Knor Paul du Toit oor vroue se spieëltyd?

0
31
Paul_du_Toit.jpg

Nee, die gebrom op die agtergrond is nie die yskas se motor wat die gees gee nie ... Dis heel moontlik Paul du Toit wat wens jy wil klaarkry voor die spieël!

Wat dink jy van ’n vrou se duisende mooimaakgoedjies?

Ek begin self die meeste oggende van my lewe met hair and make-up. Dus kan ek Clair seker nie kritiseer of beskuldig nie. Uit die aard van my werk het grimeerkunstenaars en haarkappers al baie roompies, poeiertjies en allerlei snaakse goetertjies op my getoets. Wat my vrou en haar mooimaakgoedjies aanbetref, kan ek sekerlik nie kla nie. Sy doen dan so baie moeite en lyk dan altyd so mooi aan my sy!

Hoeveel geld skat jy word maandeliks op haar wonderroompies spandeer?

Seker so 15% meer as wat haar begroting toelaat! Ek moet egter byvoeg dat die eindresultaat darem meer onmiddellik is as die geld wat jy op die aandelemark belê! Eintlik is die geld wat Clair daarop bestee, nie die kopseer nie. Dis die hoeveelheid tyd wat sy spandeer om te titivate. As ek gesê het ons ry stiptelik seweuur en teen kwart oor staan sy nog voor die spieël, kan ek lekker knorrig raak.

Wat dink jy sal gebeur as jy Clair se smuktassie vergeet?

Ek gaan wen ... ten minste so vier uur wat nie voor die spieël gemors gaan word nie. Of sy gaan van my mooimaakgoedjies leen. Dit is nogal vir jou ’n ding en ietwat van ’n verleentheid om hardop te sê, maar ek het so baie glinstergrimering vir die Rocky Horror Show waarin ek hierdie jaar speel dat Clair daarvan leen wanneer sy wil optooi vir ’n geleentheid.

As jy kon, watter skoonheidsproduk sou jy vir die vrouemark vervaardig?

Die make-up weergawe van ’n twee-in-een sjampoe-en-opknapper behoort die truuk te doen. Nie omdat dit vroue soveel mooier sal laat lyk nie, maar omdat dit hulle gaan help om tyd te bespaar. Ek wonder of Clair dit sal koop. Ek skat so iets sal haar kan help om haar mooimaaktyd te halveer! Dink net hoe dankbaar gaan die hele wêreld se mans wees as hulle vrouens vinniger kan klaarmaak vir ’n aandjie uit.

Waarvoor staan alfa-hidroksisuur en waarvoor gebruik ’n mens dit?

Dit is nie dalk daardie groen goed wat mense aan hulle gesigte smeer terwyl hulle met komkommerstukke op hulle oë lê nie? Dit klink asof dit jou kan brand. Asof dit gevaarlik is – een van daardie dinge wat jy nie by die huis moet probeer nie. Ek sal nie wil hê Clair moet daarmee eksperimenteer nie. Nog minder dit aan my gesig smeer! Of eerder dít voordat ek my hand vir ’n bikini-waks opsteek!

Wanneer is Clair vir jou op haar mooiste?

Wanneer sy lag ... Dit klink dalk ’n bietjie cheesy, maar ek was op die verhoog besig om toneel te speel toe ek haar vir die eerste keer gesien het. Sy het in die gehoor gesit en het so mooi geglimlag vir my. Ek het nog nie só ’n opregte glimlag gesien nie. Ek het haar na die vertoning gaan soek. Sy was mooi lig en smaakvol gegrimeer, haar hare eenvoudig agtertoe vasgemaak, en het asemrowend gelyk.