Kleiner voornemens, groter sukses

0
205
nuwejaarsvoornemes.jpg

Ten spyte van die nuwejaarsvoornemens wat jy elke jaar maak, gaan daar telkens nog ’n jaar verby sonder enige verandering. Maar vanjaar kan jy voornemens kies wat sukses sal waarborg!

“Voor die einde van die jaar gaan ek 20 kg verloor!” Dis sou wonderlik wees as jy dit kon regkry, maar hoe realisties is dit nou eintlik? Twintig kilogram ligter gebeur mos nie in ’n maand nie … en met hierdie berg wat voor jou lê, verloor jy nie ’n enkele kilogram nie, jy kry eerder tien by.

Die geheim om met jou nuwejaarsvoornemens te slaag, is om die regtes te maak, dit wil sê, haalbare doelwitte wat vrugte gaan afwerp. Hier is vyf voornemens wat jy maklik deel van jou leefwyse kan maak.

Verbeter jou gesondheid met alkaliese kosse

Te veel suurvormende kosse in jou lyf kan tot allerhande probleme lei. Volgens kenners soos Patrick Holford is te veel suur in jou liggaam dikwels die rede waarom jy siektes soos kanker of hartsiekte kry.

Baie kosse dra by tot ’n hoë suurheidsvlak in jou liggaam. Vermy te veel vleis, melkprodukte, graanprodukte en suiker. Natuurlike kosse soos vrugte, groente, neute en sade alkaliniseer jou liggaam. Jy kan jou voorneem om al om die ander dag alkalies te eet, en die dag daarna gewoonweg. Plak ’n kospiramiede op jou yskas wat alkaliese kosse uitlig en eet meer daarvan. Dis ’n maklike manier om gesonder en meer energiek te voel.

Drink minder koffie en meer oelong-tee

’n Koppie koffie of tee kan goed wees vir jou gesondheid, maar oelong-tee is nog die beste. Die Chinese glo lankal dat oelong-tee met gewigsverlies help. Een studie in China het ook bewys dat vroue wat gereeld oelong-tee gedrink het, na ses weke minder geweeg het. Volgens ’n ander studie verbrand jou liggaam meer energie as jy oelong-tee drink eerder as groentee. Jy hoef nie ander tee en koffie prys te gee nie, maar neem jou voor om minstens een keer ’n dag ’n koppie oelong-tee te drink.

Maak een maaltyd saam ’n vereiste

’n Onlangse studie het getoon dat mense wat alleen eet, minder groente eet. As elkeen vir sy eie kos moet sorg, is dit gewoonlik kossoorte wat nie groente insluit nie. Dink maar wat gebeur as jy nie aandete maak nie. Julle eet toebroodjies of kitskos met min of geen groente. Besluit om minstens een maaltyd per dag as gesin saam te eet. Maak seker dat jy baie groente insluit. So verbeter julle inname van antioksidante en vesel.

Werk in die tuin eerder as om rond te sit

As jy heeldag in ’n kantoor sit, en dan by die huis kom en verder sit, kan dit ’n korter lewe voorspel. Volgens studies leef mense wat in hulle tuin werk of takies om die huis doen, langer as mense wat heeltyd rondsit. Selfs al oefen jy nie gereeld nie, kan jy jou kans vir hartsiekte en beroerte verminder as jy takies om die huis doen. Neem jou voor om nie dadelik op die rusbank voor die televisie neer te val as jy by die huis kom nie. Werk eerder ’n bietjie in die tuin of gaan stap ’n ent.

Eet minder pasta om jou gemoed te verbeter

’n Onlangse studie het getoon dat vroue wat pasta eet, meer geneig is tot depressie. Volgens dié studie is vroue wat verfynde koolhidrate eet, dit wil sê, alles wat met fyn meel met of sonder suiker gemaak is, 29% tot 41% vatbaarder vir depressie. Vroue wat gesonder eet en meer groente en ongesifte grane by hulle dieet insluit, is gelukkiger. Besluit om liewer heelgraanpasta te eet, en maak groente daarby.

Met hierdie haalbare wenke kan jy vanjaar gesonder leef. Dis die klein veranderings wat uiteindelik ’n groot verskil aan jou gesondheid kan maak.