Konneksielose Christenskap

Ons gesinnetjie is by die kerk.  Daar sing die aanbiddingsspan en hulle klink pragtig.  Ek sing saam en geniet die klank van my stem se harmonieë saam met die hoofsanger en die ander dame se alt stem.

Ek bewonder die liedjie se lirieke.  Hulle is is intiem en treffend en ek sing gevoelvol saam.

Tot ek skielik besef, ek is besig om dit alles amper indirek te beleef. Ek is nie werklik besig om met Jesus self te praat nie.  Selfs al is die woorde direk tot Hom gemik, kry ek dit reg om gevoelvol aanbidding te doen sonder om ooit werklik te aanbid.  Ek is nie besig om die konneksie te maak nie.  Kan jy dit glo?!

Om “Christenskap” te doen sonder om ooit in Sy oë te kyk.

Ek sien dit sommer.  Jy en jou ander helfde sit by ‘n romantiese restaurant en werk beide julle fone terwyl julle gevoelvol jul liefde aan mekaar verklaar, want “sulke gesprekke” is wat mens op dates doen, maar julle moet net gou iets belangriks op die foon afhandel.  Jy bedoel wat jy sê, maar jy’s nie DAAR nie.

Jy hoor die preek en al wat jy hoor is puik inhoud vir sosiale media, of betekenisvolle temas vir radio programme.  Ja, dis vir my ook, maar eintlik eerder vir my luisteraars… ja, die moet hulle hoor!

Dan in die middel van die liedjie wil my 13jarige vir my iets vra, en ek besef sy vang dit ook nie.  Sy sing net so hard saam, maar het geen probleem om iets te wil uitklaar terwyl ons vir onderstel is om saam met Sy bruid Sy aandag te geniet nie… Sy is ook nie besig om die konneksie te maak nie, anders sou sy dit nie onderbreek om gou iets alledaags met iemand anders te bespreek nie.

So hoekom is ek dan by die kerk?

Ek is daar om ‘n diep konneksie met Hom, Sy mense en Sy Woord te maak.  Dan reageer ek tot Sy hart met my aanbidding by die kerk en vir die res van die week.  Dalk is dit hoekom “kerk” so min effek op ons lewens het.  Hy bel maar ons tel nooit regtig op nie…