Koester hulle verbeelding

3248
Lizanne du Plessis

Verbeelding – die woord klink opwindend en kreatief. Dit neem ’n mens terug na daardie sorgvrye kinderdae toe jy die prinses was en ’n weelderige paleis gebly het.

Al stimuleer tegnologie soos iPads, slimfone en rekenaars kinders op nuwe maniere, ontneem dit hulle tog die vryheid om in hulle eie verbeeldingswêreld te leef en te speel. Los jou kind met klippies en stokke alleen in die agterplaas en hy bou ’n spoghuis daarmee.

Die waarde van fantasie en ’n ryk verbeelding lê daarin dat dit kinders help om orde uit die chaos van die lewe te skep. Fantasie gee jou ’n manier om sin te maak van dit wat gebeur, met ander woorde, dit ontwikkel kreatiewe vaardighede.

Verbeelding help jou om sin te maak van die wêreld

Die beroemde wetenskaplike Albert Einstein het gesê: “Verbeelding is belangriker as kennis.” Kinders moet hulle verbeelding kan gebruik as hulle speel. Dis wonderlik as hulle hulle kan verbeel dat hulle vlieg, kan verdwyn of op die maan bly. Dit is ’n manier om meer oor die wêreld rondom hulle te wete te kom. Kamma-kamma speel bevorder kinders se sosiale en emosionele ontwikkeling en maak hulle slim.

As jy ’n ryk verbeelding het, is jy gelukkig. Dis dan ook makliker om teleurstellings en terugslae te hanteer.

Dié wat gereeld lugkastele bou, het meestal ook ’n baie wye woordeskat. Belangrike vaardighede soos probleemoplossing en nuwe maniere van dink ontwikkel hierdeur – en dis iets wat jou kind nodig gaan hê as hy die dag groot is en by sy eerste werk instap.

Ouers dink dikwels hulle moet kinders elke oomblik van die dag besig hou, maar tyd vir niksdoen is ook nodig. Maak seker daar is genoeg tyd vir jou kind om net te speel of sommer net te wees. Dit is dikwels eers na 45 minute van niks doen en ongestruktureerde spel dat fantasie werklik intree.

Moedig speel, sonder al die speelgoed, aan

Pasop dat die TV, te veel tyd voor ’n skerm en ’n te vol program nie jou kind se dag oorneem nie. Vertel eerder vir hom stories – dink aan wat jy gedoen het toe jy klein was en die lesse wat jy geleer het. Deel dit met jou kind. Dit bou nie net julle ouer-kind-verhouding nie, maar stimuleer ook jou kind se kreatiwiteit.

Pak die speelgoed eers ’n bietjie weg (veral die elektroniese toestelle), gaan weg vir ’n naweek en sê jou kinders moet speel met wat daar in hulle omgewing te vinde is. ’n Kreatiewe kind sal van ’n stok ’n swaard maak, ’n boomstomp sal ’n ruimtetuig word en die klippies ’n paleis. As jy speelgoed uithaal, maak seker daar is blokkies, Lego, sand of water betrokke, wat vrye spel aanmoedig.

Kamma-kamma of voorgee-speletjies vra gewoonlik dat probleme opgelos moet word en verg die vermoë om af te lei wat die volgende aksie in die spel gaan wees. Vra vrae soos: “Hoekom moes Rooikappie na haar ouma toe gaan? Wat was in die mandjie? Wat kon sy gebruik het om die wolf weg te jaag?” Hierdeur ontwikkel kinders die vermoë om te redeneer.

Maak ’n speletjie van huistakies en laat jou kind toe om die speletjie se reëls te maak. Laat haar toe om te besluit watter takies gedoen gaan word en hoe dit gedoen gaan word.

Prikkel die verbeelding deur oop vrae te vra

Ouer kinders se kreatiwiteit en vermoë tot logiese en kritiese denke kan ook gestimuleer word deur vir hulle vrae te vra waarvoor daarvoor nie noodwendig ’n regte of verkeerde antwoord is nie. Moedig hulle aan om hulle idees en denke met jou te deel, al klink dit ook hóé belaglik of onrealisties. Vra vrae soos: “Wat dink jy sal gebeur as …? Wat is ’n ander manier om die probleem op te los?” Die proses is belangriker as die uitkoms.

Fantasie en ’n ryk verbeelding maak die lewe oneindig ryker vir ons kinders. Dit maak hulle meer kreatief omdat dit juis fokus op die dinge in die lewe wat anders, spesiaal en uniek is. Maak daarom tyd vir lugkastele bou, drome droom en verbeeldingsvlugte oor ruimte en tyd. Eleanor Roosevelt, voormalige Amerikaanse presidentsvrou en politikus, het gesê: “Die grootste geskenk wat jy vir ’n kind kan gee, is ’n verbeelding.”

Lizanne du Plessis, ouerskapkenner