Klop pyn sonder pille

0
1585

Pyn is deel van die lewe, maar jy hoef nie met chroniese seer en pille saam te leef nie. Probeer dit met hierdie natuurlike alternatiewe beheer.

Beweeg eerder as om in die bed te bly

Of jy nou stap, swem, fietsry, dans of Pilates doen, dit maak nie saak nie. Solank jy dit gereeld doen en die tipe oefening nie jou toestand vererger nie.

Oefening help om pyn te verminder omdat dit goedvoel-hormone stimuleer, sê Riëtte Landman, ’n fisioterapeut van Intercare Woodhill. Kenners vermoed dit het dieselfde uitwerking as medikasie. Dit gebruik ook die spiere wat ’n mens se postuur, ruggraat en gewrigte stabiel hou, en kan só ongemak in hierdie dele verbeter.

Die beste soort oefening is dit wat jy geniet en wat jou goed laat voel, want dan is die effek op pyn nog sterker.

Hou jou gewig dop met oefening en dieet

’n Verdere voordeel van oefening is dat dit die kilo’s weg hou en jou liggaam sterk maak. Wanneer ’n mens oorgewig is, plaas die oortollige gewig ekstra druk op jou rug en gewrigte, wat pyn kan vererger. ’n Ligter, sterker lyf sal die vereistes wat op hom geplaas word, beter kan hanteer.

Deur elke dag gesond en gebalanseerd te eet, sal jy nie net ’n gesonde gewig handhaaf nie, maar ook jou ingewande gesond hou. ’n Ongesonde dieet kan tot prikkelbaredermsindroom (PDS) lei, wat pyn en ongemak in die ingewande veroorsaak.

Skakel goed uit wat met jou slaap inmeng

Moegheid kan ’n mens se ervaring van pyn baie vererger, daarom is genoeg slaap uiters belangrik, sê Briony Devonald, voorsitter van die Pynbestuur fisioterapie-groep (PMPG). “Talle studies het al gewys ’n mens se pyndrumpel is laer as jy nie genoeg slaap nie, en veral as jou slaap nie van ’n goeie gehalte is nie.”

Sekere medisyne, alkohol, kafeïen en ’n ongesonde dieet kan slaap belemmer, terwyl oefening ’n mens help om beter te slaap. Alkohol en sigaretrook verlaag ook jou pyndrumpel en dan is jy vatbaarder vir pyn. Dit kan help om hierdie dinge te vermy.

Eet kos wat inflammasie beveg

Kosse wat inflammasie veroorsaak, kan pyn vererger, sê die dieetkundige Lila Bruk. Suiker, verwerkte koolhidrate (soos witbrood en koek) en versadigde vet (soos botter, rooivleis en kaas) kan tot chroniese inflammasie in die liggaam lei.

Daarteenoor sal ’n anti-inflammatoriese dieet pyn verminder. Eet baie helderkleurige vars vrugte en groente (veral bessies, broccoli en blomkool), vetterige vis soos sardyne en forel, okkerneute en vlassaad, soos Nature’s Choice se organiese vlassaad. Voeg ook borrie en gemmer by jou kos wanneer jy kook, en eet meer volgrane soos bruinrys en quinoa, beveel sy aan.

Om op te hou rook en jou gewig dop te hou sal ook inflammasie beperk.

Waak teen stres en tekens van depressie

“Emosionele stres het ’n invloed op hoe pyn fisiek ervaar word,” sê Riëtte. “Wanneer ’n mens gespanne is, maak jy onbewustelik jou spiere styf en plaas nog meer druk op byvoorbeeld ’n ruggraat wat reeds beseer is. Dis daarom belangrik om vir jou liggaam te sê om te ontspan, selfs al is jou omstandighede steeds stresvol.”

Terneergedruktheid of depressie kan ook pyn erger laat voel.

Oefening is weereens die beste voorskrif: Dit is ’n doepa vir depressie en lei jou aandag van die pyn af. Maak oefening ’n sosiale geleentheid vir die grootste voordeel, sê Briony.