Koeksisters

Ek het jare gelede ‘n jongman by ‘n gastehuis ontmoet wat my sommer met die intrapslag beïndruk het.

Op 26 het hy sy eie florerende besigheid gehad wat hy self begin en bedryf het. Gevra hoe hy dit reggekry het, was sy antwoord: “My pa het ons van kleins af geleer om entrepreneurs te wees.”

Hy vertel toe dat hy op ses ‘n Kersbestelling ingesit het vir rolskaatse. Sy pa, ‘n geoloog, het gesê dat hy dit kan kry as hy vir die eerste helfte van die prys kon sorg. Sy ma het fudge gemaak en sy taak was om dit te gaan verkoop.

Hy het besluit om by die mediese sentrum in die wagkamer te gaan sit. Toe die ontvangsdame wou weet wat hom makeer, het hy gesê hy wil vir die dokter wag omdat hy dink dat die oom by hom fudge sal koop. Natuurlik het die ontvangsdame, die dokter en die pasiënte sy voorraad net daar opgekoop. Dit was die begin van sy loopbaan as entrepreneur.

Die jongman se verhaal het my ‘n knop in die keel gegee. Dit het my onwillekeurig teruggeneem na my kinderdae.  Ons het dit nie breed gehad nie en my taak, as laerskoolkind, was om die beskuit en koesisters wat my ma gebak het, te gaan verkoop. Ek het nie daarvan gehou nie maar ek het geweet dat my ma die geld nodig gehad het.

Op ‘n Vrydag moes ek die Crest-skinkbord vat, die bestellings gaan aflewer en die ekstra koesisters in die straat gaan verkoop. So het dit toe gebeur dat my ma een Vrydag heeltemal te veel koesisters gebak het en ek was moedeloos: “Hoe gaan ek die ses pakkies verkoop kry?” het ek vir my ma gevra. “Ag my kind, liewe Jesus sal jou help,” het sy geantwoord. “Jy moet net glo. Liewe Jesus weet dat Mammie die geld regtig nodig het en Hy sal jou help.”

In Valleistraat was daar ’n rooi telefoonhokkie met ‘n man wat binne staan en bel het. Ek het aan die buitekant gaan wag en gedink dat ek dié oom sou vra om ‘n pakkie te koop. Toe hy daar uitkom, vra ek of hy koesisters wou hê en toe gebeur ‘n wonderwerk. “Ag meisietjie, gee my sommer al jou koesisters, dan kan jy huis toe gaan,” het hy gesê en my betaal.

Ek onthou hoe ek huis toe gehardlooop het om vir my ma te vertel dat Liewe Jesus my gebed gehoor het. Dit was ‘n keerpunt in my lewe, want dis hier waar die Here die saad van geloof in my hart geplant het…

Vorige artikelWees getrou in die klein dinge
Volgende artikelDit wat in ons gedagtes aangaan beïnvloed ons gesondheid
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.