Kommunikeer beter met jou maat

0
430
kommunikasie.jpg

Om werklik te verstaan wat jou maat dink, moet julle sinvol met mekaar kommunikeer. Hier is wenke.

Sorg dat jou tydsberekening reg is

Om oor sensitiewe sake te gesels is altyd moeilik. Moet dit egter nie nog moeiliker maak deur ’n verkeerde tyd te kies wanneer daar baie goed is wat sy aandag kan aflei nie. Mans kan regtig nie verskillende goed tegelyk doen nie en nog minder na verskillende goed op dieselfde tyd luister. Wanneer ’n gesprek tot konflik kan lei, is tydsberekening van die allergrootste belang.
SWAK KOMMUNIKASIE: Jy begin sommer uit die bloute met jou man gesels terwyl hy Toks en Tjops kyk.
BETER KOMMUNIKASIE: Waarsku jou maat vooraf dat jy graag met hom oor iets wil praat. Gee hom dan kans om te besluit watter tyd en plek vir hom gaan werk.

Hoe die gesprek begin, is hoe dit gaan eindig

Wanneer jy ’n gesprek met ’n aanval begin, gaan die ander persoon dadelik aan teenaanvalle en verskonings dink in plaas van om na jou te luister. As jy die gesprek op ’n kalm manier begin, is die kans goed dat hy na jou sal luister en eerder met oplossings vorendag sal kom.
SWAK KOMMUNIKASIE:  “Baie dankie dat jy nie petrol ingegooi het nie. Ek was laat vanoggend.”
BETER KOMMUNIKASIE:  “Lief, dit help my baie as jy vir my petrol laat ingooi. Sal jy my ’seblief in die toekoms laat weet as jy nie tyd daarvoor het nie of vergeet het. Dan kan ek betyds ’n ander plan maak.”

Praat net vanuit jou eie ervaring

Hierdie is die ou-ou kommunikasiebeginsel wat daaroor gaan om vanuit jou eie ervaring te praat. Vertel hoe jy voel en hoe jy dinge sien. Moenie aanvaar dat jy weet hoe jou man dink of voel nie. Gebruik woorde soos “ek” en “my” om jou standpunt te verduidelik. Om ’n gesprek met “jy” te begin, klink sommer van die begin af aanvallend.
SWAK KOMMUNIKASIE:  “Jy maak nooit skoon agter jou nie. Het jou ma jou nie maniere geleer nie?”
BETER KOMMUNIKASIE:  “Ek is só moedeloos as ek in ons badkamer kom en alles lê op die vloer. Dit voel of ek net goed genoeg is om almal se gemors op te ruim.”

Bly by die onderwerp en kom tot die punt

Gesels oor een ding op ’n slag. Om die afgelope sewe jaar se ou koeie uit die sloot te gaan grawe, gaan niks help om vandag se probleem op te los nie.
Hou ook die gesprek kort. Niemand het krag vir ure se geteem in hulle ore nie.
SWAK KOMMUNIKASIE:  “Soos soveel keer vantevore het jy geskitter in jou afwesigheid by die oueraand. En so gepraat van afwesigheid: Wanneer laas het jy na ’n netbalwedstryd of konsert gaan kyk?”
BETER KOMMUNIKASIE:  “Dit was vir my baie erg om gisteraand alleen na die oueraand te gaan. Dit sal vir my en die kinders baie beteken as jy volgende keer kan saamkom.”

Dit is gevaarlik om afleidings te maak

Ons maak dikwels die fout om te dink omdat iemand ons ken, hy behoort te weet wat ons dink en voel. Ironies genoeg is dit jóú verantwoordelikheid om jou gevoelens en standpunte met hom te deel. Iets wat vir jou vanselfsprekend is, is nie noodwendig vir hom vanselfsprekend nie. Wees spesifiek en gebruik konkrete voorstelle.
SWAK KOMMUNIKASIE:  “Teen dié tyd moet jy mos weet hoe ek oor gholf op Saterdae voel.”
BETER KOMMUNIKASIE: “Ek is verskriklik teleurgesteld dat jy hierdie Saterdag gaan gholf speel. Dis die enigste tyd wat ons as gesin saam kan wees. Is daar ’n manier dat jy dit tot net een Saterdag ’n maand kan beperk?”

Praat, luister en beweeg dan aan

Maak seker jou man verstaan wat jy probeer sê as jy jou kant van die saak gestel het. As hy het, kan julle aan beweeg. As die onderwerp konflik veroorsaak het, maar dit is nodig om ’n oplossing te kry, is dit beter om ’n later tyd daarvoor af te spreek.
As julle agree to disagree, kan julle aan maniere dink hoe om met julle verskille saam te leef.
SWAK KOMMUNIKASIE:  “Hoe kan twee mense wat mekaar liefhet oor so iets verskil?”
BETER KOMMUNIKASIE:  “Ek sien jy dink anders hieroor. Ek respekteer dit, maar kan ek jou vra om aan maniere te dink hoe ons met hierdie verskil gaan saamleef?”

Vertaal en verwerk uit ’n artikel van A Game Plan for Effective Communication van die National Healthy Marriage Resource Center.