Konkel in die donker. . . Pasop, God kyk!

Baie mense dink, o hoe toevallig het dit nie gebeur nie. Die kamera het toevallig die oomblik vasgevang toe daar met die krieketbal gepeuter word.

Perfekte tydsberekening. O Nee, die lewe het my hard en duidelik geleer dat die woord toevallig  net in die duiwel se kamp bestaan as een woord. Aan die lig, of dan toe val lig as drie woorde, ja dis van God. So, het dit gebeur: Toe val lig van God op die bal en die geheim is skielik nie meer ‘n geheim nie wanneer alles aan die lig kom. Dit bring my dadelik by die Woord uit.

Lukas 8:17 “Daar is niks geheim wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie.”

Het jy die pertinente drie (3) woorde opgemerk ‘aan die lig’? Dis hoé God werk.

Die afgelope week gis en gons dit in die media rondom twee skandale. Die een in die sport arena. Die ander in die politieke arena. Tog is een patroon duidelik te sien in beide gevalle. Leuens en geheimhouding.

Ag siestog man, dis die enigste patroon wat die vyand het. Hy kan net ‘copy’ want hy is nie die Skepper nie. Hy is immers die vader van leuens. Nie verrassend, eie aan die slang se styl, seil hy altyd agteraf en onderlangs rond in geheimhouding. Wat ‘n pateet!  Slegs die name van sý rolspelers word vervang met elke toneel waarop hy te vind is in hierdie lewe. Die patroon en klank bly dieselfde: Leuen fluisteringe in die diep donker van geheimhouding.

Mense betrokke in hierdie skandale is so ewe hoogs gerespekteerde ‘gesiene’ mense. Mag, status, aansien, goud, glinster en glans ontbreek nie. Die wêreld wéét van hulle! Maar, o tog, daar bewys die lewe dit net wéér, trots  gaan altyd voor ‘n val.

Spreuke 16:18 “Op hoogmoed volg ondergang op selfverheffing volg die val “

Hoé, het  hierdie mense sonder om te blik of te bloos in die  strikke van die vyand getrap wonder baie mense hardop? Maklik. Die gesindheid van hulle harte was oop vir die vyand en sy boosheid as gevolg van hulle eie  TE groot ego’s. Hulle het die god van hulle eie-ek lewe geword. Dis eenvoudig. Wanneer God nie die hart se anker is nie, word die vyand die hart se anker. Daar waar jy anker, dit word jou god/God. Maar God.

Lukas 8:18“ Pas dus op hoe julle luister, want wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word, maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy dink dat hy het, weggevat word”.

Dwaasheid teenoor wysheid. Dit is wat jou lewe meer of minder maak. Dit is wat jou laat wen of verloor in hierdie lewe. Binne sekondes het hierdie mense die Woord realiteit hierbo eerstehands beleef toe hulle van hero na zero val in sekondes. Die maskers waaragter hulle kon wegkruiper-speletjies met God en mens speel was in ‘n oogwink weg vir almal om te sien! O die vernedering wat leuens en geheimhouding nie meebring nie! Ná die val leer hulle nog ‘n harde les in hierdie lewe:

Wysheid en intergriteit is alles.

Aan die een kant erken en neem sommiges verantwoordelikheid vir hulle foute. Aan die ander kant is daar ontkenning wat selfs gepaard gaan met ‘n verdere arrogansie om geld te laat stom maak, dit wat krom is. Ook dit werk toe nié! O hoe wyd en vêr sirkel die gevolge nie van hierde mense se dwaasheid nie. O as hulle tog net die skuldgevoelens kan wegwens wat hul van diep binne opvreet! Spyt en verwyt kom altyd te laat is nog ‘n duur les wat hulle eerstehands hieruit leer! Ja, een oomblik van waansin met die vyand het nie net hulleself nie, maar ook vele ander ‘n leeftyd se pyn en seer besorg. Dit ontdek hulle almal nou eerstehands.  Hulle dade het toe wel gevolge al het hulle in die oomblik daarvan glad nie eens daaraan gedink nie. Was die kool die sous werd? Beslis nié sal hulle nou met alle eerlikheid in retrospeksie kan antwoord.

Ja, die vyand is magtig, maar God is Almagtig.

Miskien lees jy nou hier terwyl jy wéét jy is self besig om in die donker te konkel. Natuurlik dink jy jou geheim is presies dit, ‘n geheim. Goed weggesteek. Dra jy ‘n masker? Leef jy ‘n dubbel lewe sonder om te blik of te bloos? Jy mag dalk nie ‘n sportster of  President wees nie, wel ‘n ‘gesiene’ persoon wat ‘n senior pos en titel beklee in ‘n ‘gesiene’ organisasie. Is jy iemand met magsposisie? Is jy ‘n leier in gees en waarheid? Jy wat ‘n leier is. Mense is ondergeskik aan jou en kyk na jou leierskap en leefstyl voorbeeld. Vir sommiges is jy selfs die toonbeeld van sukses.

Mag ek jou vra:

Wie is JY werklik daar waar niemand jou sien nie, daar waar God tog kyk en sien?

Antwoord God.

PS: Konkel jy in die donker? Pasop, God sien!  Hou asb op daarmee voordat God ook vir jou van hero na zero verneder wanneer Hy dit aan die lig bring.  

Vorige artikelWatter pad, Here?
Volgende artikelWildvang met nette
Blogger - Tania Delport
Tania Delport is terselfdertyd onkonvensioneel, passievol, vreesloos, kreatief, teen die grond neergegooi maar nie vernietig nie, vol blydskap en humor, Woord deurdrenk en geesvervuld, ‘n onvergeetlike persoonlikheid. Tania Delport se skryftalent is ‘n passie en natuurlike gawe van God maar ook stil-stil geïnspireer deur die welbekende skrywer Hennie Aucamp wat 20 Maart 2014 oorlede is. Sy het in die Stormberg hoogland in die Oos-Kaap grootgeword op die buurplaas vanwaar hy grootgeword het. Haar oom aan haar pa se kant was getroud met die suster van Hennie Aucamp, dus was hy deel van haar familie binnekring. Tania Delport is in haar finale seisoen van liefde en lewe. Haar prioriteit is haar man Pieter. Sy is toegewyd en gaan haar gawes met veral vroue deel. Tania Delport se G-I-L in die nag het L-I-G in die dag geword want God is Liefde. Haar lewe het vlerke gekry. Dis tyd vir joune! Besoek gerus haar web tuiste https://eet8eet.co.za