Kom ons …

Die dinamieka van ‘n groep het die vermoë om iets in elkeen van ons na vore te bring wat ons waarskynlik nie op ons eie sou kon vermag nie.

Selfs al bestaan die groep net uit twee mense. Die groep het die vermoë om die individu geborge te laat voel, motiveer, onderskraag en saam dinge te laat geniet. ’n Persoon/persone wat as’t ware as ‘n tweede familie dien.

Ek wonder soms of die vier melaatses wat in 2 Konings 7 buite die stadpoort gesit het, die waagmoed aan die dag sou lê om na die kamp van die Siriërs oor te stap indien daar net een van dié melaatses sou wees. Ek lees in die teksgedeelte dat hulle onderling gesels het en dus saam besluit het om na die kamp van die Siriërs oor te stap. Die prys vir hulle waagmoed was dat hulle ‘n verlate kamp aangetref het wat met ‘n oorvloed van kos en kosbaarhede gevul was.

Op onsself aangewese is ons soms net te versigtig om te waag. Om ‘n nuwe stoperdjie te begin, deel van ‘n oefengroep te word, by die gym aan te sluit, te gaan stap, draf, fietsry, swem of te begin skryf lyk so na iets wat ons dalk nie van gaan hou of sal kan baasraak nie.

Al te dikwels onderskat ons ons vermoeëns. Andersins het ons die idee dat ons van meet af ‘n suskses moet maak van dit wat ons aanpak, anders gaan ander vir ons lag of ons gaan soos ‘n mislukking voel (Sê nou maar net …)

Ons het derhalwe soms net iemand anders of ‘n groep mense nodig wat ons saamsleep om te gaan gym, sport beoefen, kunsklasse neem, skryfkursus doen, ensovoorts ongeag ons aavanklike teenkanting. Of iemand wat ‘n talent in jou raaksien en jou net daardie hupstootjie in ‘n rigting gee want op jou eie wil jy dit nie waag nie.

Dit is dus nodig dat ons toegelaat word om saamgesleep te word ter wille van ons ontwikkeling en bloot om lewensgenot daaruit te put. Ons het nodig om ‘n slag iets anders te doen. Om buite ons roetine te beweeg. Om liggaamlik, intellektueel en emosioneel gestimuleer te word, te groei en ander ervarings te beleef.

Ek is dus dankbaar vir my skoonsus wat my aangemoedig het om hier te begin blog. Alhoewel ek nog altyd ‘n voorliefde vir lees en skryf gehad het, het ek maar selde geskryf en my skryfwerk tot blootstelling aan die familie beperk. Ek het dus net ‘n hupstoot nodig gehad. Is my skryfwerk volmaak? Geensins, maar ten minste gee dit my die geleentheid om hierdeur te groei, terwyl ek dit terselfdertyd geniet.

Soms is jy die een wat die saamsleep/aanpor werk moet doen. Wat ‘n talent in ‘n vriendin/vriend raaksien. Wat moet sê: “Kom saam met my/ons, ons gaan bietjie…”. Of dalk net daardie vriendin/vriend op ‘n nuwe lewenservaring te moet neem ter wille van sy/haar geluk.  Of dalk hom/haar kerk toe nooi sodat sy/haar lewe volkome kan verander.

Die meeste van ons is nie te gewillig om te verander of nuwe dinge aan te pak nie. Ons moet egter leer om nie so maklik teë te stribbel as iemand ons saamnooi om iets nuuts aan te pak nie. Wie weet, dalk hou jy nog daarvan. Geniet die proses sonder om ander danig te probeer beindruk. Om ‘n indruk te probeer maak skep net ‘n nuwe stresvolle situasie – juis waarvan jy probeer wegkom.

Wees ontvanklik om ‘n nuwe sy van jouself te ontdek. Gun dit vir jouself.