Kritiek is nie altyd persoonlik nie

0
159
Leigh_Anne_Williams.jpg

Is jy geneig om kritiek persoonlik te maak? Kritiek gaan nie oor wie jy is nie, het Leigh-Anne Williams self geleer.

Niks was ooit vir my so moeilik soos toe my pa ons gesin verlaat het toe ek ses was nie. Dit was vir my baie moeilik om dit te aanvaar omdat ek baie lief was vir hom; ons was baie na aan mekaar. Van toe af vermy ek situasies waar ek moontlik verstoot kan word, bedoelende, ek is baie versigtig met vriendskappe en verhoudings. Dit neem my baie lank om my hart werklik met iemand te deel.

Gelukkig het ek ’n oupa en ooms gehad wat ten volle toegewyd was aan hulle families. Ek het ook wonderlike vriende wat my help om in te sien dat alle mense met verwerping worstel. Hierdie rolmodelle het my gehelp om sterk genoeg te wees om in die radio- en televisiebedryf te floreer, waar kritiek alledaags is. Ek het geleer dat jy net jou beste kan doen en hard kan werk. As jy die werk kry, wonderlik; indien nie, sal ’n ander deur wel oopgaan.

Toe ek nog jonk was, het ’n groep meisies my eendag oor my haarstyl geterg. By die huis het ek dit dadelik anders begin kam. My ma het toe vir my iets gesê wat ek nooit sal vergeet nie: “Leigh-Anne, as jy jouself vandag verander vir iemand anders, gaan jy jouself vir die res van jou lewe moet verander.” Ek het my hare gelos en na ’n dag of twee het daardie meisies van my vergeet en iemand anders begin spot.

Ek het altyd gedink kritiek beteken dat iemand my nie daar wil hê nie of dat ek nie goed genoeg is nie. As my radiobaas ontevrede was met hoe ek ’n bulletin gelees het, sou ek dink hy is spyt ek is aangestel. Maar miskien het ek net nie daardie dag die bulletin goed gelees nie? Ek moes maar net beter doen met die volgende een. My strategie was net om te verander hoe ek reageer op wat gesê word.

My ma het gesê jy moet kyk of jy iets uit ander se opinies kan leer. Jy moet leer om die woorde wat wel bedoel is om seer te maak, met ’n knippie sout te neem. Nou, in my dertigs, het ek meer vertroue in myself. Ek is mal daaroor dat ek nie meer mense se goedkeuring nodig het nie. Dit kom net met lewenservaring. Die verwerping het my die persoon gemaak wat ek vandag is – iemand met deernis, respek, ambisie en geloof.