Koppies

koppie

Dink aan ‘n koppie… enige koppie of daardie spesiale koffiebeker… Verbeel jou daardie koppie of beker is jou hart. Ek skryf hierdie stuk vir elke persoon wat, soos ek, sonder ophou uit hulle eie koppies vir almal om hulle skink.

In ons gejaagde lewe blaai ons dikwels vinnig deur lang artikels of vluglees ‘n blog net om halfpad te besef dat die artikel wat interessant gelyk het ons nie verder boei nie en dat kosbare tyd (en data) gemors is. Maar, maak asseblief tyd om hierdie stuk te lees want ek wil graag my ervaring van die perspektief met jou deel. Dit het soveel dinge in my lewe verander en ek wens ek het dit vroeër besef.  Dalk herken jy jou eie koppie of iemand anders s’n soos jy verder lees. Deel dit met hulle.

“Jy kan nie uit ‘n leë koppie skink of drink nie. Sorg eers vir jouself.”

Ek het hierdie aanhaling soveel keer die afgelope jaar gehoor. ‘n Jaar wat emosioneel uitmergelend was. Ek het reeds oor van hierdie gebeure geskryf.  Daar is sekere insidente wat ek nog nie gereed is om te deel nie, maar ek glo ek sal Gelei word om daaroor te skryf wanneer die tyd reg is.

Mense na aan my het geduldig bly waarsku dat ek eers na myself moet kyk en nie moet aanhou om uit my koppie vir ander te skink sonder om ‘n bietjie vir my eie dors oor te hou nie. Ek het hulle gehoor, maar nie geluister nie.  Ek is in wese ‘n versorger en wou soos altyd vir almal uit my bodemlose koppie bly skink.  Ek het sonder ophou bly skink, want ek wou, en toe skielik is my koppie leeg. Of so het ek gedink…

Ek kon nie die leë gevoel verstaan of verklaar nie. Ek was omring deur soveel ongelooflike, fantastiese, wonderlike, ondersteunende vriende, familie en kollegas. Hulle koppies loop dan oor vir my?

In Junie begin ek siek voel. Ek vermy dokters en doktersbesoeke is gewoonlik slegs vir seldsame noodgevalle. Skielik kon dit nie anders nie. In die afgelope maande het ek meer doktersbesoeke, bloedtoetse en skanderings gehad as tot dusver in my hele lewe saam. Steeds het ek nie antwoorde op die leë gevoel gehad nie en my frustrasie het net bly groei.

Ek voel geïrriteerd want ek voel nie soos ek nie. Ek is moeg en my lyf protesteer as ek inkopies moet gaan doen. Alles is seer en pyn en ek weet nie hoekom nie. Ek worstel met die redes vir die fisiese en emosionele moegheid terwyl daar dan soveel mense is wat steeds my koppie probeer vol gooi. Toe tref dit my…my koppie lek.

Dae lank soek ek die lekplek en toe die ontnugterende besef – my koppie is stukkend, flenters. Waar en hoe het dit gebeur? Nog worsteldae volg.  My perfekte koppie het die eerste stamp en kraak as klein dogtertjie gekry…

Elke moontlike krapmerk, kepie of kraak het deur my gedagtes gemaal.  Dit was ‘n kookpot van klein dingetjies wat my seergemaak het tot die grootste onbeskryflike hartbreek insidente wat my koppie finaal gebreek het.

Jy sien, as ek vroeër besef het hoe belangrik dit is om eers my eie koppie heel te hou, het ek nie met die skerwe van my koppie gesit en gewonder waar moet ek begin om die stukke weer bymekaar te sit nie.  As ek dit liewers maar met groter sorg opgepas het sou ek nie so moedeloos en geïrriteerd met myself gevoel het omdat ek nie meer so oorvloedig vir ander kan skink nie. Ek wil weer aanhou skink… 

Het ek vroeër geweet wat die gevolge kan wees, het ek eerder begin om die krake in my koppie met goue lakverf te vul soos die Japanese kintsugi kuns. Ek wou alles wat gebeur het rasionaliseer tot “dis die lewe”. Ek besef nou al is dit “die lewe” wat ons in skerwe kan laat breek, “die lewe” ons ook dwing om goue lakverf te soek om die krake reg te maak om emosioneel en fisies sterk te wees. Ons het nie nodig om die skerwe van stukkende koppies agter in ‘n kas weg te steek nie.  Die skerwe kan weer aanmekaar gesit word om ‘n nuwe sterker koppie met goue karakterlyne te maak. 

My gebreekte koppie het my emosioneel, en meer nog, fisies siek en moeg gemaak. Al het ek duisende mense gehad wat my koppie met gebede, hoop, liefde, vriendskap, ondersteuning, bemoediging en inspirasie volgemaak het was dit net nie vir my moontlik om weer vir ander uit my stukkende koppie te skink nie. 

Pas jou eie koppie op, vul die krake met goud. Dit is makliker om uit ‘n halwe maar heel koppie te skink as om eindeloos die uitgeloopte inhoud van ‘n gekraakte koppie terug te kry en weer te probeer skink…

Vorige artikelBore, balans en ballonne
Volgende artikel[Mentorklas VIDEO] Beheer jou woede
Blogger - Bianca Corbett
Bianca Corbett is grondslag fase juffrou in Pretoria. Sy het haar graad in sielkunde in 2010 aan die Universiteit van Pretoria voltooi en in 2017 haar PGCE by Unisa voltooi. Bianca hardloop tans vier groepe op Facebook. Dandelion Prayers wat sy vir haar broer begin het wat in 2017 in 'n motorongeluk was en' n traumatiese brein besering op gedoen het. Sy het ook drie ander groepe "For the love of hiking" wat staproetes doen om geld in te samel vir verskeie liefdadigheids organisasies "For the love of being alive" wat sy saam 'n groep vriendinne begin het waar hulle, oor hulle droomlyste blog. ThreeOh wat 'n groep is waar sy haar passie uit leef, deur fotografie, kunsflyt en blog.