Koekies met krakies

koekies

Ek het jare lank gesoek vir ‘n resep om gemmerkoekies te bak wat klein krakies bo-op het … en suikerkorreltjies. Na baie probeerslae en floppies het ek uiteindelik verlede jaar Die Resep op die internet raakgeloop. As ek na die bestanddele kyk, is dit nie juis anders as al die voriges nie … dis seker maar ‘n magiese kombinasie van presies die regte hoeveelheid dit en net die regte bietjie dat. Bietjie soos mense.

Die botter moet nie hard wees nie, maar ook nie heeltemal pap nie. Sou die lewe nie bietjie makliker wees as daar meer sagtheid was nie – nie papheid nie, maar ai, net bietjie minder klip-koue-hardheid?

Toe ek die koeksoda, gemeng met bietjie melk, by die mengsel gooi, is dit ‘n vreeslike geskuim in die bak. Dit moet so wees. Die waters kan nie altyd kalm wees nie. Daardie storm dien ‘n doel, dit laat die resep werk.

Vir die koekies om mooi te lyk moet dit in kleinerige balletjies gerol word. Ai, dis nogal ‘n gemors. Dit klou aan my hande, die balletjies breek partykeer, hulle is nooit almal ewe groot nie. So met die tyd saam kom ek agter dat ek sommer so ‘n handvol deeg moet vat en dit nogal hardhandig so tussen my hande moet brei. Dan is die geheim om ‘n stukkie deeg af te knyp en dit vinnig en hard te rol, sommer so in dieselfde beweging die balletjie tussen my palms effens plat te druk, en dan op die bakplaat af te skud – ja, afskud, want dit sit mos vas!

Dis nogal ‘n hardhandige proses, ja. Langs die oppervlak waar hierdie druk-en-brei, knyp-en-rol-en-skud-proses plaasvind, staan ook ‘n bekertjie water en daar lê ‘n klein hopie meel: beide word tussendeur aan my hande gesmeer, gespat of gevryf. Dit help.

Ja, dis maar hoe dit werk. Die proses om op die ou einde lekker en mooi (in dié geval nie net in die mond en op die oog nie) te wees, is maar rof, ja. Dit verg geduld, dis morsig. Daar is nie altyd tyd en ruimte vir saggies-werk nie. Mens moet planne maak … partykeer water, ander kere meel bysit. Soms smeer, soms vryf, soms spat, of aldrie. Dikwels net diep asemhaal, die ou deeg afkrap, hande was, en wéér begin.

En toe die koekies uiteindelik in die groot skottel lê en afkoel, besef ek: die afkoelproses is óók belangrik. Manlief het ‘n nog-louwarm koekie kom gaps – dit was nog papperig. Maar na ‘n rukkie se afkoel, is hulle presies bros en krakerig genoeg. Wag net bietjie. Meeste dinge kom met tyd.

Nou kyk ek die eindproduk so: glad nie almal dieselfde nie. Party is ronder as ander, party bietjie ligter, hier en daar groteres of kleintjies, enkeles is nie eens oral dieselfde kleur nie. ‘n Paar het seker te veel onder my hardhandigheid deurgeloop en is effens misvorm. Amper elkeen is uniek; baie min is perfek. Ek moet maar ‘n bietjie dink oor die proses waardeur my buur-koekie gegaan het voordat ek oordeel … hy of sy is dalk meer gedruk en geskud as ek, né?

Die belangrikste: elke koekie het sy krakies. En so tussen die krakies, as jy mooi kyk, blink die suikerkorrels. Dankie tog.

Vorige artikelWaar is bo?
Volgende artikelReënboog potensiaal
Blogger - Christa Grobbelaar
Christa Grobbelaar is ‘n mamma van twee volwasse dogters en ‘n juffrou van honderde. Sy en haar man, Willem, is albei onderwysers. Haar onderwysloopbaan het grootliks daaruit bestaan om vir kinders Engels te leer, maar haar graad in Sielkunde het altyd handig te pas gekom. Sy het na ‘n vroeë aftrede vir een semester in Thailand gaan skoolhou en doseer nou deeltyds Afrikaans en Engels vir onderwys- en joernalistiekstudente. In Thailand het sy met ‘n blog begin as teenmiddel teen die verlange na Suid-Afrika, maar geniet dit steeds om met die blog voort te gaan. Dié persoonlike blog, Christastories, is te sien by christainthailand.wordpress.com