Koop en koop maar my hart bly leeg

0
223
storie.jpg

Sy het haar pyn en depressie probeer hanteer deur te koop, maar Sy liefde het háár vrygekoop.

Ek is besig om my huis skoon te maak. Dit was altyd só vol dat ons byna nie kon loop nie. Vol gekoop. Vol meubels en oudhede – alles opmekaar gestapel. Later het ek my man se garage begin volpak. En toe my pragtige, geduldige man sê ek moet ophou, het ek begin karre koop. Ná my derde antieke motor het my man sy voet dwars gesit – genoeg is genoeg! My vierde 1935 Wolseley Wasp het egter sy hart gesteel. Nét hy kan dit bestuur, het hy besluit, want die ratte werk andersom. En met al my onnodige besittings en klassieke motors het God self ’n mooi plan kom maak sonder dat ek dit besef het.

Twee maande voor my troue, op my verjaarsdag, verongeluk my jonger broer met sy motorfiets. Dit was ’n geweldige skok. Hennie was nog nie eers 21 nie. Daarna kon ek nie weer my verjaarsdag vier nie.

Ek het begin skoene koop. En koop. En koop. Nou kon ek ten minste my hartseer uit loop. Na ’n dag of twee was die blink egter “afgetrap”… en dan moes ek weer nuwes kry. Onbewustelik het ek na ’n vastrapplek gesoek, my voete probeer vind. Ons huwelik het dus begin met my wat reeds in depressie se kloue was.

My jongste boetie het geval toe hy klein was en daarna stom geword. Hy het eers op tienjarige ouderdom weer gepraat, maar kon nooit lees of skryf nie. Dit het sy selfbeeld geknak. Ons was baie na aan mekaar.

Een aand laat, terwyl ek besig was met naaldwerk, bel hy my om te sê hy sien nie meer kans nie. Hy gaan homself skiet. Ek het met hom geredeneer, hom vertel hoe lief ons vir hom is en hoe verkeerd dit in God se oë is. Hy het net gesê: “God ken my!” En met dié stamp hy die geweer teen die vloer, en ek hoor oor die foon hoe die skoot afgaan en my ma begin gil.

Ek en my man het onmiddellik van Vanderbijlpark af Parys toe gejaag, waar Roelf saam met my ouers op die familieplaas gebly het. Daar het ek my ma op die vloer langs my boetie gekry. Sy het gebid. Ek kon sien daar was geen lewe in hom nie. Maar weet jy, die Here was só genadig – daar was niks bloed nie. Die koeël is by sy maag in en het sy aorta getref. ’n Klein gaatjie in sy maag. Dit was al.

Al kon ek God se genade daarin sien, was dit vir my baie traumaties. Ek het regtig ’n gawe vir naaldwerk van die Here ontvang, en dit lank as ’n beroep van my huis af gedoen. Maar na Roelfie se dood het ek só depressief geraak en só baie gehuil dat ek nie meer daarmee kon aangaan nie.

Vir my ouers was dit net so erg. Roelfie en my pa het saam geboer en my pa het hom verskriklik gemis. Sy gesondheid, waarmee hy reeds gesukkel het, het verswak, in so ’n mate dat hy ’n ruk lank in Kroonstad in die hospitaal was. Toe hy daar uitkom, wou hy skielik alles skoonmaak en die plaas verkoop. Dit was vir ons vreemd, maar ons het nietemin gaan verf koop en Pa gehelp om die huis uit te verf. Dit was seker die Heilige Gees, maar ek het heeltyd die gevoel gehad dat iets nie reg is nie. Pa het nie vir my goed gelyk nie.

Een aand het ek my ma nog tot laat help skoonmaak en is daarna terug huis toe. My ma het met verfklere en al langs my pa aan die slaap geraak. Hy het haar wakker gemaak en gesê sy moet gaan bad. Terwyl sy in die bad sit, het sy die skoot in die kamer hoor afgaan.

