel bene. “Mamma, is jy okei?” dring Prinses se bekommerde stemmetjie tot my singende ore deur. Een van die afrigters pyl op my af en probeer vir my deurmekaar kop instruksies gee hoe om my logge liggaam van die ys af op te kry. “Ek dink nie ek kan opkom nie”, verklaar ek bewerig. “No, you have to. Come, first get on your knees”, beveel sy kalm en het my arm beet in ‘n stewige greep. Al my bravade vergete, klou ek soos ‘n kleuter aan haar vas. “Please just help me to the side”, prewel ek, nog te seer om verleë of verneder te voel. Toe ons die rand nader, kry ek dit tog reg om ‘n grappie te maak. “I guess I should have rather leave the moves and only skate”, sê ek flouerig vir haar. Sy knik met ‘n glimlag, en ek sien die vonkel in haar oog. “We fall like that all the time”, sê sy. Maar ek kan vireers aan niks anders dink as die knaende pyn in my rug en die feit dat ek weer sal moet gaan skaats voor die einde van die sessie nie. Want anders, net dalk, kom ysskaats ook volgende keer op my lysie van nie-saamdoen-dinge-nie.

Al waggelende is ek toe om die ysskaatsbaan, seer rug en al. Ek prewel ‘n dankgebed vir God se beskerming en my spesiale engele wat die val versag het. Dat ek nie vandag iets op hierdie skaatsbaan morsaf gebreek het nie, is ‘n absolute wonderwerk. En ek voel natuurlik famous om al die verkeerde redes. Almal loer nou met simpatieke (of is dit glimlaggende?) blikke vir die Tannie wat nounet op die ys neergeplonk het. En daar tref die skaamheid my skielik soos strome yswater en ek voel sommer ordentlik verleë.

Maar toe dink ek aan my Prinses wat ‘n storie het om eendag vir haar kinders te vertel. Van Ouma wat saam met haar ysskaats trotseer het. En nadat sy geval het, weer opgestaan het en nog geskaats het. En ek dink aan God se alomteenwoordige getrouheid en beskerming. Hoe ek Hom vandag selfs op ‘n ysskaatsbaan kon ervaar. Want vandag het Hy my herinner dat mens altyd opkom na ‘n val deur eers op jou knieë te kom…

En dít maak my groot val die moeite werd en is meer as genoeg rede vir kitsroem.

1 Tessalonisense 5:17 – “Bid gedurig.”

Hebreërs 1: 14 – “Die engele is tog maar net diensknegte. Hulle is geestelike wesens wat God uitstuur in belang van daardie mense wat verlos gaan word.”