Klassieke crème karamel

0
44
creme_caramel.png

Hierdie dekadente sjokolade resepte is presies wat jy nodig het om jou manlief oor Valentynsdag te bederf. Hy gaan beslis uit jou hand uit eet ...

Genoeg vir 6
Tyd: 1 uur en 25 minute

BESTANDDELE:

Kookolie, vir smeer

Vir die karamel
60 ml water
180 ml strooisuiker

Vir die vla
500 ml melk
250 ml room
4 eiers
60 ml strooisuiker
5 ml vanielje-essens

METODE:

  1. Voorverhit die oond tot 160°C. Voer die bodem van ’n roosterpan met ’n vadoek uit. Smeer ses 160 ml-vormpies liggies met kookolie.
  2. Vir die karamel – verhit die water en suiker saam in ’n klein kastrolletjie oor lae hitte, tot opgelos. Verhoog die temperatuur na matig, bring tot kookpunt en kook – sonder om te roer – vir sowat agt minute of totdat ’n goue karamel vorm. Verdeel die mengsel eweredig tussen die voorbereide vormpies. Plaas in die roosterpan en laat eenkant staan.
  3. Vir die vla – verhit die melk en room oor matige hitte in ’n kastrol tot net voor kookpunt. Verwyder van die hitte. Klits die eiers en suiker saam, en giet dit dan stadig by die warm melkmengsel terwyl jy aanhoudend klits tot goed gemeng. Roer die vanielje by. Gooi die vlamengsel in ’n melk- of maatbeker.
  4. Giet die vla deur ’n sif in die vormpies. Gooi dan kookwater in die roosterpan, totdat dit halfpad teen die kante van die vormpies rus. Bak vir 30 minute of totdat die vla gestol maar sag in die middel is. Verwyder uit die pan en plaas eenkant vir twee ure om af te koel. Bedek en plaas oornag in die yskas.
  5. Om uit die vormpies te haal, druk saggies al om die kante, skud liggies, en keer dan die crème karamels op opdienborde uit.

*Spaar geld deur melk eerder as room te gebruik.

 

Met komplimente van Food & Home Entertainment en Your Family