Kom los van die verlede en lééf!

0
164
verlede.jpg

Jy wil aangaan met jou lewe, maar die verlede bly by jou spook. Só kry jy dit reg om werklik oor te begin.

Dis soos ’n skaduwee wat jou oral agtervolg en elke nuwe môre donker maak: daardie nare ondervinding wat jou altyd sal bybly.

Dit kan enigiets wees: Miskien het jou ouers nooit tyd gehad vir jou nie; daarom het jy geglo jy is nie goed genoeg vir hulle nie en tot vandag toe regeer jou swak selfbeeld jou lewe.

Of jy blameer jouself vir ’n dom besluit wat jy geneem het. Jy moes dalk nooit uit jou werk bedank het nie, of jy moes gouer by die dokter uitgekom het met daardie knop in jou bors.

Elke mens wil graag regmaak wat verkeerd geloop het. Jy wil dit ongedaan maak, maar jy kan nie, want dis te laat. Of jy wil wraak neem. Hoe meer jy egter daaroor tob, hoe meer veronreg sal jy naderhand voel.

Dis regtig nie altyd maklik om jou griewe te laat gaan nie. Jy wil eerder vasklou aan daardie bekende emosies, al is dit ook hóé onaangenaam.

Maar as jy die verlede te veel ontleed, raak dit soos kougom onder jou skoen. Jy wil vorentoe stap, maar jy bly op een plek vassit. En, nes kougom, sal die verlede nie vanself verdwyn nie. Jy moet dit self van jou skoen afskraap.

Om los te kom van gister beteken nie dat jy die seerkry moet vergeet nie, maar dat jy uit ’n ander perspektief daarna begin kyk. Jy kan vir seker nie net “daaroor kom” nie, maar jy kan tog keer dat dit jou lewe verder dikteer. Soos Judith Sills dit stel: “You don’t get over the past, you get past it.”

Om die verlede te laat gaan is ’n kombinasie van dink en doen. Dis ’n skuif wat jy in jou kop én in jou hart moet maak. As jy voel jy het nou genoeg gehad, wees dapper en begin met jou nuwe lewe – sommer vandag nog!

Kry iets nuuts waarna jy kan uitsien

Dis moeilik om die verlede te vergeet as jy voel jy het niks waarna jy in die toekoms kan uitsien nie. Kry so gou moontlik iets wat jou opgewonde kan maak en waarop jy van nou af kan begin fokus.

Dwing jouself om vir ’n aanlyn kursus in te skryf. Kommandeer sommer jou vriendin op om saam met jou te oefen en teken elke dag julle vordering aan. Kyk uit vir jou droompos. Of leer iets nuuts doen, soos om jou afgeleefde meubels met krytverf te verfraai.

Dit sal natuurlik nie altyd maklik wees nie. Daardie nuwe kursus sal beteken jy kan minder tyd saam met jou vriendinne spandeer. Jy sal seer spiere hê as jy begin oefen. En jy sal vir ’n hele klomp onderhoude moet gaan voor jy daardie droompos sal kry.

Dit maak egter nie saak hoeveel jy sal moet opoffer nie, want jou emosionele pakkie sal ligter wees. Op die lange duur sal dit jou lewe beter maak.

Dis ook belangrik om nie net vir die toekoms te leef nie, maar om elke oomblik ten volle te ervaar. Leef bewustelik in die nóú. Los die boodskap wat jy op jou selfoon wil tik tot na middagete. Ervaar nou die smaak en verskillende teksture van die broodjie wat jy eet. Los alles en luister ’n slag met aandag as iemand met jou praat.

Doen alles wat jy doen met meer fokus. Op dié manier verban jy die negatiewe dinge van die verlede uit jou gedagtes.

Skryf ’n nuwe storie vir jou lewe

Jy ís jou storie. Nie soseer die storie van al die gebeure in jou lewe nie, maar die rol wat jy dink jy daarin gespeel het. Jou man het jou dalk emosioneel mishandel, nou glo jy jy sal vir altyd ’n slagoffer bly. Jy het lank terug ’n glips by die werk begaan; daarom dink jy vandag nog jy is onbevoeg.

Gelukkig kan jy jou storie verander. Gaan sit en skryf die negatiewe hoofmomente van jou lewe nuut oor. Vertel alles asof jy ’n neutrale waarnemer is wat van bo af na jou lewe kyk. As jy dit doen, sal jy sien dat jy nie noodwendig die slagoffer is nie. Dit sal jou ook minder hulpeloos laat voel.

Jy sal dalk selfs kan sien watter goeie dinge daar ná ’n negatiewe insident gebeur het. Een vrou vertel dat sy verskriklik seergemaak was na haar man se affair. Tog was hulle nie gelukkig getroud nie. Sy het besef dat die affair hulle al twee eintlik ’n kans op ’n nuwe lewe gegee het – sonder mekaar.

As jy jou storie op hierdie manier herskryf, verander jy nie die feite nie. Jy sien dit net deur meer volwasse oë.

Die nuwe storie wat jy nou geskryf het, is ’n stappie nader aan vergifnis. Jy kan nou insien dat dit net sowel enige ander vrou se storie kon wees en dat alles nie persoonlik op jou gemik was nie. Daarom sal dit makliker wees om die mense te vergewe wat jou te na gekom het.

Vergewe die mense wat jou seergemaak het

Dis dalk vir jou onverstaanbaar dat jy iemand moet vergewe wat jou benadeel het. Dit voel so onregverdig. Dis asof die persoon weggekom het daarmee en jy haar optrede goedkeur. Vergifnis is egter jóú keuse. Dis nie asof jy jou gedwee en willoos oorgee nie. Maak die keuse – ter wille van jouself.

Die volgende stap is om dit persoonlik te sê of ’n brief te stuur. Sê iets soos: “Pa, dit was verskriklik toe jy altyd so dronk geword het en dan vir my kwaad was. Maar ek vergewe jou, want ek weet jy het ook deur hel gegaan.”

Dit geld natuurlik ook vir die kere wat jy iets gedoen het waarvoor jy jouself nog steeds verwyt. Die keer toe jy vir jou kind gesê het sy is dom, toe jy gejok het, toe jy julle kosgeld op iets anders spandeer het. Jy kan presies dieselfde stappe volg om jouself vry te spreek.

Nou kom die laaste stap: Maak reg. ’n Mens wil mos gewoonlik voel jy het “opgemaak” vir iets. Dis soos uitskryfwerk toe jy op skool was en nie jou huiswerk gedoen het nie.

As jy die een was wat verkeerd was, sê jy is jammer. Vra hoe jy kan vergoed of sê self wat jy gaan doen. Was jy ongeskik met jou man? Bied dan aan om ’n takie waarvan hy niks hou nie, vir ’n week te doen.

Vertaal en verwerk uit Let It Go! van Judith Sills.