Koos Kombuis, wyser deur die jare

0
168
koos_kombuis.jpg

Die legende, Koos Kombuis, gesels openhartig oor die paaie wat sy lewe geloop het. Hy het wyser geword deur die jare en vat niks meer vir granted nie.

Geluk met jou nuwe boek. Wou jy nog altyd ’n skrywer word?

Baie dankie. Ja, ek het altyd geweet ek gaan voltyds skryf. Ek was al alles onder die son, van ’n brandweerman, staatsamptenaar en pizzamaker tot ’n bankteller! Die tyd wat ek musiek gemaak het, was ’n onverwagte kinkel in die kabel, maar beslis ’n bonus. Daar was baie ompaadjies in die roete wat ek gevolg het tot hier. ’n Mens leer baie in die proses. Daar is nie eintlik kort paaie na wysheid nie.

So van wysheid gepraat, in watter opsigte het jy wyser geword?

Ek verstaan nou die verkramptheid van die ou Suid-Afrika, die skuldgevoelens en vreesgodsdiens, die gepaardgaande armoede en sielkundige wanbalans ’n bietjie beter. Ek verstaan myself ook beter. Die moeilikste ding om aan te pak en te oorwin was my eie tekortkominge, asook dit wat ek as my “sterk” punte beskou het. Ek het ontdek dat alle goeie dinge op die ou end verwant is aan iets wat ek net as genade kan beskryf.

Hoe het hierdie gewaarwordinge jou menswees help vorm?

Ek besef nou ek is net ’n gewone ou. Ek is net so weerloos en beperk soos almal om my. In die verlede sou hierdie gedagte my mal gemaak het van onsekerheid. Nou bring dit berusting, want ek is nie meer alleen nie. Soos die meeste mense is ek ook uitgedaag en seergemaak deur ander. Maar agterna beskou, besef ek dat baie van hierdie mense spieëlbeelde was van dinge waarmee ek moes vrede maak in my eie persoonlikheid.

Jy klink inderdaad wyser en asof jou lewensuitkyk baie verander het.

Dit was ’n ontsaglike ervaring van vreugde en heelwording om my nuwe boek vas te hou – so asof ek vir die eerste keer iets publiseer. Ek is nie meer die deurmekaar gees wat ek was nie. Nie dat ek van nou af net ernstig gaan wees nie. Humor en satire is steeds my manier van waarneem en skryf. Maar ek wil vergeet van die ou dinge, die wroeging, obsessies, vetes, wraak, waansin en diep seerkry van my verlede.

Deel jou “nuutgevonde” motto met ons.

Respekteer vroue. Leef vir die oomblik. Gee asseblief die Tabasco aan. Bel jou ma. Vryf jou hond. As jy regtig in die knyp is, bid maar, dis oukei. En as jy nie in staat is tot geloof of selfs liefde nie, laat jouself ten minste toe om te hoop. Dis beter as wanhoop. My oog en hart is gefokus op iets groter en onbeskryfliker as alles wat op aarde aangaan. Ek vat niks meer vir granted nie.