Klewerige varkribbetjies met koejawels en koolslaai

0
195
ribs.jpg

Wie is nie dol oor ’n heerlike varkribbetjie nie? Hierdie verruklike resep gaan die monde laat water.

Genoeg vir 4
Tyd: 1½ uur

BESTANDDELE
410 g blik koejawelhelftes, gedreineer
125 ml BBQ-sous
1 kg liggies gerookte varkribbetjies

Vir die koolslaai
60 ml olyf- of avokado-olie
8 ml sojasous
30 ml witwynasayn
60 ml strooisuiker
¼ rooikool, in dun skyfies gesny
¼ groenkool, in dun skyfies gesny
2 wortels, geskil en in dun skyfies gesny
100 g mangetout, in dun skyfies gesny
oondgebakte aartappelskyfies, vir opdiening

METODE
1 Stel die oond op 200 °C. Voer ’n groot bakplaat uit met bakpapier. Blits die koejawels in ’n voedselverwerker tot glad. Druk die puree deur ’n sif om die pitjies te verwyder.
2 Meng die puree en die BBQ-sous. Bestryk die varkribbetjies daarmee en plaas dit op die voorbereide bakplaat. Rooster vir 1 uur. Draai dit gereeld om en bedruip tot gaar.
3 Vir die koolslaai: Klop die olie, sojasous, asyn en strooisuiker tot die suiker opgelos het. Hou ’n rukkie eenkant. Plaas die kool, wortels, mangetout en slaaisous in ’n groot bak en meng. Sit die ribbetjies voor met die koolslaai en aartappelskyfies.

Artikel: Vickie de Beer bygestaan deur Jana van Sittert en Inemarie Rabie
Foto’s: Lee Malan