Kragonderbreking

kragonderbreking

“Die krag is af” maak vroulief my vanoggend wakker.

Sy het reeds deur die gordyne geloer en gemerk dat die straat in donkerte gehul is (darem nie weer ek wat vergeet het om krag te koop nie). Die selfoon se wekker het ons gelukkig wakker gemaak, dus het ons minstens nie verslaap nie.  

Ons straat loop eintlik nooit onder beurtkrag deur nie, dus is ons nie goed voorbereid vir dié onverwagse kragonderbreking nie. Met behulp van die selfoon se flitslig is ek die gang af – kombuis toe om die kerse te gaal uithaal en aan te steek. Ek onthou nog waar die parafienlamp, wat nog uit my kinderdae dateer, gebêre is, maar daar is nie ‘n enkele druppel parafien in nie. Ek kry toe darem die lantern wat ons in die somermaande met sitroenella olie brand (om die muskiete weg te hou) aangesteek, maar na ‘n paar skekondes is die bietjie olie wat nog daarin was, opgebrand.   

Kerslig is derhalwe toe maar ons voorland. Die gebruik van die gasstoof verseker dat ons nie sonder ontbyt hoef te wees nie. ‘n Onverwagse ontbyt by kerslig kwalifiseer ongelukkig nie juis vir ‘n romantiese ete.   

Met die Whatsapp boodskappe wat later op ons woonbuurtgroep deurkom, blyk dit toe dat daar groot skade aan elektriese kabels aangerig was en dat die elektrisiteit feitlik die hele dag af sou wees.

Ons afhanklikheid van elektrisiteit as ‘n kragbron het bloot weer die belangrikheid daarvan beklemtoon.  

Net jammer dat ons nie altyd ons afhanklikheid van ons geestelike Kragbron besef nie. Ons is so besig met die aspekte van elke dag se roetine, dat ons glo ons moet maar ons eie planne beraam om teen 100% kapasiteit te funksioneer. Dan… dan kom ons agter ons het nie meer krag nie.       

Ek lees in ‘n paar Psalms dat Dawid hom by verskeie geleenthede in ‘n moeilike situasie bevind het. Gelukkig het hy geweet waar sy krag vandaan kom:

Ps 13:6 – Ek hou vas aan U troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart.

Ps 18:3 – Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil.

Ps 27:1 – Die Here is my lig en my reder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees.?

Ons Kragbron is nie net om vir noodgevalle gebruik te moet word nie. Hy wil ook nie hê dat ek my eie vuurtjie aan die gang moet probeer hou nie. Ons Vader wil hê ons moet soos wingerdlote aan hom geheg wees sodat Sy krag elke dag deur ons kan vloei. Sodat ek elke situasie aan Hom kan onderwerp waar dit soos was in Sy teenwoordigheid sal smelt (Ps 97:5).

Hoe meer tyd ek in Sy teenwoordigheid spandeer, hoe minder kans is daar vir ‘n geestelike kragonderbreking.