Kroekies braai uit

Ek weet nie of dit ’n erkende Afrikaanse spreekwoord is nie, maar ek glo dit met my hele hart: Kroekies braai uit.

As kinders het ons dit altyd gesê as een van ons ses kinders iets verkeerd gedoen het en dit nie vir ons ma en pa wou gaan sê nie. Ek het dit net te veel aan my lyf ervaar dat ’n gekonkel in die donker een of ander tyd aan die lig sal kom. Op een of ander manier kom kruip die verkeerde storie al hoe nader aan die lig en as jy weer sien, staan die ou wat aangevang het hier reg voor almal met die sak patats in die hande.

Hoeveel keer het jy nie al vir iemand ’n geheim vertel nie? Die persoon het op sy hele lewe beloof dat hy dit vir niemand anders sal vertel nie. Dit is egter nie lank nie, dan lê dit die strate vol en voel jy soos ’n pawpaw. Gelukkig werk dit ook met die waarheid. Mense probeer baie keer om die waarheid weg te steek en vir ander ’n rat voor die oë te draai. Maar waarheid kruip altyd uit en kort voor lank staan iemand met ’n rooi gesig rond.

Waarheid is soos ’n dobbertjie wat voor aan ’n vislyn is. Die branders en wind kan hoe hard probeer om dit onder die water te druk, maar elke keer pop dit weer na bo. Die waarheid sal bly seëvier. Somtyds neem dit net ’n bietjie langer.

Net so werk die oneerlike dinge ook. Soos ’n doring in jou vinger. Op die ou end sal die liggaam dit laat sweer en dit self uitdruk.

Baie mense sleep swaar aan gekonkelde dade. Hulle moet baie energie insit om te keer dat dit nie na bo dop nie. Hulle moet dit met alle mag daar in die donker probeer hou. Dit vat baie energie en steel hul vrede. Hul vreugde is lankal by die deur uit. Sommige kan dit nie vat nie en dink daaraan om ’n einde te maak aan alles. Maar daar is ook die spreekwoord wat sê: Die waarheid maak ’n mens vry.

Dalk het dit tyd geword om al die swaar pitte te laat uitsweer, om alles in die donker na die lig te bring. Dit gaan beter wees as wat dit deur iemand anders uit die donker gesleep word. Weet dat God jou sal help om die moeilike pad van herstel te stap.

Ja, dit gaan nie maklik wees nie. Mense gaan seerkry. Jy gaan dalk ’n paar letsels oorhou, maar weet dat dit die regte ding is om te doen.