Kommunikasie

Ek verneem dat tegnologie in die 21ste teen sodanige pas ontwikkel dat die gevorderdheid daarvan elke 8 jaar verdubbel.

Sowat 30 jaar gelede kon ek nie eens ‘n direkte oproep plaas toe maak nie. Ek moes eers die sentrale bel, vir die dame my ouers se nommer gee, waarna sy my deurgesit het (sy kon ook nog inluister op die gesprek as sy wou). Vandag kan jy sommer jou banksake met behulp van jou selfoon doen, vlugkaartjies bespreek, kyk of dit more gaan reën en musiek luister.

Alhoewel ek begrip het vir die voordeel van al die toepassings (apps) op ‘n selfoon, poog ek nietemin om die gebruik van my selfoon tot die minimum te beperk ten einde genoeg tyd vir persoonlike kontak en kommunikasie te laat en ander aktiwiteite ook in te pas.

‘n Mens besef egter eers jou afhanklikheid van die selfoon sodra die foon breek of verlore raak (amper soos wanneer daar skielik nie water in die krane is nie). Enkele Sondag gelede moes ek tot my ontsteltenis vind dat ons eenjarige, woelwater Yorkshire terriër hond my selfoon se laaier (charger) aan flarde gekou het. Aangesien die selfoon nie meer nuut is nie, het nie een van die ander laaiers (chargers) in die huis op die selfoon gepas nie. Dit was dus net ‘n kwessie van tyd voordat die selfoon se battery heeltemal pap sou wees, wat my kommunikasie met die buite wêreld ernstig in die wiele sou ry.

Dit is met soortgelyke onsteltenis/ontnugtering dat ons soms besef dat ons geestelike battery ook aan’t pap raak is, dikwels omdat ons nie elke dag herlaai nie. Ons daaglikse gesprekke met ons Vader en beste Vriend raak verwaarloos en die lyn van kommunikasie is effens gebroke. Al te dikwels begin die dag sommer besig en saans is ons poegaai. Doeltreffende daaglikse tyd- en selfbestuur is dalk die grootste uitdaging.

Politieke verwikkelinge, verhoudings met kollegas, familie en vriende, werksomstandighede, droogte en finansies is maar enkele van die dinge wat ons geestelike kommunikasie nadelig kan beinvloed sou ons nie vanuit ‘n Byblese perspektief aandag daaraan gee nie.

God, as ons Vader en beste Vriend, is altyd beskikbaar. Ons moet net seker maak dat ons alledaagse verbinding met Hom, deur gebed, Sy Woord en die Heilige Gees, met groot sorg beskerm, maar ook gebruik moet word.