Pa het net sy tong afgeskiet en die koeël het in sy kunstande vasgesteek. Ons het met hom Potchefstroom toe gejaag, waar die dokters skanderings gedoen het in ’n poging om die koeël te vind. Dis toe dat hulle ontdek dat hy reeds longkanker in ’n gevorderde stadium gehad het. Het hy dit miskien uitgevind toe hy in Kroonstad in die hospitaal was en vandaar die skielike behoefte om die plaas te verkoop? Ons sal nooit weet nie. Net toe die ambulans opdaag om hom na ’n groter hospitaal te vervoer, het hy ’n hartaanval gekry en gesterf. Net so.

Toe my pa nog geleef het, het ek altyd saam met hom vendusie toe gegaan. Dan het ons al die nuus verneem. My pa sou vir ons elkeen ’n hamburger koop en dan eet ons dit terwyl ons rondloop en na alles kyk. Ná my pa se dood het ek aangehou om die vendusies te besoek. Ek het baie seer gehad en daar het ek op ’n manier nader aan hom gevoel.

Van die mense wat hulle goedjies op die vendusies probeer verkoop, kry maar swaar. Omdat my ouers self gesukkel het, het ek daardie mense verskriklik jammer gekry. Ek het begin om hulle goed aan te koop. Ek het gekoop en gekoop; my huis en my man se motorhuis vol. Dis nie dat ek noodwendig baie wou hê nie… indirek wou ek eintlik net help.

Dit het tien jaar lank so aangehou. In daardie tien jaar het my kinders grootgeword en is hulle uit die huis. Dit het natuurlik die depressie vererger. Ek het verskriklik baie in my kinders belê en skielik het dit vir my gevoel asof ek nie meer ’n doel in die lewe het nie. Die leë nes het ek weereens met koop gedokter. Ek het in ’n tipiese opgaarder verander.

Maar die Here se genade is onbegryplik, en Hy kan ons dwaling en beproewing in voorsiening verander. In ’n poging om my huis net weer leefbaar te kry, het ek van die antieke ware begin verkoop. So vind ek toe uit dat van die items uiters waardevol is, wat ek natuurlik nie geweet het toe ek dit destyds gekoop het nie.

En die klassieke motors! Mense wat die karre gesien het as ons hulle op die sypaadjie trek om die gras te sny, wou een skielik huur, en so kom daar toe nog ’n inkomste. Hoe het daardie tjorre nie my geloof versterk nie! Dis omtrent ’n gebid wanneer iemand met die motors wou ry. Hulle is maar sensitief, het baie aandag nodig en kan sommer sonder rede in die middel van ’n do gaan staan.

Daar was byvoorbeeld die keer toe ons gevra is om ’n Afrika-kerkgroep in Sebokeng rond te ry… met die Wolseley. Nodeloos om te sê, die geel gevaarte gaan staan sommer in die middel van die township met taxi’s wat rondom ons toeter blaas. Ek vra vir die prediker: “Did you pray this morning? Because, Brother, you’d better pray now!” En daar vat die kar.

Ek dink nie ons besef hóé absoluut God in beheer van ons lewens is nie. Stadig maar seker het Hy my kruis van koop verander in ’n uitkoms van verkoop. Hoe genadig is dit nie!

Ek verjaar die dag na Kersfees, die dag waarop my broer gesterf het. So, Kersfees en my verjaarsdag was nooit vir my ’n lekker tyd nie, maar selfs dít het Hy kom omdraai. Die oomblik toe my eerste kleinkind gebore is, het dit gebeur. Ek is tevrede met myself. Ek wil wees wie God my gemaak het.

Vir my vyftigste verjaarsdag laat ek my grys hare uitgroei. Ek gooi my luike oop en beplan na byna dertig jaar ’n fees. Al my geliefdes word genooi, want ek wil dankie sê. Vir God. Ek wil dankie sê vir my lewe. Dat my kinders gesond is en niks oorgekom het nie, nes ek dit van die Here afgesmeek het. Dankie dat ek nie meer nodig het om te koop nie. Dankie dat my las ’n uitkoms geword het.

Ek steek die kerse op. Ek nooi almal vir die feesmaal en deel my gekoude klippe uit as mirre.