“Kom eers af aarde toe as jy ander wil help”

0
1145

Miskien ken jy ook hierdie grappie: ’n Vrou klim met haar babaseuntjie op ’n bus. Toe die kondukteur by haar kom, sê hy: “Mevrou, ek wil nou nie snaaks wees nie, maar dis seker die lelikste kind wat ek al ooit gesien het.”

Die vrou bars in trane uit. Toe die kondukteur wegstap, druk sy haar seuntjie styf teen haar vas. “Ek ry nie ’n kilometer verder met dié bus as wat ek moet nie,” sê sy vir haarself, hard genoeg dat die ander passasiers dit kan hoor. By die eerste bushalte klim sy af.

’n Paar minute later stop ’n ander bus. Sy klim dadelik op en gaan sit heel agter. ’n Christenman wat die vorige dag in die kerk gehoor het hy moet altyd gereed wees dat die Here hom kan gebruik, klim ook op die bus.

Hy sien die vrou en weet dadelik iets is fout. Terwyl hy nader stap om langs haar te gaan sit, bid hy in sy gedagtes dat die Here hom sal gebruik. Hy voel effens ongemaklik, dis ’n groot taak om ’n lig te probeer wees vir iemand wat deur ’n donker tyd gaan.

“Mevrou,” sê die man nadat hy homself voorgestel het, “ek kan sien iets het jou erg ontstel. Ek sê jou wat. Kom ons klim by die volgende bushalte af, dan koop ek vir jou ’n koppie koffie en dan praat jy jou hart uit. En dan koop ons sommer ’n piesang vir daardie apie van jou.”

Die weergawe van die storie wat ek ken, vertel nie wat die vrou se reaksie was nie. Het sy dalk weer in trane uitgebars? Of het sy die man aangerand? Ons kan maar net raai.

Gelowige mense het al baie skade aangerig. Soms doen ons dit doelbewus omdat ons kwaad is of glo dat iemand met wie ons nie saamstem nie, reggehelp moet word. Dikwels gebeur dit egter ten spyte van goeie bedoelings. Ons wou net help!

When helping hurts deur Brian Fikkert en Steve Corbett is ’n merkwaardige boek oor hierdie onderwerp. Verhaal op verhaal word vertel van die skade wat al aangerig is deur goeie mense met goeie bedoelings.

Nou die dag praat ek met ’n vriend wat in ’n plakkerskamp werk. Een van die dinge wat hom dikwels ontstel, is mense wat daar aankom en gou ’n paar geskenkies uitdeel. Dan neem hulle selfies – van ’n swart kindjie in hulle arms of op hulle skoot – en ry weer weg.

Hy sê hy kry die idee dat die liefdadigheid wat hulle doen, eintlik daaroor gaan om hulleself beter te laat lyk en voel. “Feel-good charity” is die Engelse uitdrukking wat dit die beste beskryf. Ons het dit ook al dikwels in ons Echo-gemeenskap beleef. Die kinders sê soms hulle voel of hulle in die dieretuin bly.

Ek wil hoegenaamd nie mense afraai om gemeenskappe en projekte te besoek waar weerlose mense gehelp word nie. Ons het meer mense wat grense oorsteek nodig, nie minder nie.

Ons moet egter onthou dat ons twee ore en een mond het. Ons is veronderstel om meer te luister as te praat. Veral waar mense swaarkry. Die laaste ding wat jy by ’n klomp ryk mense wil hoor wat jou projek besoek, is die woorde: “Julle moet eintlik net…” Of: “Waarom doen julle nie net dit of dat nie?”

Shane Claiborne het gesê: “The problem is not that we don’t care about the poor, the problem is that we don’t know the poor.” Doen moeite om vanuit ’n nederige posisie te leer en verhoudings te bou voor jy begin preek en voorskryf.

Jesus het dikwels groot lesse vir die rykes en magtiges geleer deur die armes en weerloses as voorbeeld te gebruik. Dink maar aan die verhaal van die arm weduwee of die opdrag dat ons by die kindertjies oor die koninkryk moet leer.

Doen eerder sáám met mense iets as vír hulle. Dit gaan nie soseer oor óf ons mense wat honger is, moet help nie, maar eerder oor hóé ons dit doen. Groot dinge kan gebeur, in ons en deur ons, wanneer ons ophou om kos uit te deel – en dit begin waag om saam te eet.

Jaco Strydom is ‘n predikant in Pretoria, blogger en leier van die Echo-gemeenskap.