Klein bietjies maak ‘n verskil!

0
19
water.png

Ek lees vandag dat in Gauteng alleen het 480 miljoen kilo-liter water in die vorige finansiële jaar verlore gegaan vanweë lekkende krane. Dit is genoeg om 192 000 Olimpiese grootte swembaddens vol te maak. Ek staan altyd verbaas om te sien hoe gou ‘n klomp klein druppeltjies ‘n groot hoeveelheid kan word. Ek het juis verlede week ons warmwater geiser se klep laat regmaak. Dit het gelek en ons het ‘n emmer onder die lekkende pyp gesit. Maar gou-gou was die emmer vol water. Ek het elke keer verbaas gestaan om te sien hoe gou die emmer vol geword het terwyl slegs druppels in die emmer geval het.

Ja, ‘n klomp klein bietjies maak later ‘n groot hoeveelheid. Dit werk negatief en positief: Klein afbrekende woorde kan later jou lewensmaat se gees demp. Elke negatiewe insidentjie kan later ‘n groot impak maak. Natuurlik is die teenoorgestelde ook waar. Positiewe woorde hier en daar, en dan en wan, is alles beleggings in ‘n verhouding. En dit kan groot beleggings word. Wanneer jy iemand in nood finansieel help, voel dit dalk vir jou of jy maar net jou geld in ‘n bodemlose put gooi, maar as ‘n klomp mense dit doen, dan maak dit op die ou einde ‘n groot verskil.
Moet nooit daardie “bietjies-bietjies” vergeet nie. As jy dit alles bymekaar sit, kan dit ‘n reuse verskil maak!

Daar het toe ’n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het” (Mk 12:42-43).